Die Klein Windhoekrivier loop baie naby aan die Elisenheim-landgoed verby. Foto verskaf
Die Klein Windhoekrivier loop baie naby aan die Elisenheim-landgoed verby. Foto verskaf

Elisenheim se inwoners siek en sat vir rioolreuk

‘Geen mens kan so lewe nie!’
Die Ujams-aanleg stort tans riool wat "gedeeltelik behandel is" in die Klein Windhoekrivier.
Kristien Kruger
“Die rioolgasse waaraan ons blootgestel word, is as gevolg van die storting van riool in die omliggende riviere. Die reuk is so erg dat dit jou snags wakker maak. Geen mens kan so lewe nie!”

Só het ’n inwoner van Elisenheim aan Republikein gesê nadat die reuk van riool verlede week weer sy kop uitgesteek het.

“Ons het in die verlede en ook onlangs talle klagtes oor die reuk van huiseienaars ontvang.

“Die klagtes hou verband met ’n reuk wat na bewering veroorsaak word deur die storting van onbehandelde, rou riool (untreated, raw effluent dumping) deur die Ujams-watersuiweringsaanleg wat die munisipaliteit besit en bedryf,” het Le-Hugo van Rooyen, die uitvoerende hoof van Trustco Properties, gesê en verseker dat die kwessie by die Windhoek-munisipaliteit aangemeld is.

Van Rooyen het beklemtoon die Ujams-aanleg het geen verbintenis met die landgoed, Elisenheim Property Development Company (EPDC) of die Elisenheim Owners Association (EOA) nie en het dit duidelik gemaak dat hierdie reuk voortspruit uit die beweerde rou rioolstorting deur die Ujams-aanleg.

‘WAS HANDE IN ONSKULD’

Volgens inwoners hang die onaangename reuk reeds vanaf verlede week weer oor die landgoed en die volgende boodskap is met inwoners op ’n WhatsApp-groep gedeel: “Hulle [Ujams] het gesê dat hulle vanoggend ’n invloei van meer as dubbel ontvang het wat hulle gewoonlik kry en dit was ’n bietjie meer as wat die plant ontwerp is om te hanteer.

“Hulle moes dus weer onbehandelde water in die rivier inlaat. Daar kan dalk weer slegte reuke wees. Hopelik nie te erg nie.”

’n Inwoner het ook daarop gewys dat hierdie optrede skadelik vir die natuur, diere en ondergrondse waterbronne kan wees en dat die gasse talle gesondheidsprobleme soos hoofpyn en naarheid kan veroorsaak.

“Om riool in die rivier te stort, omdat die aanleg dit nie kan hanteer nie, kan onmoontlik die logiese oplossing wees! Maar tog is dit asof almal hul hande in onskuld was.”

Volgens Van Rooyen is klagtes gedurende Februarie tot Junie 2021 ontvang, asook weer in Julie 2022, Oktober 2022, November 2023 en Mei tot Junie 2024.

“Beide die EPDC en die EOA het hierdie klagtes onmiddellik by die munisipaliteit aangemeld. Hulle is tans nie by hierdie proses betrokke nie, maar slegs op die basis om die munisipaliteit te waarsku oor enige probleme op die landgoed wat voortspruit uit probleme met die munisipaliteit se infrastruktuur,” het Van Rooyen gesê.

MUNISIPALITEIT STEL ONDERSOEK IN

Die woordvoerder van die munisipaliteit, Lydia Amutenya, het spoedig op navrae gereageer.

Sy het erken dat die munisipaliteit bewus daarvan is dat die volume riool wat by die Ujams-aanleg ontvang is onlangs die ontwerpkapasiteit oorskry het.

“Die onverwagte invloei van riool, wat in totaal ongeveer 1 238 m3 binne ’n tydperk van 4 uur beloop het, het ’n groot uitdaging vir ons bedrywighede ingehou.

“Hierdie volume was byna 50% meer as die aanleg se ontwerpkapasiteit, wat gelei het tot die inskakeling van reënmodus-protokolle om die verhoogde vloei te bestuur,” het Amutenya gesê en bygevoeg dat dit onverwags was en nie onder normale omstandighede gebeur nie.

Die reënmodus beteken dat riool in die rivier gestort word. Volgens bronne is dié water nie volledig behandel nie, maar is slegs deur die fyn siwwe en gruisverwydering behandel.

Die gedeeltelik behandelde water word dan saam met die volledig behandelde water in die rivier afgevoer.

Volgens Amutenya ondersoek die munisipaliteit die kernoorsake van die kwessie.

“Ons verstaan ​​die kommer wat die inwoners geopper het oor die reuk wat uit die Klein Windhoekrivier kom en verseker dat ons stappe doen om die situasie spoedig te takel.

“Ons span is daartoe verbind om die hoogste standaarde van omgewingsverantwoordelikheid en gemeenskapswelstand te handhaaf.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!