Burgemeester kom betogers tegemoet

Straatverkopers kan bly, ongeag ’n uitsettingsbevel
'n Noordedorp se burgemeester het straatverkopers toestemming gegee om "terug te gaan en besigheid te doen", nadat hulle aanvanklik hul verkoopsplekke moes ontruim.
Elvira Hattingh
Straatverkopers op Grootfontein is gister toestemming gegee om voorlopig voort te gaan om hul produkte in dié dorp se hoofstraat te verkoop, ten spyte van ‘n uitsettingsbevel wat die munisipaliteit uitgereik het.

Die dorp se nuwe burgemeester, me. Talitha Garises, het straatverkopers tegemoet gekom nadat sy ‘n klagskrif van die gemeenskapsleier mnr. Morits Gaingob ontvang het.

Sy het gesê sy sal met die dorpsraad vergader en daarna ‘n vergadering met die straatverkopers belê.

“Ek verstaan die situasie, daarom gee ek julle vanoggend toestemming om terug te gaan en besigheid te doen. Ek het julle gehoor,” het sy gesê en bygevoeg dat sy nie tans meer oor die situasie kan sê nie.

“Ek wil julle vra om saam met ons te werk. Ons is besig met die voorbereiding van ‘n informele mark. Vir nou moet julle teruggaan na jul plekke en voortgaan om julle produkte te verkoop. . .”

Dit volg nadat straatverkopers gisteroggend ‘n vreedsame optog deur dié noordedorp se strate gehou het om beswaar teen hul uitsetting aan te teken.

Gaingob het tydens die geleentheid gesê die verkopers is nie gekant daarteen om geskuif te word van waar hulle in Hage Geingobstraat handel dryf nie, maar dat ’n alternatiewe perseel aan hulle gebied moet word.

“Dit sal onregverdig en onmenslik wees om ons opdrag te gee om te skuif, maar geen voorsiening word vir ’n alternatiewe perseel gemaak nie,” het hy gesê.

“As die bevel nie gestop word nie, sal dit slegs hongersnood, armoede en frustrasie en woede onder die gemeenskap aanblaas.”

Hy het bygevoeg die straatverkopers, wat meestal uit vroue bestaan, kry swaar onder die huidige ekonomiese toestande waar die prys van brandstof en basiese voedsel soos suiker, kookolie en koekmeel die hoogte inskiet. Die nasleep van die Covid-19-pandemie het hul situasie vererger, meen hy.

In die klagskrif bevraagteken die straatverkopers hoe die uitsettingsbevel bekragtig kon word, aangesien die dorpsraad tussen Desember en 9 Februarie nie enige “vrugtevolle dorpraadsvergaderings” gehad het nie weens onderlinge twis oor wie die nuwe burgemeester moes word.

Boonop het die huidige raad tot dusver geen adjunkburgemeester aangewys nie. Gaingob meen die bevel kon nie sonder ‘n resolusie deur die dorpsraad uitgereik word nie. Die betogers wil weet of die bevel in opdrag van die hele dorpsraad uitgereik is, of slegs die van ‘n enkele individu.

Hy het gesê hulle verstaan die nuwe dorpsraad het die kwessie met ‘n gebrek aan ‘n behoorlike informele mark van vorige dorpsrade “oorgeërf”.

“Ons het ‘n behoefte aan nuwe, relevante markte op Grootfontein.”

Hy het bygevoeg straatverkopers het reeds aan die vorige dorpsraad ‘n klagskrif oorhandig dat die informele mark langs die Metro-inkoopsentrum opgradeer en vergroot moet word omdat dit nie aan die nodige vereistes voldoen nie.

“Wat het van dié klagskrif geword?” het hy gevra.

Verder word in die klagskrif gesê die geld wat daaraan bestee is om ‘n uitsettingbevel teen die straatverkopers te verkry, eerder benut kon word om meer informele markte op die dorp te bou.

Garises het die gemeenskap die versekering gegee haar kantoor is altyd oop en mense welkom is om afsprake met haar te maak.

Sy het straatverkopers ook versoek om seker te maak hulle hou die dorp skoon – veral rondom hul verkoopsplekke. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!