Boervrou met passie

Tanja Bause
“In 2003 het ek en my man saam met die kerk Groot Aub toe gegaan en my man het amper onmiddellik op die plek verlief geraak. Hy het gesê ons moet eendag hier kom sit en ons het,” het Babsie Young (68) van Young Farming Enterprises gesê.

In 2013 toe Groot Aub deur die droogte geteister is, het die Young-egpaar ’n boorgat laat boor en met ’n groentetuin begin.

“Ons plant alles van beet, wortels, kool, uie, mielies en aartappels by die huis en onder by die boorgat. Wanneer die groente geoes word, word dit in N$10- en N$20-pakkies verpak en in Windhoek verkoop. Ons plant ook ons eie lusern vir ons bokke.”

Toe die tuine goed op dreef was, het Babsie ’n ram en twee ooie op ’n veiling gekoop.

“Nou het ons al amper 30 bokke. Ek het ook vier jaar gelede met 350 lêhoenders begin boer. Hulle se lêtyd is nou verby en ek wag nou op nuwe kuikens. Intussen het ek ook 500 slaghoenders gehad. Die halaal-slaghuise in Windhoek koop hoofsaaklik die hoenders. Hulle word lewend verkoop en hulle slag die hoenders self. Daar is ook nog net sowat 100 van hulle oor wat nou geslag moet word en dan kom die nuwe kuikens.”

JOSEPH

Joseph Simon is in Ondangwa gebore en sy ma het hom geleer om te plant.

“Ek het Groot Aub toe gekom op soek na werk. Ek ken om die groente te plant en om die diere te versorg. Kyk net ons bokke, ons het nou baie en ons verkoop ook van die kapaters vir vleis en nog steeds het ons baie.”

TOEKOMS

Daar is nog baie ruimte by die groetetuin en Babsie wil die plek in ’n vermaakarea vir jong mense omskep.

“Ek wil ’n klein swembad bou en braaiplekke. Dan kan die jongmense hier kom ontspan, perdry en uit die drankhuise uit bly. Ek wil vir die jongmense wys dat jy jouself kan geniet sonder dat jy drank of dwelms hoef te gebruik. Dit gaan ’n veilige skoon vermaakarea wees – sonder drank of rook. Ek wil ook uit ou bande vir die kleiner kinders ’n speelpark bou. Dit is sulke goed wat Groot Aub nou nodig het. Gesonde vermaak vir die jongspan en ek Babsie sal sorg dat daar geen drank of dwelm is nie. Ek sal seker maak.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer