Namibiër deel van koninklike fees

Henriette Lamprecht
Van ’n potwasser en verkeersbeampte tot ’n soldaat wat Sondag Namibië se vlag tydens een van Brittanje se mees geskiedkundige oomblikke dra.

Die Namibiër Alex de Gouveia is deel van meer as 1 200 soldate wat aan die vierdaagse platinum-jubileumvierings van koningin Elizabeth II se 70 jaar op die troon deelneem.

Dit is die eerste keer in die Britse geskiedenis dat 'n monarg 70 jaar op die troon vier. Die feesvierings het gister op die 96-jarige koningin se amptelike verjaardag afgeskop en duur tot Sondag.

“Ek is opgewonde, maar ook geëerd om Namibië in hierdie skouspelagtige oomblik te verteenwoordig waarvan ek nog steeds nie kan glo ek deel van is nie,” vertel hy uit Londen.

Oor die pad wat sy lewe gevolg het tot soldaat in die Britse weermag, erken hy hy wou “meer uit die lewe hê”.

“Ek wou meer in die lewe sien en ervaar, die wêreld vol reis en ook deel van iets wees.”

Alex het familie in Brittanje wat hom ondersteun en op sy voete gehelp het toe hy twee jaar gelede op die ouderdom van 22 by die weermag aangesluit het. Terwyl hy moes wag vir die jawoord van die weermag, het hy egter nie ledig gesit nie en as ’n potwasser en ’n verkeersbeampte gewerk.

Tans is Alex in Londen gestasioneer, maar beweeg later oor na Windsor. Volgens hom word die soldate wat aan die parades deelneem, volgens hul regimente gekies. Die verskillende regimente het elk sy eie geskiedenis en sluit in die Ierse, Walliese, verkenners-, grenadier- en die Coldstream-wagte. Elkeen het ook ’n verskillende kleur pluim. Alex is deel van die

Coldstream-wagte wat ’n rooi pluim het.

“Ons noem dit die Vaandelparade (Trooping the Colour) van die koningin se verjaardagparade wat beteken die volgende regiment, die Ierse wagte, gaan oorneem.”

Volgens Alex oefen hulle reeds sedert die begin van die jaar en erken “dit het lang ure se oefen gekos om dit reg te kry.”

Hoewel koningin Elizabeth II se kleinseun, prins William, deel van die optog is, het hy egter nie saam met Alex en die ander soldate geoefen nie.

Die optog skop oor die vier dae elke oggend om 10:00 af en volg elke keer dieselfde roete in die rigting van Buckingham-paleis tot by die Perdewagte.

Alex erken almal is ’n bietjie senuweeagtig, “maar opgewonde en meestal dankbaar”.

“Dit is nie elke dag dat jy deel is van die koningin se verjaardagparade nie!”

Volgens hom is Londen se strate met groot Statebonds- en ook die Union Jack versier, met inwoners wat positief en opgewonde oor die vierings is.

Gisteraand het die koningin by Windsor-kasteel wes van Londen deelgeneem aan ’n seremonie om meer as 3 000 bakens aan te steek oral oor Brittanje en 54 Statebondlande waarvan sy aan die hoof staan.

Brittanje se eerste en baie moontlik ook enigste platinum-jubileum sluit tot Sondag buiten parades ook straatpartytjies en popkonserte in. Die feesvierings eindig Sondag met ’n reuse- openbare kompetisie waarby 6 000 kunstenaars betrokke is.

Die feesvierings kan by https://www.royal.uk/guide-platinum-jubilee-weekend bevolg word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!