Swakop vir 130 luisterryke jare

Adam Hartman
Swakopmund is 130 jaar gelede op Donderdag 4 Augustus as die hawe vir keiserlike Duitsland se Suidwes-Afrika-kolonie gestig, en het sedertdien ontwikkel tot ’n eersteklas moderne munisipaliteit met 70 000 inwoners, en die sleutel tot Namibië se toerismesektor.

“Vandag se feesvieringe is ter herdenking van die stigting van Swakopmund,” het Erongo se goewerneur, mnr. Neville Andre, Donderdag met die opening van die amptelike vieringe in die dorp se amfiteater gesê. Hy het ook ’n indrukwekkende vertolking van “Happy Birthday Swakopmund” gesing.

Die goewerneur het hulde gebring aan al die voormalige en huidige burgemeesters en raadslede, veral wyle Daniel Kamho, wat ná onafhanklikwording die eerste swart burgemeester van Swakopmund geword het.

“Hulle het almal verseker dat inklusiewe ontwikkeling op die dorp plaasgevind. Vandag maak Swakopmund voorsiening vir Namibiërs van alle vlakke van die samelewing, wat dié kusdorp hul tuiste noem.

“Ons moet hande vat om hierdie dorp verder te ontwikkel. Ons kinders wat hier grootword, moet weet dat hulle Namibiërs is. Vandag se vieringe is ’n getuienis dat ons almal Namibiërs is en dat ons ons erfenis saam as ’n nasie vier.”

Ten spyte van ontwikkeling, staar Swakopmund die uitdagings van landelike na stedelike migrasie in die gesig, en dit het gelei tot ’n hoë werkloosheidsyfer en druk op dienslewering.

“Mense kom van oraloor die land na Swakopmund op soek na geleenthede en plaas sodoende druk op die reeds skaars hulpbronne. Dit lei daartoe dat die munisipaliteit sy skaars hulpbronne in behuising, werkskepping en sanitasie moet belê,” het die goewerneur gesê.

Hy het bygevoeg dat die dorp ten spyte van al dié uitdagings steeds die potensiaal het om die middelpunt van stedelike en woestynlandbou te wees, asook die ontginning van die geleenthede wat die blou ekonomie bied.

Die burgemeester van Swakopmund, me. Louisa Kativa, het gesê 130 jaar van ontwikkeling en prestasies is ’n spesiale geleentheid wat die moeite werd is om te vier.

Die tema “Swakopmund skyn sedert 1892” dui daarop dat die dorp ’n ligbaken (soos sy beroemde vuurtoring) vir Namibië se sosioëkonomie is, asook sy tradisionele en kulturele geskiedenis en diversiteit.

“Swakopmund bly ’n dorp waarheen mense wil kom, aangesien dit voortdurend daarna streef om te ontwikkel, met die doel om Namibië se eerste slimstad teen 2030 te word. “Ons moedig mense aan om nuwe vennootskap met ons te oorweeg sodat ons ’n beter toekoms vir ons dorp en sy mense kan nalaat. Ons is trots op ons ongelooflike vordering die afgelope 130 jaar.”

VIERINGE

Die program het Donderdag afgeskop met tien historiese geboue wat in verskillende kleure verlig is.

Die Tamariskia-fees met ’n dans- en potjiekoskompetisie vind op 13 Augustus by die Tamariskia-basketbalbaan plaas.

’n Jeugtalentvertoning vir dansers, digters en akteurs vind op 20 Augustus by die Laerskool Namib plaas en straatmarkte word op 26 en 27 Augustus gehou.

Op 26 Augustus word ’n “historiese” uitstalling by die Swakopmund Museum geopen, en op dieselfde dag word ’n optog en kulturele vertonings by die munisipaliteit se kantoor gehou.

Plaaslike kunstenaars sluit die feesvieringe af met ’n musiekfees wat op 27 Augustus vanaf 15:00 op die oop ruimte langs die laerskool Festus !Gonteb afskop. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!