• Tuisblad
  • Gebeure
  • Kompetisies goeie leerskool vir jong wiskundiges, wetenskaplikes

Kompetisies goeie leerskool vir jong wiskundiges, wetenskaplikes

NCRST se aanlyn registrasies nou oop
Borgskappe van meer as 'n miljoen is nodig om jong uitblinkers aan die wêreldverhoog bloot te stel.
Augetto Graig
Registrasie vir die Nasionale Raad vir Navorsing, Wetenskap en Tegnologie (NCRST) se wetenskap- en wiskunde-skouspelgeleenthede is vanaf 17 Februarie aanlyn moontlik.

Registrasie vir vanjaar se wetenskapskou duur tot 30 April, terwyl registrasie vir die Namibië Wiskunde Olimpiade tot 17 Maart gedoen kan word, en vir die nasionale wetenskapvasvra kan belangstellendes tot 20 April registreer.

Die NCRST se departement menslike en institusionele ontwikkeling, wetenskap- en tegnologiebevordering organiseer jaarliks hierdie geleenthede wat die jong wetenskaplikes en ontluikende wiskundekenners identifiseer en vier.

Volgens Generosa Simon, die bestuurder van die departement, is die wetenskapskou ’n projekgebaseerde kompetisie waaraan leerlinge van graad 1 tot graad 12 kan deelneem.

Die jong wetenskaplikes moet ’n probleem in die samelewing identifiseer en oplossings daarvoor soek.

“Dit moedig die kinders aan om eendag ’n loopbaan in die wetenskap te oorweeg,” voeg sy by.

Leerlinge sal eers op skoolvlak onder mekaar meeding, dan teen ander skole in dieselfde kring, gevolg deur streekvlakkompetisies en uiteindelik teen September op nasionale vlak.

Skole hou hul kompetisies in April, met die die kompetisies teen ander skole in Meimaand, en die streekkompetisies in Julie. Die uiteindelike nasionale wenners kan volgende jaar aan die Eskom Expo internasionale wetenskapskou in Suid-Afrika deelneem.

Die gehalte van die projekte wat ten toon gestel word is baie goed en die NCRST is op dreef om 'n tegnologie- en innovasie-ondersteuningsentrum by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) te ontwikkel, met die doel om die intellektuele eiendomsregte van die kinders te beskerm en hul innovasies verder te bevorder.

’n Databasis sal gevestig word en projekidees sal verder ontwikkel word, met finansiering wat ingesamel sal word.



WISKUNDE OLIMPIADE

Die Namibië Wiskunde Olimpiade is daarop gemik om belangstelling in wiskunde aan te wakker, en om die wiskundevaardighede van deelnemers te verbeter.

Die eerste ronde word vir Mei beplan, met die tweede ronde in Julie, 'n derde ronde in September en ook die aanwysing van die wenners in dieselfde maand.

Die kompetisie is oop vir leerlinge van graad 8 tot graad 11, met vraestelle wat deur die Universiteit van Namibië (Unam) en Nust opgestel is.

Leerlinge vorm spanne van drie seuns en drie meisies en die nasionale vlak-wenners kan Namibië by die Afrika-spele gaan verteenwoordig. Verlede jaar het Namibië sy eerste medalje op Afrika-vlak gewen, en vanjaar is daar hoop op verdere verbetering by die spele wat vanaf 8 tot 18 Junie in Botswana aangebied word.

Nhlanhla Lupahla, die hoofbestuurder van die betrokke NCRST-afdeling, sê Namibië sal baat vind by topgehalte-wiskundevaardighede en dat deelnemers voorberei word om relevant tot die globale mark te word.

Namibië is vanjaar vir die eerste keer genooi om aan die internasionale wiskunde-olimpiade in Julie in Australië deel te neem, nadat Namibië verlede jaar as waarnemer teenwoordig was.

Om twee voorbereidingskampe voor die Afrika Wiskunde Olimpiade te reël, sal die NCRST ’n borgskap van N$400 000 moet verseker, met nog N$200 000 om in Junie in Botswana te kan deelneem.

Nog ’n kamp sal daarna in Junie nog N$200 000 benodig, met N$500 000 wat nodig is vir die Namibiese span om in Australië op wêreldvlak mee te ding.

“As jy ’n uitnodiging ontvang om aan die internasionale wiskunde-olimpiade deel te neem, en jy daag nie op nie, sal jy waarskynlik nie weer genooi word nie,” sê Lupahla.

Dit sal altesaam N$1,3 miljoen kos om Namibië se wiskundetalent op wêreldvlak te laat meeding.



WETENSKAPVASVRA

Die wetenskapvasvra het ten doel om leerlinge se belangstelling in wetenskap en tegnologie te bevorder, en terselfdertyd wetenskaplike kennis toe te pas en kommunikasievaardighede te verbeter.

Spanwerk, strategiese denke en kennis bepaal die wenners. Skole hou die vasvra in April, gevolg in Julie deur die ronde vir deelnemende skole in dieselfde kring, ’n streekronde volg later dieselfde maand, en uiteindelik in September die finale nasionale ronde.

Die wetenskapvasvra is in 2016 begin, maar is toe opgeskort totdat dit weer in 2023 afgeskop is. Die vasvra is gebaseer op die skole se kurrikulum en bied 'n wonderlike geleentheid vir blootstelling vir die spanne van drie tot vier leerlinge wat deelneem.



HOLISTIESE BENADERING

Lupahla sê: “Ons grootste bate is ons intellek.”

Deur ’n holistiese benadering tot opleiding te volg, word deelnemende leerlinge voorberei om tydens die kompetisie verantwoordelikheid te neem en uitkomste te lewer, voeg hy by.

Die NCRST is Namibië se hoofinstelling wat verantwoordelik is vir navorsingsbevordering, -koördinering en -ontwikkeling. Die instelling is ’n lid van die vasteland se wetenskaplike toelaagraad-inisiatief en ondersteun tans 38 navorsingsinisiatiewe, insluitend projekte tussen Namibië en Zambië, en ook in samewerking met Mosambiek.

Nywerheids- en kommersiële projekte, toelaes vir navorsing, beurse en lenings, die ontwikkeling en verspreiding van inligtingstelsels, die koördinering van innovasie-ontwikkeling, kapasiteitsbou, fasilitering en finansiering asook in ’n raadgewende hoedanigheid aan die lynminister, die president en parlement met betrekking tot wetenskap is onder die NCRST se mandaat, soos uiteengesit in sy stigtingswet nommer 23 van 2004.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer