Droë krane 'niks nuuts'

Tuindorp vir dae sonder water
Twee putte is in die rivierbedding gegrawe om te keer dat water in die gebied invloei waar die herstelwerk gedoen moet word.
Aurelia Afrikaner
Okahandja staar (weer eens) ’n ernstige waterkrisis in die gesig nadat ’n belangrike pyp in ’n rivierbedding gebars en inwoners, besighede en verskaffers van noodsaaklike dienste sonder enige lopende water gelaat het.

Die jongste onderbreking duur sedert Donderdag verlede week ná swaar reën in die omgewing die hoofpypleiding beskadig het. Gefrustreerde inwoners sê egter die jongste onderbreking is niks nuuts nie.

Die onderburgemeester, Akser Aupindi, het die naweek die toneel besoek waar die pyp gebars het en inwoners op die dorp verseker dat die munisipaliteit onverpoosd werk om die watertoevoer te herstel.

“Ons verstaan die frustrasie wat dit veroorsaak en waardeer die gemeenskap se geduld soos ons voortgeset werk om die probleem op te los,” het Aupindi gesê.



GEMOEDERE LOOP HOOG

Dié versekering het egter weinig gedoen om gemoedere te bedaar, met die herhaalde voorkoms van watertekorte op Okahandja wat tot stygende woede gelei het.

’n Inwoner Tina Cloete, het haar frustrasie op sosiale media gedeel en die probleem as ’n “baie, baie ou storie” beskryf.

“Dit gebeur eintlik elke reënseisoen en nie net meer dan nie, maar ook in droë maande. Okahandja is nou ’n nedersetting. As die pype herstel word, gaan die krag weer af. Die dorpsbeplanner moet kom kyk, want sommige van hierdie pype hou aan om te bars,” het sy gesê.

Ander inwoners het haar kommer beaam en die blaam vir die waterkrisis voor die deur van die munisipaliteit geplaas.

“Dit wys maar net weer hoe onbevoeg die vakmanne by die munisipaliteit werklik is,” het nog ’n inwoner gesê.



KRAGTE SAAMGESNOER

Met die jongste waterkrisis het die munisipaliteit kragte saamgesnoer met NamWater om spanne te mobiliseer om die beskadigde infrastruktuur te herstel.

Tydens die aanvanklike herstelwerk is nog skade aan die pyplyn ontdek, wat tot verdere vertragings gelei het.

In ’n poging om die situasie te bestuur, het die munisipaliteit sewe aangewese waterpunte opgerig waar tenkwaens water aan inwoners sal verskaf. Dit sluit in Smarties Uitbreiding 8, Commando, Nau-Aib-kliniek, Bekers (Grysblok), Veddersdal (blou gebou), Nau-Aib-stadion (agter die stadion), Vyfrand (sokkerveld) en die Shipena-kindergarten.

Ten spyte van dié pogings was ouers gister erg ontstoke aangesien skole weens die watertekorte gedwing is om te sluit. Ouers is gisteroggend ingelig dat skole tot verdere kennisgewing gesluit sal bly weens die waterkrisis.

Die direktoraat van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het die sluiting bevestig in ’n amptelike brief, wat deur die streekdirekteur Gerhard Ndafenongo onderteken is. Toestemming is ingevolge afdeling 46 (2) van die wet vir basiese onderwys gegee om alle skoolbedrywighede op te skort totdat watertoevoer herstel is.

Staatskole se koshuise op die dorp sal egter gedeeltelik vir koshuisleerlinge oop bly wat nie alternatiewe verblyf het nie. Die koshuiskomitees is deur die direktoraat aangeraai om saam met die munisipaliteit te werk om tydelike watertoevoer te verseker wat slegs vir die gebruik in die koshuis en kombuis sal wees.

Nog ’n frustrasie van inwoners is die gehalte van drinkwater wat deur tenkwaens verskaf word.

“Hier dink ek ons kry skoon drinkwater, maar wat ’n teleurstelling. Na so ’n lang gewag is dit wat julle vir ons gee?” het ’n inwoner ontsteld gevra.



BURGEMEESTER

Okahandja se burgemeester, Beatrice Kotungondo, was Sondag ook op die toneel waar herstelwerk plaasgevind het.

“Die herstelspanne werk sedert Saterdag onophoudelik. Hulle het selfs deur die nag gewerk. Twee putte is gegrawe om te keer dat water in die gebied invloei waar die herstelwerk gedoen moet word. Die deel wat ons prioritiseer is in die middel waar die pyp gebars het en vervang moet word.”

Volgens Kotungondo is die grootste uitdaging om water uit die geraakte gebied te verwyder.

“Ons probeer om die water uit te kry deur ’n dun pyp te gebruik. Ons wag egter ook vir ’n private maatskappy om ’n breër pyp te bring wat sal help om die water vinniger te dreineer.

“Die oomblik wanneer die geraakte gebied skoon is, sal die herstelwerk self nie lank neem nie,” het sy verduidelik.

Die burgemeester sê noodwatervoorsiening duur intussen voort.

“Tenkwaens van NamWater verskaf water aan skole, hospitale en polisiekantore. Bykomend is daar ook ’n tenkwa wat water aan inwoners verskaf. Ons wag vir verdere ondersteuning van die Namibiese weermag en die munisipaliteit van Windhoek om water oraloor Okahandja te voorsien.”

Kotungondo het ’n beroep op inwoners gedoen om kalm te bly.

“Ons weet dit is onvoorsiene omstandighede. Ons is geseën met reën, maar dit het ook uitdagings veroorsaak. Ons doen alles moontlik om die situasie so gou as moontlik op te los.”

Owerhede het ook die versekering gegee dat gereelde terugvoering aan die publiek verskaf sal word.

Teen druktyd gisteraand is berigte ontvang dat die watertoevoer herstel is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer