Dagbreek Skool se hoenders floreer

Tanja Bause
Sewe jaar gelede het Annemarie Eksteen met ’n hoenderboerdery by die Dagbreek Skool vir gestremde kinders begin en vandag is dié deel van die landbouklas die suksesvolste.

“Sewe jaar gelede het twee hoenderboere van Arandis ons skool se geriewe gebruik om ’n kursus aan te bied. In ruil daarvoor het hulle gesê van die onderwysers kan ook aan die kursus deelneem.

“Ek het ’n plaasagtergrond en het nog altyd ’n sagte plek vir hoenders gehad en die geleentheid aangegryp. Na die kursus het hulle 20 kuikens aan ons geskenk,” het Annemarie, die landbou-onderwyseres by die skool, gesê.

Tussen die kuikens was Sussex-kuikens wat ’n goeie temperament het.

“Ek het ’n sagte plekkie vir die Sussex-hoenders ontwikkel en begin navorsing doen om uit te vind waar ek van hulle in Windhoek kon koop. Ek gaan ook na Namboer se veilings en die kinders is mal daaroor. Hulle hou daarvan om die bordjie op te tel en te bie of te laat sak as die hoenders te duur word.”

Annemarie se hoofdoel met die hoenderboerdery is egter om vir die kinders respek vir diere te leer.

“Hoenders is oor die algemeen ’n minderwaardige dier. Ek het baie kinders wat na my klas toe kom en hulle wil skop. Ek leer vir hulle respek; moet hom nie seermaak of skrikmaak nie.

“Dan leer hulle van die basiese behoeftes van die hoenders, soos vars water, kos en ’n skoon erf. Wat moet ons ekstra doen as dit reën of as dit koud word?”

Sy sê talle van die leerlinge kom van plase af en hulle kan nie wanneer hulle teruggaan tien beeste koop nie, maar hulle kan tien hoenders koop.

“Dit is ’n omvattende landbouklas; ons leer die kinders om te plant, kompos te maak, perde te versorg en met hoenders te boer. Hulle kan nie die verskoning gebruik dat hulle nie met hoenders kan boer nie omdat hulle nie die kos kan bekostig nie. Hulle leer om sonneblomme en mahangu te plant. Ons het erdwurms hier en die hoenders word uit die tuin gevoer. Hulle kan ’n bestaan maak.”

Annemarie sê sy leer die leerlinge ook wat jy in die hoender insit, is wat jy uitkry.

“Min versorging beteken min eiers. Elke einde van die jaar hou ons ’n groot klaspartytjie met al die geld wat ons van die eierverkope gemaak het. Ons het vir hulle gesorg en hulle het vir ons gesorg.”

Die eiers is baie gewild omdat die hoenders vrylopend is.

Annemarie verkies om slegs 30 hoenders aan te hou en die boerdery sodoende hanteerbaar te hou.

“Daar is net tien kinders in die klas en hulle moet in die tuin werk en die perde en hoenders versorg. As ons groter word, raak dit net te veel.”

Tussen die kuikens is daar altyd ’n paar hane wat geslag moet word. Dit gebeur egter net elke paar maande en die leerlinge het ’n keuse om deel daarvan te wees of dit oor te slaan.

“Die slagproses word ook met respek gedoen. Die kinders leer waarmee jy slag en hoe om dit reg te doen. Ek het ’n kind in die klas gehad wat met die hoender gestaan het en verskriklik om verskoning gevra het. Dit is waar ek besef het dit moet hulle eie keuse wees.”

Diana Kasera is van Rundu en die enigste meisie in die klas.

“My tannie het my van kleins af geleer om die plant. Die hoenders is nuut en ek hou daarvan. Ek hou van die hoenders, want hulle gee ons eiers en ons kan dit eet. My tannie het ook vir my gesê ek moet nooit bang wees nie; so ek het ook geleer om die hoenders te slag.”

“Ek wil net vir Feedmaster bedank wat al vir meer as sewe jaar elke maand al die kos vir al die diere borg. Dit maak nie saak wat ek benodig nie, hulle gee dit sonder om te kibbel. Sonder hulle sou die projek nie moontlik wees nie, dit sou net te duur wees. Sonder Feedmaster sou die kinders nie kon leer hoe om met hoenders te boer en nie later ’n bestaan daaruit kon maak nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!