Die algemene bestuurder vir Puma Namibia is Adell Samuelson.
Foto Augetto Graig
Die algemene bestuurder vir Puma Namibia is Adell Samuelson. Foto Augetto Graig

Puma Energy bevorder sonkrag

Sonkrag-installasies by vulstasies
Alternatiewe energie-oplossings word vanjaar aan Namibiese besighede gebied.
Augetto Graig
Die brandstofreus Puma Energy, wat tot 70% van die brandstof invoer wat Namibië gebruik en 61 vulstasies landswyd bedryf, beplan om vanjaar sonkrag aan kliënte in mynbou, visserye, vervaardiging en landbou te bied.

Volgens Puma Namibia se algemene bestuurder, Adell Samuelson, is die internasionale organisasie daartoe verbind om Namibië te help om van tradisionele energiebronne na hernubare energie oor te skakel.

Puma behoort aan Trafigura, ’n wêreldleier in kommoditeitshandel, wat ook sal help om sonkragtegnologie aan die Namibiese mark te lewer.

Trafigura bied ook onder meer opsies soos biodiesel en petroleumgas. Hoewel Puma in buitelandse besit is, is dit belangrik dat 100% van Puma se werknemers in die land Namibiërs is, sê sy.

Puma sal sonkrag by 25 van sy vulstasies, depots en terminale installeer, volgens Samuelson.

Die installasies sal altesaam ’n kapasiteit van 781 kWp genereer en sowat 1 337 MWh per jaar kan opwek. Puma beplan om wêreldwyd 200 soortgelyke aanlegte te bou, sê sy.

Verder beplan Puma om by twee geleenthede vanjaar vir kliënte die sonkragopsies voor te lê, wat saam met hul aanbod vir brandstof en smeermiddels gebied word.

Puma bied ook sy e-Puma-stelsels waar kliënte hul besighede aanlyn kan bedryf, insluitend die plasing van bestellings, fakture asook oplossings vir kliënte met vervoer en logistieke vlote, soos digitale rekordhouding van brandstofverkope by Puma-vulstasies.

Puma spog reeds met twee terminale op Walvisbaai waar 130 600 m² brandstof geberg kan word, en waarvandaan al Puma se plaaslike vulstasies van brandstof voorsien word. Puma Energy verskaf ook vliegtuigbrandstof by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako en by die Eros- en Ondangwa-lughawens.

By vulstasies word pompe vervang, handelsmerk-naamborde word opgeknap, geriefswinkels word ontwikkel en werknemers word verder opgelei. Aandag word veral aan die opknapping van toiletgeriewe gegee.

In terme van geriefswinkels het Samuelson gesê Puma werk aan ’n nuwe vennootskap met ’n plaaslike kettingwinkel, maar wou nie nog besonderhede verklap nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!