‘Al wat die babas het, is ons genade.’
Geld word tans ingesamel om ’n bussie vir die Ruach Elohim-stigting, ’n veilige tuiste vir kwesbare kinders in Swakopmund, te koop.
“Elke bydrae, hoe klein of hoe groot ook al, maak ’n merkwaardige verskil in ons beskeie poging om aan hierdie kwesbare babas die heel beste kans op goeie sorg te bied; fisiek en emosioneel. Al wat hierdie babas het, is ons genade.”
Só het Ronel Peters, die medestigter van Ruach Elohim, gesê oor die geldinsamelingsinisiatief wat onlangs deur die Swakopmunder, Bianca Mackenzie, van stapel gestuur is.
Bianca vertel sy ken Ronel al ’n rukkie en dat die uitstekende werk wat die stigting doen haar na aan die hart lê.
“As ’n ma van drie kinders breek dit my hart dat klein lyfies weggegooi word en van kleins af ’n vorm van verwerping ervaar.
“Ek dink iemand soos Ronel is ’n engel wat die Here hier op aarde gebruik om daardie klein lyfies ’n tweede kans te gee en heel te maak deur hulle met liefde toe te vou.”
Sy sê sy het al lank ’n behoefte om te help en het onlangs ontdek dat die stigting beter vervoer nodig het namate die aantal babas toeneem.
“Met soveel babas in hul sorg, van wie baie spesiale behoeftes het soos mediese sorg en arbeidsterapie, word vervoer ’n ware uitdaging.
“Ronel het selfs onlangs haar eie motor op die mark gesit om geld vir die broodnodige bussie te probeer insamel.
“Sy het ’n oulike bussie raakgesien en in geloof probeer sy nou om die bussie aan te skaf en te finansier. Ek het besluit, hierdie is ’n goeie geleentheid om my behoefte om haar te help aan die werk te sit.”
BACKABUDDY
Bianca sê dat sy die geldinsameling oorspronklik wil hou.
“Op Ruach Elohim se Facebookblad is daar al verskeie soorte geldinsamelings vir hulle gehou. Ek het dus gedink om iets oorspronkliks te doen en die ‘Crowdfunding’-roete gevolg.
Bianca gebruik ’n platform genaamd BackaBuddy waar mense geldelike bydraes aanlyn kan maak.
“My gedagte is dat almal nie altyd groot bydraes kan maak nie, maar as ons ’n groot groep mense in Namibië en selfs mense oraloor die wêreld kan aanmoedig om by te dra, al is dit so min as N$10, is ek oortuig daarvan dat ons die geld kan insamel om vir die bussie te help betaal," het Bianca gesê en bygevoeg dat hulle ook ’n EFT-betalingsopsie het.
Tot dusver is N$2 100 ingesamel en die teikenbedrag is N$425 000.
Sy sê ook die stigting se behoefte is groot.
“Ronel en Dick pak hierdie koninkrykswerk in geloof aan en ons as gemeenskap moet hande vat om hulle by te staan, in gebed, in ondersteuning en in skenkings sover dit binne ons vermoë is.
RUACH ELOHIM
Ronel sê dat hulle enige geldinsamelingsinisiatief verwelkom en waardeer.
“Ons het nooit gedink dat ons soveel babas in die huis sou hê nie. Die lewe is nie maklik nie. Mense kry swaar en onskuldige babatjies ly daaronder!
“Ons is só dankbaar vir elke baba wat gespaar word en ongedeerd en veilig by ons aankom. Maar dit bring geweldige hoë lewenskostes en uitgawes mee.”
Ronel vertel hulle moes meer opsigters aanstel.
“Dit beteken meer salarisse moet betaal word. Ons het babas gekry wat mediese aandag nodig gehad het en ons mediese koste is tans astronomies.”
Sy sê die babas moet na weeklikse doktersafsprake, terapiesessies, skool en self mediese afsprake in Windhoek vervoer word.
Ronel het voorheen haar eie voertuig gebruik om die babas en twee peuters te vervoer.
“Aan die begin was dit nie ’n probleem nie, maar hoe meer babas ons gekry het, hoe groter is die behoefte aan ’n groter voertuig.
Ronel sê dat hulle as ’n kinderbeskermingseenheid moes registreer en genoodsaak was om hul eie private maatskaplike werker aan te stel om al die regsaspekte vir die plasing en aanneming van die babas te hanteer.
Die BackaBuddy-webwerfskakel is https://q.my.na/XWPZ.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie