Green hydrogen scholarships
Green hydrogen scholarships

Potentia wen werwingstender vir Mnyupe se kantoor

Hoë poste beskikbaar by nuwe entiteit
Die werwingsproses vir die kantoor van die implementeringsowerheid vir groen waterstof is aan die gang gesit.
Yandi Du Plessis
Jemima Beukes - Die plaaslike werwingsagentskap Potentia het ’n tender ontvang om die aanstellingsproses te hanteer van agt uitvoerende poste vir die kantoor van die implementeringsowerheid vir groen waterstof (IAO) wat deur die groenwaterstofkommissaris en presidensiële ekonomiese raadgewer, James Mnyupe, gelei sal word.

Potentia se tenderaansoek beloop altesaam N$186 000, met belasting op toegevoegde waarde (BTW) ingesluit. Mnyupe se aanstelling is op 7 Augustus aangekondig en drie dae later het hy gesê hulle het met Potentia saamgespan om “hierdie visioenêre program ’n dawerende sukses te maak”.

Mnyupe het verder gesê: “Ons werk saam met Potentia, ’n bekende agentskap wat spesialiseer in die identifisering van uitsonderlike talent. Ons is op die uitkyk vir dinamiese, passievolle individue wat ons toewyding deel om ’n groener, meer voorspoedige toekoms te skep.”

Hy het ook op LinkedIn die agt uitvoerende poste aangekondig wat hulle gaan werf en het belangstellende kandidate aangemoedig om via e-pos met Potentia in aanraking te kom.

Hierdie poste is hoof van programbestuur; hoof van beplanning, beleid en strategie; hoof van transaksies; tegniese- en konstruksiehoof; hoof van kontrakbestuur; hoof van omgewings-, maatskaplike en bestuursimpak; hoof van regsgeleerdheid, en die hoof van finansies en korporatiewe dienste.

’n Negende posisie, Mnyupe se uitvoerende assistent, is ook beskikbaar.

By navraag het Potentia se eienaar en besturende direkteur, Zayanih Dennis, gesê: “Ons is steeds in gesprek met ons kliënt. Dit is nog te vroeg om kommentaar te lewer.”

FINANSIERING

Mnyupe het verduidelik die agentskap se werwing word deur die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië (EIF) gedoen, omdat donateurs dit so verkies.

“Die regering sien nooit die geld nie. Die EIF is gesertifiseer deur die Green Climate Fund om skenkergeld te hanteer; hulle doen spesiale verslag aan alle skenkers oor alle fondse wat ontvang is,” het hy gesê.

Hy het ook verduidelik die EIF se betrokkenheid is in die stigtingsmemorandum tussen die skenkers en die regering gestipuleer, en is by COP27 aangekondig en toe weer met die Nederlandse premier se besoek aan Namibië in Junie.

Die EIF het die werwingstender op 23 Junie in plaaslike koerante en op sy sosialemediaplatforms geadverteer. Dit het op 21 Julie gesluit.

Volgens Benedict Libanda, uitvoerende hoof van die EIF, is die verkrygingsproses ingevolge die Openbare Verkrygingswet uitgevoer, en die EIF het vier tenderaansoeke ontvang van Transfo-Coaching and Consultant, Potentia Namibia Recruitment, Twahangana HR Consultancy en Elite Employment Recruitment.

“Let daarop dat die EIF in die algemeen as ’n fondsbestuurder funksioneer met betrekking tot skenkersfinansiering. As ’n geakkrediteerde entiteit by die Green Climate Fund is die EIF gemagtig om skenkerfondse te ontvang en te bestuur,” het hy gesê.

KANTOORFONDSE

“Wat die groenwaterstof-IAO betref, verskaf die EIF administratiewe en sekretariële ondersteuning aan [daardie kantoor]. Hierdie ondersteuning sluit finansiële dienste, funksies, menslike hulpbronne en finansiële departementele verantwoordelikhede in.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die IAO met sy eie begroting funksioneer, wat hoofsaaklik uit skenkerfondse bestaan. Die fondse wat vir die werwingsagentskap toegeken word, word geklassifiseer as kantoorfondse, aangewys onder [Namibië se groenwaterstofprogram]. Hierdie fondse word geskenk en is afsonderlik van die EIF se finansies.”

Hy het bygevoeg: “Ons wil beklemtoon dat die EIF, as ’n finansiële instelling en staatsentiteit, die uiterste standaarde van professionaliteit, deursigtigheid, integriteit en aanspreeklikheid handhaaf. Ons prosesse strook met relevante wette, beleide en ooreenkomste om omvattende nakoming daarvan te verseker.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!