Twin Hills tussen berge van goud
Lewensduur van 13 jaar verwag
Die konstruksie van die grootste goudmyn in Namibië sal vroeg volgende jaar buite Karibib begin.
Die goue toekoms vir Namibië se derde, en verwagte grootste goudmyn kruip nader, met die viering van die verkoop van die massiewe Twin Hills-projek en Osino Resources, aan Shanjin International Gold.
’n Skenking van N$18 miljoen aan die Twin Hills-trust is Vrydag by Droombos buite Windhoek aangekondig om die geleentheid te vier.
Die filiaal van China se tweede grootste goudprodusent, die staatsbeheerde maatskappy Shandong Gold, se transaksie van 368 miljoen Kanadese dollars (N$4,75 miljard) is die eerste internasionale uitbreiding van Shanjin, wat reeds vier goudmyne en ’n silwermyn in China besit.
“Shanjin” is uit die Chinese woorde vir “berg” en “goud” saamgestel, en is sedert Julie die nuwe naam van die maatskappy, wat voorheen bekend gestaan het as Yintai Gold.
Ou Xingong, Shanjin se hoof, sê 2024 lyk reeds beter as die vorige jaar, wat sowel produksie as winsgewendheid betref. Hy sê Shanjin se bestaande myne is ook deur internasionale spanne gebou en ontwikkel, dus is internasionale samewerking nie vreemd vir die maatskappy nie.
Twin Hills sal egter “die maatskappy se springplank wees om internasionale beleggings te bevorder”.
“Van Namibië na die wêreld,” sê hy.
Ou sê die transaksie “val binne die Chinese herfs en die Namibiese lente, oestyd vir China en plaaslik die seisoen van hoop”.
Teen vier miljoen onse goud in die grond wat ontgin moet word, word ’n lewensduur van 13 jaar vir die Twin Hills-goudmyn verwag, sê hy.
Volgens Osino se stigter en waarnemende uitvoerende hoof, Heye Daun, het Shanjin reeds sowat 400 miljoen Kanadese dollars belê om onder meer die kansellasiekoste van Osino se vorige verbintenis tot potensiële koper Dundee Precious Metals te dek, en ook vir verdere eksplorasieboorwerk.
Volgens Daun was die finale verkoopbesluit bloot nadat Shanjin ander kopers uitgestof het.
“Ons was baie beïndruk met hul benadering. Hulle het hul huiswerk gedoen en selfs vir my en die span gevra om aan te bly,” sê hy.
Dié Namibiër, wat voor die stigting van Osino reeds sukses behaal het met die ontdekking, ontwikkeling en verkoop van die Otjikoto-vlagskipmyn aan B2Gold, sê meer as 20 Osino-aandeelhouers is nou Namibiese dollarmiljoenêrs.
Sedert die stigting in 2016, het Osino 130 miljoen Kanadese dollars ingesamel en bestee aan die ontwikkeling van die projek tot by die konstruksie van die myn.
Daun sê meer as 350 000 meter is geboor en vier tegniese studies is gedurende hierdie tydperk voltooi, maar “finansiering vir die bou van ’n myn is nie dieselfde as die finansiering van eksplorasie nie,” sê hy.
Osino se 120 werknemers is die afgelope agt jaar deur “bloed, sweet en trane. Dit was rof en ek waardeer Shanjin wat nou ingespring het om die swaar take te behartig,” sê Daun.
Die bou van die myn sal na verwagting vroeg volgende jaar afskop en sal volgens Ou se beplanning meer as 1 000 werknemers in diens neem, meer as 90% Namibiërs.
Hy sê tydens die produksiefase sal tussen 600 en 800 werknemers in diens geneem word, terwyl eksplorasieteikens noord van die myn voortdurend ondersoek sal word.
“Dit sal die grootste goudmyn in Namibië wees,” sê hy.
Die nuwe besturende direkteur van die myn, Tony Zhang, sê: “Ons beplan nie om Chinese maatskappye in te bring om die myn te bou nie. Ons wil alles so plaaslik as moontlik hou. Die kontrakteurs sal die mense aanstel,” sê hy.
“Ons wil die vinnige pas met die aanstelling van kontrakteurs handhaaf,” het hy verder gesê.
Volgens Daun behoort die kontrakteurs voor die einde van die jaar gekies te word. Hy noem egter dat dit ’n reuseprojek is wat glo groot toerustinginvoere uit China sal insluit en verskeie bieërs na die oop tenderproses sal lok.
“Dit is groot genoeg vir almal,” voeg hy by.
Daun sê die bou van ’n nuwe gemeenskapsentrum vir Karibib se Usab-nedersetting is die eerste groot projek vir die Twin Hills-trust.
– [email protected]

Kommentaar