Vulstasies knou Namcor

Augetto Graig
Die nasionale oliemaatskappy Namcor skuld sy internasionale krediteure vir brandstofhandel sowat N$1,9 miljard, wat die maatskappy se voortbestaan bedreig.

Namcor se waarnemende uitvoerende hoof, Shiwana Ndeunyema, het gister ’n mediakonferensie belê om die situasie en Namcor se beroep op die regering vir ’n reddingsboei, uiteen te sit.

Die situasie spruit uit die opskorting van die brandstofheffing van 7,6 sent per liter, wat Namcor sedert 2010 geniet.

Ndeunyema voeg egter by die 2022-boekjaar was baie moeilik vir Namcor, spesifiek weens ’n verlies van N$700 miljoen, wat op 31 Maart 2023 aan die einde van die boekjaar aangeteken is. Op dié datum het Namcor reeds sy internasionale brandstofbronne sowat N$2,5 miljard geskuld.

Die oortreding van interne beheermaatreëls, onvoorsiene valuta en internasionale brandstofprysveranderinge het bygedra tot die aankoop van brandstof teen pryse hoër as die gereguleerde plaaslike pryse.

Met kliënte wat brandstof op grootmaat op kontrak by Namcor koop, verskaffingsooreenkomste tussen besighede, verpligtinge vir heruitvoere, en die voorsiening van sy eie en ander langtermyn-kleinhandelaars, het die Namcor-raad reeds verlede jaar verliese opgemerk.

Die situasie is vererger aangesien Namcor sy bedryfskapitaal gebruik het om sy vulstasie-uitbreiding te finansier.

Dit het nog minder vir die aankoop van brandstof gelos, en steeds slegs 16 uit ’n benodigde 33 vulstasies gelewer, met nog drie wat tans onder konstruksie is.

Die raadsvoorsitter, Jennifer Comalie, sê daar was egter vroeg vanjaar ’n aansienlike toename in verliese en die raad het besluit om tussen laat April en vroeg in Mei ’n ondersoek van stapel te stuur.

Ses tot sewe maande later is die ondersoekverslag aan die raad voorgelê, en volgens haar lig dit die oortredings uit. Die raad oorweeg tans wie en hoe om betrokke beamptes aanspreeklik te hou.

Die oorsaak van die verliesmakende aankope was deels weens die oortredings, deels doelbewus en deels weens ’n gebrek aan begrip van hoe om die risiko’s van brandstofaankope op die internasionale mark te verminder, sê sy.

Oor die afgelope maande het Namcor daaraan gewerk om sy skuld te vereffen en te verseker die oliemaatskappy kan steeds brandstof invoer, sê Ndeunyema.

’n Vastetermyn-ooreenkoms met ’n internasionale brandstofverskaffer is gesluit om ruimte te skep vir die regering om as aandeelhouer te kan intree, brei hy uit.

Volgens Comalie is die regering en die ministerie van myne en energie genader om of kapitaal vir bedryfskostes te bied, of ’n waarborg, of ’n kombinasie van die twee, om Namcor te red.

Ndeunyema sê egter Namcor se bedrywighede in die olie-eksplorasie- en produksiebedryf vorder goed, met bates van N$7 miljard. Comalie het uitgebrei oor die ooreenkoms met Sonangol vir aandeelhouding in olieblok 1506.

Namcor het sy verpligte US$10 miljoen betyds betaal, en nog US$6,7 miljoen namens ’n ander vennoot in die ooreenkoms, wat sedertdien terugbetaal is, sê sy.

Nogtans is alles nog nie tot op datum betaal nie, en Sonangol het ook nog nie al sy verpligtinge in terme van toestemming en regulasies nagekom nie. Die partye het ooreengekom om die sperdatum uit te stel, sê sy, alhoewel dié datum nog nie bekend is nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!