Iipumbu Shiimi
Iipumbu Shiimi

Wanbetalers se ligte bly (vir eers) aan

Shiimi 'boelie' glo NamPower se direksielede
Die nasionale kragverskaffer het Maandag 'n openbare aankondiging gemaak dat hy besluit het om sy ontkoppelingsplan tot einde Augustus vanjaar op ys te plaas.
Yandi Du Plessis
Tuyeimo Haidula - Na aanleiding van die minister van finansies en staatsondernemings, Iipumbu Shiimi, se optrede, is die kabinet daarvan beskuldig dat hy NamPower “geboelie” het om die opskorting van kragtoevoer te staak en om nooit die verskaffing van nutsdienste aan verskeie wanbetalende plaaslike owerhede op te skort as ’n manier om uitstaande skuld in te vorder nie.

NamPower het aanvanklik Shiimi se opdrag geïgnoreer om nié wanbetalers se krag af te sit nie en het verlede week Maandag sy skuldinvorderingsplan in werking gestel.

Simson Haulofu, die besturende direkteur van NamPower, het verlede week gesê die nasionale kragverskaffer se direksie het besluit om voort te gaan met die geskeduleerde kragonderbrekings.

“Na behoorlike oorweging het die direksie eenparig besluit om sy fidusiêre verantwoordelikhede teenoor die maatskappy uit te oefen en om die belange van die maatskappy en belanghebbendes te beskerm,” het Haulofu gesê.

NamPower het egter die afgelope Maandag ’n U-draai oor sy besluit gemaak en ’n openbare aankondiging gemaak dat hy besluit het om sy ontkoppelingsplan tot einde Augustus vanjaar op ys te plaas.

Haulofu het gesê NamPower se direksie en bestuur het op 8 Junie met Shiimi oor die kwessie vergader.

By dié vergadering het Shiimi glo verduidelik hoe die regering beplan om NamPower by te staan om die uitstaande skuld in te vorder.

“Die regering se program om nodige maatreëls te implementeer, is in werking gestel en sal tot einde Augustus 2023 duur. Die minister sal voorts die nodige aanbevelings aan die regering voor einde Augustus oor die kwessie maak,” het hy gesê en bygevoeg die publiek word ingelig dat die geskeduleerde kragonderbrekings eers gestaak sal word.

Intussen het NamPower weer eens ’n beroep op sy wanbetalende kliënte gedoen om hul gelde te betaal om die maatskappy in staat te stel om voorts sy mandaat te kan nakom, naamlik om sekerheid van kragvoorsiening aan die land te verseker.

INMENGING

Die besluit om die opdrag te gehoorsaam is nie met ope arms begroet nie – met sommige direksielede wat sê Shiimi se instruksies is gelykstaande aan die regering se inmenging in die bestuur van kommersiële openbare ondernemings.

“Almal weet die versuim om skuld in te vorder, sal onbedoelde gevolge hê. Is dit wat die regering wil hê? Die direksie het bloot probeer doen wat in die beste belang van die korporasie is om gevalle te vermy soos dié van Air Namibia, waar NamPower hom in ’n posisie kan bevind waar hy nie met sy bedrywighede kan voortgaan nie,” het een van die direksielede gesê.

Nog een het gevra: “Het die kabinet in ag geneem dat, indien die uitstaande skuld nie vereffen word nie, NamPower die uitdagings in die gesig staar wat buurlande soos Zimbabwe met Zesa en Suid-Afrika met Eskom tans ervaar?

Die direksielid het verder aangevoer dat die kabinet net sowel die onderneming kan bestuur as hulle nie die direksie se besluit kan respekteer om die volhoubaarheid van NamPower te verseker nie.

“Ons is onafhanklike direkteure en die besluite wat ons neem, is tot voordeel van die korporasie en die land as geheel. Hy het in die parlement gepraat en die nasie verseker dat daar geen kragonderbrekings sal wees nie, en dit voordat hy die kwessie met NamPower bespreek het en ’n ooreenkoms bereik is.”

Shiimi het vrae geïgnoreer oor bewerings dat hy die direksie boelie en het gesê die publiek sal oor die uitkomste ingelig word sodra die regering met NamPower en NamWater vergader het.

“Sodra alle belanghebbendes, insluitend NamPower en NamWater, ooreengekom het oor die pad vorentoe, sal die publiek ingelig word,” het hy gesê en bygevoeg dat vrae aan sy ministerie in die toekoms aan hul woordvoerder gerig moet word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!