Einde moontlik in sig vir Swakopmund se buurtwag
Swakopmund se buurtwag, ’n gemeenskapsgeleide misdaadbekampingsorganisasie wat sedert 2011 ’n noodsaaklike rol speel om dié kusdorp te beveilig, staar ’n krisis in die gesig wat die organisasie kan noop om bedrywighede teen die einde van die jaar te staak.
Die hoof van die buurtwag, André van Rensburg, het Dinsdag tydens ’n openbare vergadering op die dorp gesê die grootste uitdaging is om nuwe lede te kry.
“As dinge voortgaan soos nou, gaan ons nie die mannekrag hê om verder as 2025 te gaan nie. Tensy ’n wonderwerk gebeur, weet ek nie hoe ons hieruit gaan kom nie,” het Van Rensburg gesê.
Die buurtwag is gestig in reaksie op 'n drastiese toename in misdaad, veral in huisinbrake. Bekommerde inwoners het saamgespan om wetstoepassers te help en oor die jare het die buurtwag ’n noodsaaklike rol gespeel om misdaad te verminder, lewens te red, arrestasies te maak en ook om gesteelde eiendom terug te kry.
Die aantal lede het egter afgeneem, wat die las op die oorblywende lede verhoog het.
“In 2012 het ons 124 aktiewe lede net in Ocean View gehad. Vandag het ons 90 vir die hele Swakopmund,” het Van Rensburg verduidelik.
“Toe het vrywilligers elke 25 dae ’n skof van drie tot vier uur gewerk. Nou moet hulle dit elke agt dae doen, want ons het eenvoudig nie genoeg mense nie.”
Een van die hoofredes vir die afname in mannekrag is tamheid onder vrywilligers, met talle wat vir jare gedien het en hul werksverpligtinge moet balanseer met voltydse werk en familieverantwoordelikhede wat uiteindelik tot uitbranding gelei het.
Dit is ook moeilik om jong vrywilligers te kry omdat baie nie belangstel nie of hulle nie tot die veeleisende aard van die werk kan verbind nie. Die toenemende risiko met patrollies om gewapende misdadigers te konfronteer, lang ure en openbare druk ontmoedig ook nuwe vrywilligers.
Die druk op aktiewe lede is geweldig.
“Sommige nagte slaap ons vir twee ure of glad nie. Ons jaag misdadigers deur die strate, spring oor grensmure en konfronteer boewe wat wapens dra.
“Ons doen dit met die wetlike gesag van ’n gewone burger, niks meer nie. Ons is nie die polisie nie. Mense verwag van ons om te reageer net omdat ons die buurtwag is, maar ons werk ook en het gesinne,” sê Van Rensburg.
Die organisasie maak heeltemal staat op skenkings, maar finansiële beperkings bly ’n groot kwessie.
’n Lidmaatskapfooi van N$100 per maand is onlangs ingestel om uitgawes te dek.
“Nie een van ons word vergoed vir petrol, oproepe of die gebruik van ’n voertuig nie. Elke sent gaan aan noodfone, radiotoerusting, die huur van ons beheerkamer en die onderhoud van ons kringtelevisienetwerk (CCTV).”
’n Groot deel van die buurtwag se strategie is afhanklik van CCTV-kameras met meer as 450 wat oraloor die dorp geïnstalleer is. Die opgradering van sagte- en hardeware sal egter sowat N$200 000 kos.
HUISINBRAKE
Daar gaan selde ’n dag verby wanneer daar nie iewers op Swakopmund by ’n huis ingebreek word nie, sê Van Rensburg.
“Die boewe word al hoe dapperder. Sommige breek selfs by huise in terwyl ons hulle agternasit.”
Misdaad word verhoog deur maatskaplike kwessies wat die toenemende aantal hawelose individue en geestesversteurde mense wat in die strate ronddwaal insluit.
“Ons het dit met elke moontlike departement opgeneem, maar daar is nie ’n oplossing in sig nie. Straatkinders is ook ’n groeiende kommer. As hulle alleen gelaat word om vir hulself te sorg, kies die meeste uiteindelik misdaad.”
Nog ’n kwessie is die polisiemag op die dorp wat self te min personeel en hulpbronne het.
“Die polisie doen wat hulle kan, maar hulle het hul eie uitdagings.
“Daar is eenvoudig nie genoeg beamptes nie en in baie gevalle het hulle nie die nodige voertuie om vinnig te reageer nie. Ons het gevalle gehad waar ons om hulp gevra het, net om te hoor daar is geen vervoer beskikbaar nie.”
Van Rensburg beklemtoon “ons doen dit omdat ons daarin glo. Omdat ons die dankbaarheid in mense se oë sien wanneer hulle besef ons het hulle veilig gehou. Maar sonder meer hande sal ons nie kan voortgaan nie. Dit is nodig dat die gemeenskap na die tafel toe moet kom.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie