’n Blinde ma se stryd om in ’n plastiekskuiling te oorleef

Aurelia Afrikaner
Diep in die informele nedersetting van Ekunde 6 op Okahandja agter tydelike mure van plastieksakke en vrees, woon die 42-jarige Elsie Garises, ’n blinde ma van twee dogters wat soveel meer as ander moes verduur om te oorleef.

Sedert sy haar sig in 2022 verloor het, is Garises se wêreld een van duisternis, nie net fisiek nie, maar emosioneel en ekonomies. Haar brose huis, wat skaars met plastiek en kleefband bymekaargehou word, bied geen werklike skuiling nie, veral nie teen die toenemende bedreigings en gevare wat haar en haar kinders nou teister nie.

“Ek kan nie sien wie by my deur staan nie en mense het gedreig om ons lewend te verbrand. Hulle sê ek is nutteloos, want ek kan nie sien nie,” het Garises in ’n bewerige stem gesê.

“My suster bly die meeste nagte wakker net om seker te maak niks gebeur nie.”

Haar suster, Magrietha Hamases (47), het alles prysgegee om na Garises en die kinders om te sien. “Ek het elke werk wat ek gehad het verloor. Ek kan nie my suster alleen by die huis los met die kinders nie. Ek het nie eens meer ’n kêrel nie, want ek weet ek sal haar nooit vir ’n man los nie,” het Hamases gesê en ’n gedwonge laggie gegee om die pyn weg te steek.



KINDERS SE LOT

Maar wat die hartverskeurendste is, is die kinders se lot. Die meisies van 13 en 8 jaar oud is nie op skool nie.

Dit is hul desperate wens om te leer.

“Ons wil regtig skool toe gaan om ons ma te help,” het hulle gesê.

Skole op Okahandja het hulle glo weggewys weens ’n gebrek aan dokumentasie en talle pogings om hulp van owerhede te kry, het na bewering dadels van gekom.

Die ouer meisie, wat glo reeds in gevaarlike gedrag verval het, het ’n bron van kommer geword.

“Sy slaan die kleintjies en loop weg om dwelms te rook. Ek is bang vir wat sy eendag sal word,” het Hamases gesê en bygevoeg dat iemand moet ingryp.

Een van Garises se dogters is na bewering een keer verkrag.

“Ons het dit aangemeld, maar niks is gedoen nie,” het Hamases gesê terwyl sy sukkel om die trane terug te hou.

“Ek het skaars ’n matras om op te slaap, soos jy gesien het, het ek op daardie hardebord met twee komberse daarop geslaap. Die lewe is regtig nie maklik nie,” sê Garises.

Met geen toilet, geen nabygeleë water en geen werklike skuiling nie, kan die gesin se maandelikse staatstoelae van N$1 600 skaars kos, klere en basiese benodighede dek.

“Hulle verwag dat ek daardie geld moet gebruik om ’n behoorlike sinkhuis te bou, maar dit is net nie genoeg nie,” sê Garises.

Die gesin gebruik die bosse naby ’n rioolrivierbedding as toilet, ’n plek wat nie net onhigiënies is nie, maar uiters onveilig is, veral vir jong meisies.

Al waarvoor Garises vra is hulp – ’n behoorlike sinkhuis waar sy veilig by haar kinders kan voel. “Ek wil net in vrede slaap, sonder om vir ons lewens te vrees,” sê sy.

Hul verhaal is ’n wrede weerspieëling van die mislukking van ’n stelsel waar burokratiese rompslomp en onverskilligheid steeds die kwesbaarstes agterlaat.

Soos Hamases dit stel: “Ons het alles probeer. Ons het na elke kantoor gegaan. Maar steeds, niks. Geen hoop nie. Geen verandering nie.”

Garises is dalk blind, maar haar stem en die krete van haar kinders is duidelik: Hulle het hulp nodig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer