Botaniese tuin op soek na klippe

Iréne-Mari van der Walt
Met die oog op die skepping van ’n rotstuin by die Nasionale Botaniese Tuin in Windhoek, hoop die kurator van dié tuin, Leevi Nanyeni, en landskaptuinier Rainer Raue om mense te kry wat rotse en klippe kan skenk om hierdie projek moontlik te maak.

“Ons sukkel nou en dan om die materiaal vir hierdie tipe projekte te kry. Wat ons basies soek is groot klippe – en ’n mens wil eenvormigheid hê van die materiaal wat gebruik word, maar dit is moeilik.

“Ons kan nie sommer net by enige plek vat nie – ons het iemand gevra wat rotse in stukke breek, maar hulle sê ons sal die klippe by hulle moet koop.

“As ons iewers toestemming kan kry om die materiaal te kry, sal dit wonderlik wees,” verduidelik Nanyeni oor hul eerste pogings om klippe vir dié projek in die hande te kry.

Raue, ’n Duitse burger wat vir drie maande van die jaar vrywillige werk in Namibië doen, het voorheen ook sy talente by ’n private wildreservaat naby Etosha gewys, waar hy verskeie landskaptuine geskep het.

“Die idee is dat dit natuurlik moet lyk. Oor ’n jaar of twee moet jy daar kom en dink dat dit nog altyd so was. Dit is juis hoekom ons dieselfde soort klippe nodig het, want as ons dit meng, gaan dit nie natuurlik lyk nie,” sê Raue.

Hy verduidelik hy is bereid om voorsiening te maak om die klippe na Windhoek te vervoer.

“Ons wil inheemse plante in die rotstuin plant en ons wil hê dit moet natuurlik lyk. Dit is hoekom ons plaaslike materiaal nodig het. Namibië het baie klippe en rotse, maar om dit in die hande te kry is nie so maklik nie,” het Raue gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer