Elke by gered

Tanja Bause
“Ek het moed verloor, van die steierwerk afgeklim en onder op die grond gaan sit net om myself weer bymekaar te kry. Dit was net oorweldigend,” het Heinrich Schimming van HeiniBee gesê.

Hy en sy drie seuns het twee swerms bye met oor die geskatte 30 000 bye oor twee weke uit ’n kerk se kloktoring verwyder.

“Ek het ’n oproep van die Rooms-Katolieke Kerk in Windhoek ontvang oor ’n byeprobleem. Ek en vader Marek Fischer het ontmoet. Hy het vertel wanneer hy elke oggend in die kerk instap, sien hy talle bye teen die kerk se vensters, maar geen bye buite nie.”

Heinrich het ’n paar dae lank na die bye gesoek totdat hy van hulle teen die regterkantste muur van die kerktoring gewaar het. Hy het toe gesien dat die bye in die kerktoring is.

“Ons het met die beplanning begin en besef dit sou baie duur wees omdat ons steierwerk sou moes oprig, die muur breek, die bye verwyder en die muur weer sou moes opbou. Vader Fischer het gesê ons moenie oor die onkostes bekommerd wees nie want hulle wil die bye red en dit is al wat saak maak. Hy het gesê ons moet elke by red.”

Heinrich en sy seuns, Ferdinand, Brian en Carlos, wat almal deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme gesertifiseer is om bye te verwyder, het met die werk begin.

“Ons het eers die steierwerk tot op ses meter gebou, waar die bye was. Toe het ons opgeklim en die muur gebreek en die swerm met sowat 15 000 bye verwyder. Ons moes elke heuningkoek wat ons uitgesny het op ’n raam en dan in ’n emmer sit en die emmer ondertoe laat sak waar Carlos die koeke in die kaste gesit het. Ons het ook die stene so afgestuur en Carlos het vir ons water en alles was ons nodig gehad het, opgestuur.”

Heinrich het besluit om die werk in die aande vanaf 19:00 te doen om die veiligheid van die bure te verseker.

“Ons het om 19:00 begin om die muur te kap en dan skemertyd die bye met ’n ‘bee vacuum’ uit te suig. Ons het op YouTube gaan navorsing doen oor hoe om die bye op die hoogte uit ’n gat in die muur te kry en op die masjien afgekom en dit gebou. Ons het die bye uitgesuig, in ’n emmer gesit en na Carlos gestuur om in die kaste te sit. Die uitsuig, afstuur en in kaste sit, moes alles binne twee minute gebeur anders sou die bye versmoor.”

Nadat al die bye verwyder is, het Heinrich agtergekom daar is nog ’n swerm bye hoër op in die muur.

“Ons moes die steierwerk met vier meter verleng omdat die swerm op nege meter was. Dit was ’n uitdaging omdat die toring nouer boontoe geword het en die steierwerk nie gepas het nie. Ons moes begin saag, sweis en dit maak pas.”

Op die tiende dag van die byereddingsmissie – toe alles uiteindelik in plek was – het Heinrich amper tou opgegee.

“Jy staan daar bo in die donkerte met ’n koplig aan en daar is honderde en honderde bye wat om jou kop vlieg en teen die beskermende klere vasvlieg. Dit was eenvoudig net té veel en ek moes afklim.”

Onder op die grond wou Heinrich handdoek ingooi, maar sy seuns het hom aanhou moed inpraat.

“Ek het vir langer as ’n uur gesit en bid. Ek het opgestaan, opgeklim en vir die volgende drie dae het ek een van die moeilikste ekstraksies nog gedoen.”

Die bye is na twee weke sonder enige probleme verwyder en het ’n veilige tuiste op ’n plot buite Windhoek gekry.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!