Die minister van myne en energie, Tom Alweendo, skakel die kragtoevoer na die Masambo primêre skool in Kongola aan.Foto MME
Die minister van myne en energie, Tom Alweendo, skakel die kragtoevoer na die Masambo primêre skool in Kongola aan.Foto MME

Zambezi-skool kry krag

Augetto Graig
Die minister van myne en energie, Tom Alweendo, het verlede week amptelik die ligte aangeskakel en kragtoevoer na die Primêre Skool Masambo op Kongola verseker.

Alweendo het die Zambezistreek besoek waar hy die veldtog bevorder het om staatsgeboue van elektrisiteit te voorsien. Sedert die 2023-’24-boekjaar is verskeie skole, kiesafdelingskantore en boorgate in die streek van krag voorsien.

“Hierdie poging is in ooreenstemming met die ministerie se omvattende doelwit om teen 2040 universele toegang tot elektrisiteit te bereik,” sê hy.

Volgens hom vorder die minister met sy poging om kragtoevoer oraloor Namibië aan openbare geboue soos skole, klinieke en staatsinstellings teen die einde van die 2025-’26-boekjaar te voltooi.

Tien skole in die streek, waar elektrisiteit nog nie beskikbaar is nie, is almal ondersoek, en voorbereidings is getref om dié skole aan die nasionale kragstelsel te koppel.

“’n Bedrag van N$14,1 miljoen is bewillig vir die elektrifisering van die oorblywende skole wat nie kragtoevoer het nie,” het hy gesê.

Ten spyte van die huidige fokus op kragvoorsiening aan skole, word die grondwerk vir huishoudelike aansluitings in die streek ook gedoen, met N$3,7 miljoen wat hiervoor vanaf die sentrale regering aan die streek beskikbaar gestel is, sê hy.

Verder sal die streek ook baat by die toelaagfinansiering van die Duitse regering, deur die KFW Bank, vir die voorstedelike kragvoorsiening in Choto Uitbreiding 7 en 8 op Katima Mulilo, teen ’n bedrag van N$22 miljoen,” sê Alweendo.

“Soos ons vandag hierdie skakelaar aanskakel, begin die werklike werk; om die voordele van kragtoevoer vir alle huishoudings te verseker, volhoubaarheid te bevorder en lewens te verbeter.

“Saam kan ons voortbou op hierdie momentum en werk aan ’n toekoms waar elke deel van die nasie by die vooruitgang baat,” sê die minister.

Die minister het vroeër met die goewerneur van die Zambezistreek, Lawrence Sampofu, en die streekraadsbeamptes vergader.

Daar is aangekondig dat die streek N$17,8 miljoen vir hierdie boekjaar, vir die uitbreiding van kragvoorsiening, bewillig het.

Alweendo het in Katima Mulilo ’n beroep op die streekleierskap gedoen om elektrifisering te bespoedig.

Sampofu het beklemtoon dat die streek vertragings in projekte ervaar wanneer die reënseisoen aanbreek en gebiede waar skole geleë is oorstroom.

Alweendo het egter daarop aangedring dat soveel as moontlik gedoen moet word voor die reën kom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!