Ali se Ark (Deel 3)

Wees jy die verskil
In elke dorp, stad, woonbuurt en nedersetting sal jy een, dikwels twee of meer kry. Die meeste van die tyd erg verwaarloos, uitgehonger en oortrek met vlooie en bosluise waar hulle in vullis krap desperaat vir iets om te eet.
Henriette Lamprecht
Namibië staar ’n groeiende krisis van hawelose honde in die gesig, sê Ali Ryan van The ARK op Omaruru, ’n niewinsgewende, pro-lewe, reddings- en rehabilitasiesentrum wat spesialiseer in die versorging van ongewenste siek en beseerde diere.

Tans huisves die sentrum meer as 110 diere waarvan 60 honde is en waarvoor Ali en haar span weer ’n liefdevolle huis soek.

Om ’n hond by ’n teler te koop, kan dalk aanlokliker lyk, maar om een aan te neem is ’n baie meer etiese en deernisvolle keuse, beklemtoon Ali.

“Deur eerder ’n dier aan te neem, red nie net lewens nie, maar help ook om ’n meer menslike samelewing te bou.”

Reddingsorganisasies oraloor Namibië werk onverpoosd om hierdie diere te versorg, maar hulle kan dit nie alleen doen nie, maan Ali.

“Wanneer mense honde koop eerder as om hulle aan te neem, dra hulle onbedoeld by tot die toenemende aantal ongewenste diere.

Laasgenoemde lei tot oorvol skuilings, diere wat onnodig uitgesit word en toenemende lyding,” verduidelik sy.

Baie mense is onbewus van die verwoestende werklikheid van talle troeteldiere, soos honde en katte, sê Ali.

’n Daaglikse lewe van verwaarlosing en dikwels mishandeling wat in elke gemeenskap voorkom.

Die omvang van die krisis is dikwels onbekend, maar dis ’n harde werklikheid wat elkeen kan help om te verander deur te kies om eerder ’n dier aan te neem as om een te koop.

“Dis eenvoudig. Elke aanneming maak ’n verskil, want hoe meer diere aangeneem word, hoe meer diere kan gered word,” beklemtoon Ali.

Elke keer as jy ’n dier aanneem, red jy daardie dier direk van genadedood of ’n lewe van lyding, beklemtoon sy.

“Aanneming skep ruimte in skuilings en stel hulle in staat om selfs meer weerlose diere te red en te versorg.”

Dit is ook kostedoeltreffend met aannemingsfooie wat beduidend laer is as die koste om ’n troeteldier by ’n teler te koop. Daarbenewens word diere van betroubare reddingsentrums ook reeds teen ’n fooi ingeënt, ontwurm, gesteriliseer en behandel, wat jou bykomende uitgawes bespaar.

Met verwysing na die bekamping van oorbevolking, maan Ali Namibië staar ’n ernstige oorbevolkingskrisis in die gesig wanneer dit by rondloperdiere kom.

“Deur ’n dier aan te neem wat reeds gesteriliseer is, dra jy aktief by tot ’n oplossing eerder as om tot die probleem by te dra!”

Om ’n dier aan te neem ondersteun ook etiese praktyke, sê Ali, want jy ondersteun skuilings en reddingsentrums wat die welstand van diere bo winste prioritiseer.

Dit beteken ook ’n groter verskeidenheid diere omdat diere wat gered is, dikwels ’n wye verskeidenheid geaardhede, groottes en ouderdomme insluit.

“Jy sal beslis ’n troeteldier vind wat by jou leefstyl en voorkeure pas!”

Om eerder ’n dier aan te neem, het ook ’n impak op jou gemeenskap, verduidelik Ali.

“Wanneer jy aanneem, red jy nie net ’n individuele dier nie, maar help ook om bewustheid oor die belangrikheid van aanneming te skep. Dit kan ander in jou gemeenskap aanspoor om dieselfde roete te volg.”

Sedert Ali The ARK byna vyf jaar gelede begin het, was dit ’n nimmereindigende missie, dag na dag, om mense aan te moedig om eerder op aanneming te fokus.

“Ons skuiling is vol en hoewel ons onverpoosd werk om hierdie diere te versorg, kan ons dit nie alleen doen nie.”

Ali beklemtoon die ondersteuning van gemeenskappe is noodsaaklik en “ons moet mense se ingesteldheid verskuif van die aankoop van honde na die aanneming daarvan.

As ’n organisasie wat net genadedood toepas wanneer dit absoluut noodsaaklik is en soos in die geval van ’n ongeneeslike siekte, is dit vir haar ’n bitter gedagte om ’n gesonde hond uit te sit bloot om nog ruimte te skep.

“Ons glo elke dier verdien ’n tweede kans en jy kan deel wees van daardie storie met ’n gelukkige einde wanneer jy ’n hond of ’n kat aanneem.”

Wanneer jy een van The ARK se geliefde inwoners aanneem, neem jy nie net ’n troeteldiere huis toe, sê Ali.

“Jy kry ’n liefdevolle metgesel wat ’n volledige gesondheidsondersoek deur ’n veearts ondergaan het.

“Dit gee jou gemoedsrus om te weet die hond of kat wat jy aanneem, is so gesond as wat hy of sy kan wees!”

Volgens Ali maak sy en haar span ook seker elke troeteldier pas perfek by sy nuwe gesin om die oorgang so maklik as moontlik te maak.

“As jy ’n verskil wil maak en die onvoorwaardelike liefde van ’n dier wil ervaar wat gered is en smag na ’n liefdevolle huis, oorweeg asseblief om een van The ARK se inwoners aan te neem.”

Besoek The ARK se webtuiste by thearkrescuenamibia.org waar jy meer kan leer oor die aanneming van ’n troeteldier, wat die proses behels en ook hoe jy by die skuiling betrokke kan raak. Hier gaan jy ook die diere ontmoet wat gretig vir ’n liefdevolle huis wag.

Indien jy meer inligting benodig, stuur ’n e-pos na thearkrescuenamibia.org of kontak 081 737 5675.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer