Russe dring aan op in-situ uraanontginning

Insette tot die Wings-projek kan nog tot 24 Februarie ingedien word.
Augetto Graig
Rusland se reuse Rosatom-uraanmyn- en energiestaatsonderneming se filiale in Namibië bly vasbeslote om die in-situ uitloging myntegniek vir die ontginning van uraan na Namibië te bring.

Hoewel Rosatom se Uranium One Maandag aangekondig het dit het die hofsaak laat vaar teen die minister van landbou, water en grondhervorming se weiering om eksplorasie-boorpermitte vir navorsing in die Stampriet-omgewing toe te staan, sê woordvoerder Riaan van Rooyen dat teenstanders steeds genader word, om die Wings projek te laat voort gaan.

Die groot kwessie is moontlike besoedeling van die belangrike Stampriet-kom weens in-situ uitloging. Laasgenoemde behels die inspuit van chemikalieë om ondergrondse uraan op te los en dan die oplossing uit te pomp. Teenkanting kom veral van die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma) wat onlangs verskeie regeringsbeamptes genader het om voorlopige boorwerk stop te sit.

Die saak teen die ministerie is teruggetrek omdat die wet op waterhulpbronbestuur wat sedert Augustus van krag is, volgens ’n verklaring deur Uranium One “wesenlike veranderinge aan die voorheen ontluikende regslandskap aangebring het”.

“Die maatskappy het besluit om die saak terug te trek ter illustrasie van sy voorneme om die wette van die Republiek van Namibië te volg,” aldus die verklaring. Van Rooyen sonder spesifiek uit dat die wet nou vereis dat boorlisensies elke drie maande hernu moet word. Vrae aan die ministerie van landbou, water en bosbou in dié verband is teen druktyd nie beantwoord nie.

Met verwysing na die Stampriet-kom sê Van Rooyen, “die waterbron is veilig”. Hy verwys na Headspring se navorsing wat die sink van nog sowat 500 eksplorasie boorgate met ’n deursnee van 46 mm behels, met die helfte van die nodige gate wat reeds gesink is. Die boorgate se kernmonsters word deur wetenskaplikes ontleed om die uraanbron se diepte en ligging vas te stel. Toetse word ook gedoen om die diepte, vloei en sterkte van moontlike ondergrondse water te meet. Na tien dae word die boorgate weer met beton gevul en toegestop. Volgens Van Rooyen sit 150 werkers van die boorkontrakteurs nou egter sonder werk, omdat die boorwerk stopgesit is.

Die vestiging van ’n toetsmyn van 15 m by 15 m is deel van die navorsing en daarvoor is die aansoek vir omgewingsklaring ingedien, volgens Van Rooyen. Hy sê die toetsmyn sal die watersirkulasie en die doeltreffendheid van ’n voorgestelde geslote kring toets, voordat die doeltreffendheid van die agent getoets word wat die uraan moet oplos. Swaelsuur, alkaliese of suurstofgebaseerde oplossings kan hiervoor gebruik word. ’n Sirkel boorgate om die projek sal gebruik word om voortdurend die proses te monitor. Sou daar ’n fout wees, sê Van Rooyen, word die oplossing onmiddellik onttrek.

Volgens hom word die stelsels reeds vir jare suksesvol in Rusland en Kazakstaan toegepas. Botswana het ook verlede jaar in dieselfde komstelsel aan Cobre toestemming gegee het om met in-situ eksplorasie boorwerk vir sy Ngami koperprojek voort te gaan.

Die kantoor van die omgewingskommissaris het intussen Dinsdag aangekondig die tydperk vir insette tot die Wings-projek in die Omahekestreek is van 24 Januarie tot 24 Februarie verleng. Dit volg ná ’n aansoek vir ’n omgewingsklaringsertifikaat wat deur Uranium One se filiaal Headspring Investments vir die toetsmyn ingedien is.

Volgens die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme is die omgewingsimpakstudie en die konsep omgewingsbestuursplan by die volgende webwerf beskikbaar: https://www.dropbox.com/scl/fo/b40fk3ethx7uuyfdkcl2e/h?rlkey=d0deq23kxnl3bd07y p5362xj2&dl=0

Insette kan na die ministerie se hoofbewaringswetenskaplike Damian Nchindo gestuur word by [email protected] of bel (061) 284 2717.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!