CLARITY FIRST: Angolan national oil company Sonangol has returned money meant for its oil blocks eyed by Namcor and its partners. PHOTO: REUTERS
CLARITY FIRST: Angolan national oil company Sonangol has returned money meant for its oil blocks eyed by Namcor and its partners. PHOTO: REUTERS

Sonangol gee Namcor se oliegeld terug

Angolese entiteit ongelukkig oor negatiewe publisiteit
Die Angolese nasionale oliemaatskappy het Namcor en sy vennote 48 uur gegee om alle betalings geldig te verklaar, of heeltemal van die ooreenkoms te vergeet.
Yandi Du Plessis
Toivo Ndjebela - Die Angolese nasionale oliemaatskappy Sonangol het N$524 miljoen terugbetaal aan Sungara Energies, ’n gesamentlike onderneming wat in Londen gebaseer is met die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) as mede-eienaar.

Dit ná bewerings dat die betaling aan die Angolese entiteit nie behoorlik in Namibië goedgekeur is nie.

Sonangol is na bewering ontevrede met die omstredenheid waarby sy naam ingesleep is na aanleiding van mediaberigte in Namibië dat betalings aan die maatskappy gemaak is wat nie deur die Namcor-direksie goedgekeur is nie.

Die transaksie ter sprake, van meer as N$100 miljoen, was deel van ’n deposito deur Sungara se vennote om 10% in twee van Sonangol se olieblokke te bekom.

Sungara word in gelyke verhouding deur Namcor, Sequa Petroleum en Petrolog Group besit. Namcor het die N$100 miljoen betaal namens Sequa Petroleum, wie se eie fondse na bewering nie gereed was teen die sperdatum wat Sonangol vir die betaling gestel het nie.

Na aanleiding van kommer dat die transaksie sou platval, het Namcor se besturende direkteur, Imms Mulunga, na bewering besluit om in te tree en die betaling van N$100 miljoen deur Namcor namens Sequa te magtig.

Die Namcor-direksie het Mulunga daarvan beskuldig dat hy dié transaksie sonder die nodige magtiging gedoen het.

IN GOEDER TROU

Na daar wyd berig is oor beskuldigings dat Mulunga die miljoendollar-betaling sonder goedkeuring gemaak het – ’n bewering waaruit ’n ondersoek deur die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) gespruit het – het die Angolese oliemaatskappy na bewering besluit om die geld terug te gee om sy naam te beskerm.

Sequa het glo uiteindelik vir sy eie belang in die olieblokke betaal en Namcor gaan sy N$100 miljoen terugkry.

Mulunga is tans geskors, maar geen van die klagte teen hom hou verband met die Angolese olietransaksie nie.

Hy het sy onskuld in daardie saak volgehou en gesê die transaksie is in goeder trou gedoen en Sonangol het, soos bedoel, die geld ontvang.

Ons susterkoerant Namibian Sun het verneem dat die ACC sy ondersoek na die transaksie afgehandel het en binnekort sal aankondig dat Mulunga van enige korrupsie in die saak kwytgeskeld is.

Sonangol het intussen US$26,7 miljoen (N$524 miljoen) in Sungara se bankrekening terugbetaal en gesê hy wil niks met die geld te doen hê totdat Namcor self die situasie regstel, indien nodig, en bevestig dat die fondse behoorlik goedgekeur is nie.

“Sonangol het Sungara 48 uur gegee om daardie situasie op te klaar, of van die ooreenkoms te vergeet,” het ’n binnestander gesê.

“Hulle is baie ontevrede met hoe hulle naam by die negatiewe publisiteit ingesleep is met die Namcor-drama. Sonangol is ’n internasionale handelsmaatskappy en hulle is baie ernstig oor hul reputasie.”

Die amptenaar het voortgegaan: “Die goeie ding is dat die geld wat Namcor namens Sequa Petroleum betaal het, terugbetaal word. Die opsie was altyd dat hulle daardie geld óf terugbetaal óf dat Namcor Sequa se belang sou oorneem en sy aandeel in die olieblokke sou vergroot.”

RED DIE OOREENKOMS

’n Staatsamptenaar het gesê: “Mulunga loop deur omdat hy daardie betaling gemagtig het, maar eerlikwaar, Namcor sou nie vandag in hierdie ooreenkoms wees as hy nie vinnig opgetree en daardie betaling gemaak het nie.”

Daar is glo algemene konsensus binne die Namcor-direksie om die transaksie te red deur die terugbetaling van die fondse aan Sonangol goed te keur.

Namcor se direksievoorsitter, Jennifer Comalie, het Dinsdag gesê die maatskappy sal binnekort ’n mediaverklaring uitreik oor die status van die transaksie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!