• Tuisblad
  • ENERGIE
  • Talle beleggings nodig vir groenwaterstof-infrastruktuur
Verteenwoordigers van verskeie rolspelers wat by die Daures-groenwaterstofprojek betrokke is. FOTO OTIS DANIELS/FOTO ARGIEF
Verteenwoordigers van verskeie rolspelers wat by die Daures-groenwaterstofprojek betrokke is. FOTO OTIS DANIELS/FOTO ARGIEF

Talle beleggings nodig vir groenwaterstof-infrastruktuur

Logistiek, vervoer voldoen nie aan aanvraag
Die bedryf moet goed gereguleer word om die voordele vir Namibiërs te maksimaliseer.
Henriette Lamprecht
Die energiebehoeftes van die produksie van waterstof kan druk plaas op Namibië se voorsiening van hernubare energie en sal dalk nie die hoë koste van energie in die meer afsienbare toekoms kan takel nie.

Gevolglik sal die groenwaterstofbedryf dalk nie direk die verwagte verligting verskaf wat in die energiesektor nodig is nie, maar dit sal werk verskaf wat meer huishoudings in staat sal stel om energie te bekostig.

Dié inligting is vervat in ’n verslag van die parlementêre staande komitee oor landbou, die omgewing en natuurlike hulpbronne oor die uitrol van groenwaterstofprojekte in die ||Kharas- en Erongostreek.

Hoewel Namibië die potensiaal het om homself as ’n sleutelrolspeler in dié bedryf te vestig, maan die verslag dat sektore soos logistiek, vervoer en tegniese dienste in die land nie in staat is om in die aanvraag van die produksie van groen waterstof te voorsien nie.

Dit verwys ook na ’n tekort aan vaardighede in die bedryf, met talle beleggings wat nodig is vir die infrastruktuur wat vereis word om ’n groenwaterstof-ekonomie te ondersteun. Dit sluit onder meer sonkrag- en windkraginstallasies, paaie en behuising in.

Die beskikbaarheid van grond is ook ’n reuse-uitdaging met betrekking tot dit wat nodig is om so ’n projek te bedryf.

Die verslag beklemtoon die bedryf sal na verwagting beduidende inkomste genereer, werksgeleenthede skep, die ontwikkeling van infrastruktuurontwikkeling aandryf en ook die land se koolstofvoetspoor verminder.

Die bedryf het egter beskerming nodig, met onderdele wat tans in die produksie van groen waterstof gebruik word wat nie bo ander hulpbronne geprioritiseer word wanneer die vraag beperk is nie. Tans ding groenwaterstofproduksie in die plaaslike nywerheidsruimte in gelyke mate mee met ander hulpbronne wat in aanvraag is.

Namibië benodig ook belangrike regulasies en wetgewing om die groenwaterstofbedryf te reguleer.

Een van die regulasies verwys na die rol van plaaslike inhoud in verskaffingskettings en aansporings om plaaslike aanbod te bevorder.

Ander sluit volgens die verslag fiskale raamwerke, wetgewing wat die eksklusiewe ekonomiese sones reguleer, regulasies vir infrastruktuur soos pypleidings, die koördinering van permitte wat met groen waterstof verband hou, asook beroepsgesondheid en veiligheidsmaatreëls in.

Namibië se groen waterstof is vir internasionale uitvoerdoeleindes en nie vir plaaslike of streekmarkte nie. Dit sal na Europa, Japan en Suid-Korea uitgevoer word.

Namibië sal egter in die jare wat voorlê sy kapasiteit vir hernubare energie moet versnel om in die vraag van die groeiende bevolking te voorsien.

Volgens die verslag kan oorvloedige hernubare krag bykomende kapasiteit vir plaaslike gebruik vrystel wat die koste van elektrisiteit verder kan verlaag.

Met verwysing na die Daures-groenwaterstofprojek, sê die verslag die produksie van groen waterstof bied Namibië die geleentheid om plaaslike energiesekuriteit te verhoog.

Daures vervaardig kunsmis op klein skaal, met Namibië wat ’n plaaslike bedryf vir produkte soos ammoniak kan bou. Laasgenoemde kan gebruik word vir die bemesting van groenskemas en om armoede verder te verminder en voedselsekuriteit te bevorder.

Die verslag maak ook melding van Clean Energy Solutions Namibia wat besig is om Afrika se eerste groenwaterstofvulstasie op Walvisbaai te vestig.

Alhoewel projekte bereid is om al die sonkrag wat opgewek word op die nasionale netwerk te laai, is dit tans nie moontlik nie.

Die inkomstebelasting wat op hernubare energietoerusting en onderdele soos termostate, panele, elektroliseerders en omskakelaars betaal word, is volgens die verslag baie duur.

Die onderdele moet dikwels vervang word weens slytasie as gevolg van uiterste weerstoestande. Dit moet ook gereeld herstel en gediens word, iets wat ’n duur proses is weens die hoë belasting op hierdie produkte.

Deur in groen waterstof te belê, wil Namibië werksgeleenthede skep, ekonomiese groei ’n hupstoot gee en bydra tot die bekamping van klimaatsverandering, maar die verslag maan dit moet goed gereguleer word om voordele vir Namibiërs te maksimaliseer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!