Alle paaie lei na Sandhof se lelieprag

Francoise Steynberg
’n Hoogtepunt op die jaarlikse Namibiese reiskalender ná milde reën in die Suide, is ’n besoek aan die plaas Sandhof wanneer die pienk-en-wit lelies in die kleipan blom.

Sandhof het aangekondig dat die lelies binnekort gaan blom en hekke sal vandag vir besoekers oopmaak wat die pan wil besoek en sal Sondag weer sluit. Besoekers kan daagliks tussen 07:00 en 19:00 die asemrowende natuurverskynsel van die lushof van lelies (crinum paludosum) gaan besigtig. Geen lielies mag gepluk of vernietig word nie en daar mag ook nie in die pan of tussen die lelies gery word nie, met oranje vlae en tekens wat gevolg moet word.

Kampering word nie toegelaat nie en daar is geen ablusiegeriewe nie. Iets te ete en te drinke is wel by die ingangshek beskikbaar en as jy wil braai mag daar slegs vuur in ’n draagbare braai gemaak word. Asdromme is beskikbaar en geen rommel mag gestrooi word nie.

Sandhof is op die D861-grondpad sowat 37 kilometer buite Maltahöhe geleë en sedanvoertuie kan op die gruispad van 40 km ry.

Akkommodasie is beskikbaar by (afstand in kilometer vanaf Sandhof) Burgsdorf (57 km), Maltahöhe Hotel en Hudup Gastehuis (37 km), Namseb Lodge (45 km), Betta Camp (140 km) en River Chalets op Mariental (150 km).

Intussen het daar Dinsdag deur die nag meer as 100 mm reën op Kalkrand geval wat die hoofpad en strate in ’n rivier omskep, inwoners se huise laat oorstroom en skade aan die treinspoor aangerig het.

Daar word gemaan die pad vanaf Maltahöhe na Sandhof sal die naweek besig wees en dat motoriste versigtig moet bestuur.

Die Suide is besig om sy groen baadjie aan te trek en word in ’n lushof omskep. Selfs in dorre dele van die Suide, soos by onder meer Aroab, Karasburg en in die Kalahari, het goeie buie die afgelope week geval.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer