President Hage Geingob het in November verlede jaar die multimiljard-dollar groen waterstof-projek in Glasgow, Skotland, aangekondig. Foto Namibian Presidenvy
President Hage Geingob het in November verlede jaar die multimiljard-dollar groen waterstof-projek in Glasgow, Skotland, aangekondig. Foto Namibian Presidenvy

Tender vir groen waterstof nié deursigtig, sê IPPR

Kommisaris reageer op besware
Die IPPR bevraagteken waarom 'n metode waar versoeke om te tender ingedien moes word, pleks van 'n oop tenderproses, gebruik is.
Ogone Tlhage
Die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR) het die regering daarvan beskuldig dat hulle besonderhede weerhou in verband met die tenderproses vir die land se eerste groen waterstof-projek.

Die IPPR het die kantoor van die president – onder wie die kommissaris vir groen waterstof, mnr. James Mnyupe, werk – bevraagteken oor waarom ‘n metode waar versoeke om te tender ingedien moes word, pleks van ’n oop tenderproses, gebruik is.

Mnyupe het intussen gereageer en gesê hy verskaf graag duidelikheid oor die wyse waarop die tender geadverteer, geëvalueer en toegeken is "in soveel detail as moontlik, waar moontlik. Ek vra die IPPR om verskoning dat ek hulle navrae gemis het, dit was nie die bedoeling om ondeursigtig te wees nie, maar 'n onskuldige oorsig aan my kant".

President Hage Geingob het in November 2021 aangekondig die tender is aan die nuutgestigte maatskappy Hyphen Energy toegeken. Die bod is vir ‘n konsessie van 40 jaar om die regering se groen waterstof-projek van US$9,4 miljard (N$137 miljard) af te skop.

Hyphen het glo voorkeurbieërstatus op 4 000 vierkante kilometer grond binne die Tsau //Khaeb Nasionale Park gekry vir ‘n aanleg om groen waterstof te vervaardig.

Hyphen beweer sy terrein is onder die top vyf hulpbronryke liggings in die wêreld vir saamgeleë aanlandige wind- en sonkrag, en is ideaal vir die ontwikkeling van Suider-Afrika se eerste groen waterstof-projek op gigawatt-skaal. Op volle skaal het die projek ten doel om 300 000 metrieke ton groen waterstof uit 5 gigawatt hernubare opwekkingskapasiteit te vervaardig, het die maatskappy gesê.

DEURSIGTIGHEID

Die IPPR het die gebrek aan deursigtigheid oor wie die ander bieërs vir die projek was, bevraagteken en het bygevoeg ‘n tender-evalueringsdokument is vier maande ná Geingob die aankondiging gemaak het nog nie uitgereik nie.

Die IPPR het in sy Procurement Tracker bevraagteken hoe Hyphen, wat destyds nog net vir ses maande operasioneel was en volgens die instituut geen konkrete rekord gehad het nie, die kontrak vir die projek gekry het.

“Volgens die regulasies vir openbare verkryging is ‘n openbare entiteit veronderstel om binne sewe dae ná die tendertoekenning ‘n kennisgewing van verkryging en die opsomming van die tender-evalueringsverslag op sy webwerf te publiseer. Geen sodanige kennisgewing of opsomming is op die Nasionale Beplanningskommissie of die kantoor van die president se webwerwe gepubliseer nie,” het die IPPR gesê.

“Geen kennisgewing of opsomming is deur die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) gepubliseer nie. Dié opsomming van die evalueringsverslag sal die tenderdatums en sperdatums, die aantal bieërs en hul name, hoeveel bieërs Namibies of gesamentlike ondernemings was, elke tender se basiese besonderhede, die regverdiging vir toekenning, die kontrakbedrag en kontraksperdatums sowel as die verkrygingsmetode wat gebruik is, insluit.”

REAKSIE

Mnyupe het in sy amptelike reaksiebrief gister gesê artikel 17 van die Wet op Natuurbewaring bemagtig die minister van die omgewing, bosbou en toerisme om 'n hernubare kragbron te vestig met die doel om onder meer "die omgewing te beskerm of klimaatsverandering te bekamp".

Hy het verduidelik dié wet maak voorsiening vir die toekenning van tenders vir die bogenoemde doel "deur middel van billike, mededingende en deursigtige meganismes"

"In wese het die Wet (op Natuurbewaring) die ruggraat gevorm van die deursigtige proses wat gebruik is om plaaslike, streek- en globale rolspelers te betrek om met die Namibiese regering saam te werk om klimaatsverandering te bekamp deur gebruik te maak van Namibië se natuurlike hulpbronne. Die owerheid in beheer van die kontrak was dus die ministerie en nie die kantoor van die president soos die IPPR se artikel voorstel nie."

Die kommissaris het verduidelik die tendertydperk van 3 Augustus tot 16 September verlede jaar het belangstellendes 'n maand en 'n half gegee om voorstelle in te dien. Nadat dié tendertydperk verby was, het die Namibiese regering internasionale kundiges betrek om die plaaslike kundiges ('n tender-evalueringskomitee is saamgestel) te ondersteun om alle tegno-ekonomiese en kwalitatiewe aspekte van die voorleggings te hersien. ’n Dubbelkoevertstelsel is gebruik waar slegs bieërs wat minstens 50% in die tegniese aspekte behaal het, gekwalifiseer het vir die volgende fase van die proses. Die finale bevindinge en aanbevelings is aan die Groenwaterstofraad (GHC) voorgelê, wat die kabinet toe ingelig het. Nadat die kabinet die GHC se aanbevelings goedgekeur het, is die voorkeurbieër aangekondig. Na die toekenning is 'n gebruiklike stilstandtydperk van 7 dae nagekom om enige van die bieërs 'n geleentheid te gee om die proses uit te daag. Daar was egter geen sulke gevalle nie, "inteendeel, baie van die onsuksesvolle bieërs het die Namibiese regering gelukgewens met die professionele proses wat uitgevoer is en gaan voort om dit vandag op verskeie openbare forums te doen".

Hy het bygevoeg dit is noemenswaardig dat voorkeurbieërstatus aan Hyphen toegeken is, maar finale onderhandelinge is nog aan die gang en die proses is dus nie voltooi nie. 'n Tweede voorkeurbieër is geïdentifiseer en sou onderhandelinge met Hyphen misluk, sal konsultasies met die tweede voorkeurbieër begin.

Wat die beskuldigings van ondeursigtigheid betref, het Mnyupe gese die beleid oor toerisme- en wildlewe-konsessies op staatsgrond verskaf riglyne oor verskeie aspekte wanneer konsessies in 'n mededingende proses toegeken word.

"Die regering is vol vertroue dat die tenderproses wat in Augustus 2021 van stapel gestuur is, die gees van beide die natuurbewaringswet, die beleid oor toerisme en wildlewe-konsessie op staatsgrond en die Wet op Openbare Verkryging is. Die tender is regstreeks op verskeie plaaslike en internasionale mediaplatforms aangebied en nie in die geheim gedoen nie. Die resultate is in die openbare media aangekondig. Om sy begeerte vir deursigtigheid verder te versterk, het die regering 'n toegewyde webwerf geskep wat hierdie reis dokumenteer vir almal om te sien en te volg. Die tenderdokument was vir die publiek beskikbaar, 20 belangstellendes het die dokument gekoop en 6 bieërs het voorstelle ingedien.

"Ons is dankbaar vir die groot belangstelling wat getoon word in die regering se ambisie om Namibië te industrialiseer en ons verwelkom enige verdere navrae oor hierdie aangeleentheid," het hy ten slotte geskryf. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!