Xinfeng behou mynlisensie

Augetto Graig
Die hof het gister beslis die omstrede Chinese litiummynbouer Xinfeng Investments is geregtig om sy mynboulisensie (ML) 243 vir sy oopgroefmyn buite Omaruru te behou.

In regter Ramon Maasdorp se uitspraak het hy gesê die minister van myne en energie, Tom Alweendo, was nie gemagtig om dié lisensie te herroep nie, voor hy nie die hof genader het nie.

Maasdorp het ook beveel dat die minister die regskoste van die ander party moet betaal.

Xinfeng het egter nie ’n volslae oorwinning behaal nie, aangesien die regter bevind het die mynbouer sal wel antwoorde moet verskaf rakende die prima facie (met die eerste oogopslag)-bewering dat die mynbouer nie volkome eerlik was in sy aanvanklike lisensie-aansoek nie.

Dié kwessie sal met die voortsetting van die saak hanteer word, noudat die dringende aansoek – om die minister te keer om nie die lisensie nietig te verklaar nie – afgehandel is.

Die waarnemende uitvoerende direkteur van myne en energie, Bryan Eiseb, wou ná die uitspraak nie veel oor die saak uitbrei nie.

“Kom ons bestudeer die redes,” het hy gesê.

Maasdorp het gesê die redes vir sy uitspraak sou gistermiddag op die ministerie van justisie se elektroniese stelsel opgelaai word.

Xinfeng se myn is sedert Desember nie operasioneel nie nadat ’n aansoek om sy werksprogram aan te pas, tot dusver nie deur die minister goedgekeur is nie.

Die mynbouer het intussen ’n nuwe oopgroefmyn op afgepende myngrond (kleims) buite Uis begin bou.

Xinfeng – wat as ’n voorloper in die litiumstormloop in Namibië beskou word – se wedren is tydelik kortgeknip nadat Alweendo verlede jaar die uitvoer van sy onverwerkte litiumerts na China gestaak het.

Die kabinet het vroeër vandeesmaand die verbod op ertsuitvoere ondersteun en die lys uitgebrei om ander minerale in te sluit.

Nog ’n Uis-mynbouer, Andrada Mining, vorder ook met sy planne om sy tinverwerkingsaanleg aan te pas om litium- en tantaalkonsentraat te vervaardig. Dié mynbouer het gister aangekondig dat die bouwerk vinnig vorder en dat hulle op skedule en binne die begroting teen volgende maand die konsentraat behoort uit te kan voer.

Andrada – wat in Suid Afrika en in London genoteer is – het ook verlede week gereageer op bewerings dat hy sonder goedkeuring skietwerk op die dorp uitvoer.

Die mynbouer sê egter dat hy tans net op sy mynboulisensie (ML) 134 skietwerk doen. Andrada besit ook mynboulisensies ML 129 en ML 133.

“Die betrokke voorgestelde skietwerk hou verband met ML 129 (Spodumene Hill/B1C1). Die voorbereidings vir die skietwerk het binne die mynlisensiebepalings plaasgevind en meer spesifiek, die perseel is 11 km buite Uis.

“Die lisensiegebied val binne die jurisdiksie van die tradisionele owerheid, vandaar die maatskappy se direkte verbintenis met die kantoor. Konsultasies is gehou met die mense wat op ’n gereelde of permanente basis in die gebied woon – in die teenwoordigheid van die tradisionele owerheid se hoof.

“Boonop is ’n toestemmingsbrief van Telecom Namibia ontvang voor voorbereidings vir die skietbedrywighede. Andrada Mining het verseker dat die skietbestuurders van BME almal geldige skietkaartjies en afsprake gehad het,” het konsultant Cath Drummond namens die mynbouer gesê.

Australië se Askari Metals Limited ontwikkel ook sy eie litiumprojek op Uis, met eksplorasielisensies EPL 7345 en EPL 8538 wat tussen Andrada se lisensies op Uis geleë is.

Intussen het die Kanadese onderneming Moonbound Mining ook onlangs by die stormloop aangesluit. Hulle het met Continental Lithium African Development Corporation, ook van Kanada, ooreengekom om kleims tussen Uis en Kaap Kruis te ontwikkel.

Australië se Prospect Resources is ook in die wedloop met sy eie litiumprojek buite Omaruru, terwyl Lepidico ook vordering maak met sy Karibib-litiumprojek, waar hy teen volgende jaar met bouwerk op die myn wil begin. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!