Grootfontein trek sy sokkies op

Maak skoon, verwyder vee en plant bome
'n Noordedorp is tans aktief besig om sy paaie te herstel, die dorp skoon te maak, vee te verwyder en meer bome te plant.
Elvira Hattingh
Terwyl vrywilligers onverpoos werk om Grootfontein skoon te maak met kos as betaling, is dié dorp se munisipaliteit tans druk besig om slaggate te herstel.

Die afgelope Saterdag is ook altesaam 30 palmbome vir nasionale boomplantmaand geplant.

Die munisipaliteit sê die 30 palmbome wat al langs Dr. Nicky Iyambo-straat geplant is, is deel van ’n skenking van altesaam 60 bome deur die plaaslike onderneming Grootfontein Tractors & Implements.

“Die res van die bome sal hierdie week geplant word – al langs dieselfde pad, vanaf die Telekom-werkswinkel tot by die private hospitaal,” het die munisipaliteit op sy sosialemediaplatforms gesê.

Terselfdertyd is ’n kennisgewing uitgereik aan vee-eienaars, wat hul perde, skape, bokke en beeste toelaat om in die dorp te wei, om hul vee te verwyder, of die diere sal op die eienaar se onkoste geskut word.

Die munisipalteit het ook in ’n kennisgewing gesê dié diere bring verskeie uitdagings vir beide die dorpsraad asook die publiek. Die vee het al waterpype en grafstene gebreek, terwyl hulle private eiendom betree.

Die munisipaliteit waarsku dat, ingevolge die wet, vee nie in ’n dorpsgebied aangehou mag word of mag wei nie.

“Daarom het die dorpsraad beslis geen vee sal binne die dorpsgrense toegelaat word nie,” lui die kennisgewing.

’n Beroep word op die eienaars gedoen om hul vee te verwyder.

“Die verontagsaming van die versoek sal daartoe lei dat die vee geskut word – op die eienaar se risiko en onkoste,” het die munisipaliteit gesê.

Intussen het die dorp se paaie-afdeling die afgelope week werk voortgesit om die paaie in die dorp te verbeter.

“Die dorpsraad het kennis geneem van die publiek se kommer . . . oor die vervalle toestand van sommige van die teerpaaie,” volgens die munisipaliteit.

’n Groep van 50 vrywilligers, wat vir kos en skenkings werk, is ook besig om die dorp skoon te maak. Hulle het verlede week die gebied agter die dorp se Metro-winkel skoongemaak, nadat hulle twee weke vantevore ook so ’n gebied langs die dorp se staatshospitaal opgeruim het.

Die werk-vir-kos-projek is ’n inisiatief van die dorp se burgemeester, me. Thalita Garises. Sy sê die dorp sal voortgaan met verskeie skoonmaakveldtogte “totdat alles skoon is”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!