Grafte toe onder die sand

Tanja Bause
Die gemeenskap van Keetmanshoop was die naweek ontsteld toe hulle besoek by hul geliefdes in die begraafplaas gaan aflê het en 12 grafte gevind het wat met sand toegegooi was.

“Ons was geskok toe ons by die grafte aangekom en die gemors gesien het. Weet jy hoe voel dit as jy by jou familie se graf kom en dit lyk só. Dis baie hartseer,” was van die kommentaar in die sosiale media.

“Ons weet nie of enige skade aan ons geliefdes se grafte en grafstene aangerig is nie. Dít sal ons eers kan bepaal wanneer die sand verwyder is,” het ’n persoon wat anoniem wou bly gesê.

Volgens me. Dawn Kruger, woordvoerder van die munisipaliteit, het ’n lid van die gemeenskap aansoek gedoen om vyf grafte in die gange tussen die grafte te koop.

“Ons het dit oorweeg en goedgekeur omdat die gange wyd genoeg is. ’n Kontrakteur is aangestel en hy het die besluit geneem om die sand op die bestaande grafte te gooi aangesien daar geen ander plek was om die sand te berg nie. Ons as munisipaliteit was nie bewus van die besluit nie en betreur die voorval. Dis nie hoe ons dit gewoonlik doen nie. Ons het ondersoek gaan instel en stene en sement afgelewer. Die grafte word nou uitgemessel en weer met die sand opgevul. Dit behoort teen Vrydag (vandag) klaar te wees en dan sal ons kan sien of daar skade aan die bestaande grafte aangerig is, maar ons glo nie so nie,” het sy gesê.

Volgens Kruger het ’n persoon die vyf grafte vir toekomstige gebruik gekoop.

“Die begraafplaas op Keetmanshoop is tans vol. Ons het ’n stuk grond 10 kilometer buite die dorp op die Aroab-pad vir ’n nuwe begraafplaas geoormerk. Dalk wou die persoon nie haar geliefdes so ver buite die dorp begrawe nie. Ek weet nie wat haar rede is nie, maar sy het die grafte gekoop.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer