Die eerste minister, Elijah Ngurare. FOTO ARGIEF
Die eerste minister, Elijah Ngurare. FOTO ARGIEF

Agter elke statistiek is ’n mens

Formalisering van informele nedersettings
Die eerste minister het gister die regering se prioriteit beklemtoon om die uitdagings te takel wat inwoners in informele nedersettings in die gesig staar.
Elizabeth Kheibes
Die eerste minister, dr. Elijah Ngurare, het gister ’n beroep gedoen op die formalisering van informele nedersettings as ’n mensereg.

Hy het ook dringende optrede belowe om inwoners se lewensomstandighede oraloor die land te verbeter. Tydens ’n raadplegende vergadering by die Samora Machel-kiesafdeling het Ngurare die regering se prioriteit beklemtoon om die uitdagings te takel wat inwoners in informele nedersettings in die gesig staar, soos vervat in Swapo se verkiesingsmanifes.

“Die formalisering van informele nedersettings is nie ’n abstrakte frase nie. Dit gaan oor waardigheid en ordentlikheid vir ons mense,” het hy gesê.

“Ons moet water en sanitasie, toegang tot bekostigbare behuising en voldoende infrastruktuur soos spoeltoilette verseker. Die mense van hierdie kiesafdelings moet aan die voorpunt wees in die uitvoering van hierdie program en moet voordeel daaruit trek.”

Die vergadering is bygewoon deur onder meer sleutel- regeringsamptenare, insluitend die adjunk- eerste minister en die minister van nywerheidsontwikkeling, myne en energie, Natangwe Ithete, die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, James Sankwasa, asook Khomas se nuwe goewerneur, Sam Shafiishuna Nujoma.

Ngurare het pogings in die verlede erken om geraakte gemeenskappe te betrek en gesê die nuwe administrasie tree op in reaksie op beloftes wat tydens die veldtogte tydens verlede jaar se presidensiële en nasionale vergadering-verkiesing gemaak is.

“Tydens haar intreerede op 21 Maart 2025 het president Netumbo Nandi-Ndaitwah opdrag gegee dat ons hierdie bottelnekke spoedig takel. Vandag se vergadering is ’n voortsetting van daardie verbintenis,” het hy gesê.

Ngurare het alle relevante ministeries, agentskappe en plaaslike owerhede opdrag gegee om hul implementeringsplanne binne ’n week te finaliseer en teen 11 April by sy kantoor in te dien. ’n Opvolgvergadering is vir 16 April geskeduleer.



UITDAGINGS EN PLANNE

Khomas se goewerneur het op sy beurt verwys na die vinnige verstedeliking in die streek, met statistiek van die 2023 Bevolkings- en behuisingsensus wat die totale bevolking op 494 605 bereken het. Hiervan woon 46% in informele nedersettings.

“Die toename in die bevolking het ongelooflike druk geplaas op instellings wat dienste lewer. Hoewel formele behuisingsontwikkeling bestaan, is bekostigbaarheid ’n beduidende struikelblok,” het Nujoma verduidelik.

Hy het verwys na bestaande pogings soos die informele nedersettings-opgraderingsprojek, ’n gesamentlike projek van die Khomas-streekraad, die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling, die Windhoek-munisipaliteit en die Namibië Behuisingsonderneming (NHC).

Dié projek, wat in 2020 van stapel gestuur is, het ten doel om oplossings vir bekostigbare behuising te vind. Verdere pogings is egter in dié verband nodig om in die groeiende aanvraag te voorsien.

“Vandag se vergadering is ’n herinnering dat agter elke statistiek, elke datapunt en elke beleidsinisiatief daar werlike mense is – families, kinders en individue – wie se lewens direk geraak word deur die besluite wat ons neem,” het Nujoma beklemtoon.



SAMEWERKING

Die besprekings het ook die behoefte aan samewerking tussen verskillende regeringsvlakke, die private sektor en die publiek beklemtoon om die behuisingskrisis te takel.

“Die stemme van die mense in hierdie gemeenskappe maak saak. Die sentrale regering is daartoe verbind om deel van die oplossing te wees. “Ons moet hierdie kwessies op ’n volhoubare manier aanpak om te verseker dat informele nedersettings nie meer as ’n simptoom van verwaarlosing gesien word nie, maar as gemeenskappe vol potensiaal en belofte,” het hy gesê.

Met finansiering wat reeds in die nasionale begroting toegeken is en wat verlede week ter tafel gelê is, is die hoop dat implementering vroeër eerder as later sal plaasvind.

Die formaliseringsproses wat in Windhoek begin het, sal in die komende maande landswyd uitgebrei word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer