Vonke in kragskok
Prys styg met 7% op 1 Julie
Streekverspreiders soos Erongo RED, plaaslike owerhede en myne sal N$1,82 per kilowatt-uur betaal.
'n Verhoging van sewe persent in die prys van grootmaat-elektrisiteit is gister op die tam skouers van reeds lam Namibiese verbruikers en besighede gelaai.
Volgens die waghond in die bedryf is moeite gedoen om die skok te verlig in 'n ekonomie wat steeds ver van op al sy silinders loop.
Die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) se waarnemende uitvoerende hoof, me. Rachel Boois, het gister die nuwe tarief aangekondig vir kliënte wat elektrisiteit op grootmaat van NamPower aankoop.
Streekverspreiders Erongo RED, plaaslike owerhede en myne sal nou 7,3% meer moet opdok, ofte wel N$1,82 per kilowatt-uur (kWh), teenoor die vorige tarief van N$1,69 per kilowatt-uur. Die verhoging tree op 1 Julie in werking en tyd sal leer wat die prysaanpassing vir verbruikers behels. Sulke verhogings word afsonderlik goedgekeur.
Boois het die aankondiging saam met die raad se bestuurder vir tegniese regulasies, mnr. Rojas Manyame, en die bestuurder van ekonomiese regulasies, mnr. Pinehas Mutota, by die ECB se hoofkantoor in Windhoek gemaak.
Sy sê NamPower het vir ’n verhoging van 12,78% aansoek gedoen, wat die prys tot N$1,91 sou opstoot.
Die ECB het verskeie faktore met die tariefaanpassing in ag geneem, insluitend die impak van die Covid-19-pandemie op nywerhede, verbruikers en die ekonomie.
“Die ECB is bewus van goedere en dienste se pryse wat styg, en die negatiewe uitwerking daarvan op verbruikers,” het sy gesê.
Boois sê die kragtarief is in die 2019-’20-boekjaar verlaag, het in 2020-’21 onveranderd gebly en is in 2021-’22 met 2,29% verhoog.
“Die jaarlikse hersiening van die elektrisiteitstarief word gedoen om te verseker nutsmaatskappye vra toepaslike tariewe om genoeg te verdien om volhoubare dienste teen kostedoeltreffende pryse te kan lewer,” sê sy.
Die ministerie van myne en energie het ingestem om N$100 miljoen vanuit die nasionale energiefonds beskikbaar te stel om NamPower se veranderlike koste te help dek en sodoende die impak van die prysverhoging op verbruikers te versag, sê sy.
Die laaste twee jaar is N$85 miljoen uit die fonds vir langtermynvoorsiening vir marginale koste beskikbaar gestel waarmee NamPower ook die verbruiker teen prysverhogings beskerm het.
In 2020 is N$500 miljoen uit dié fonds aan NamPower toegeken, waarvan N$342 miljoen vir die bou van die Omburu-sonkragaanleg aangewend is.
Omburu is einde Maart in gebruik geneem en lewer nou die goedkoopste krag in Namibië.
Die oorblywende N$158 miljoen is geoormerk vir die gedeeltelike finansiering van ’n 40 MW-windkragaanleg wat NamPower binnekort sal verkry, sê sy.
NamPower mag nie opbrengste of waardevermindering op dié bates verhaal nie, en dit sal bydra dat verbruikers tot N$1 miljard oor die volgende 30 jaar sal spaar, sê sy.
Voorsiening is ook nie in vanjaar se tariefverhoging gemaak vir die invordering van die N$500 miljoen nie.
Volgens Mutota beplan NamPower twee windkragplase; een wat hy self wil bou, en een wat ’n onafhanklike kragopwekkingsmaatskappy sal bou en bestuur.
Hy het ook gesê Namibië het sy afhanklikheid op Eskom in Suid-Afrika verminder. Volgens ’n ooreenkoms met Eskom kon Namibië die vorige drie jaar 200 MW per jaar invoer.
Die kontrak met Eskom het in Maart ten einde geloop en die nuwe kontrak stipuleer dat Namibië 100 MW per jaar kan invoer. Namibië kry nou ’n bykomende 80 MW vanaf Zambië om vir die tekort op te maak.
“Die situasie is nie soos ons dit wil hê nie. Die regering wil hê ons moet na ’n meer selfvolhoubare vlak beweeg, maar intussen sal ons aanhou krag vanaf die streek invoer, terwyl ons voortgaan met die bou van ons eie kragbronne,” het Mutota gesê. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie