Gummybear en sy rooi vellies

Besoek kinders, bedlêende pasiënte
Gummybear behoort aan Vesta Burmeister wat terapeutiese perdryklasse naby Windhoek aanbied.
Tanja Bause
Gummybear die ponie spog met sy eie rooi 100 persent Namibiese vellies.

Hy behoort aan Vesta Burmeister wat terapeutiese perdryklasse naby Windhoek aanbied.

“Gummybear is nou vyf jaar oud en van kleins af is hy ’n regte lovebug wat net aandag en drukkies wil hê. Hy is ’n liefdediefie en ek wou nog altyd hom oplei sodat ons mense wat nie na my toe kan kom nie kan besoek.

“Daar is baie mense wat nie in die natuur en by ons perde kan uitkom nie en ons wou na hulle toe gaan. Ek het nog net nooit so ver gekom nie.”

’n Paar jaar gelede is Vesta met kanker gediagnoseer en moes sy chemoterapie kry.

“Ek het gesien hoe morbied dit is om daar te sit. Jy sit aan ’n drup, dit is stil en jy voel nie lekker nie. Dié herinnering het my die nodige hupstoot gegee om my en Gummybear se plan in werklikheid te verander.

“Ek het hom geleer om met ’n oprit op my bakkie te klim en ons het die mense by die onkologiesentrum begin besoek. Ons het veral kinders se dag gaan opkikker met iets positiefs, oulik, baie drukkies en liefde.”

Sy het toe besluit om ook mense in die hospitaal wat bedlêend is te gaan besoek.

“Ek wou vir hulle ook vreugde gee. Die probleem was dat Gummybear se hoefies op die teëls gegly het en hy kon nie loop nie. Ek kon nie die gewone perdeskoene opsit nie, omdat dit van yster is en ook sal gly. Ek het begin navorsing doen en na Leather Connection toe gegaan en saam met hulle het ons die vellies ontwerp,” het sy vertel.

Gerhard Baufeldt van Leather Connection het sy agtergrond in skoenontwerp gebruik en nadat Burmeister vir hom afdrukke van elke individuele hoef gegee het, het hy begin ontwerp.

“Elke hoef is anders. Die gewrig bo die hoef, die hoek en die vorm van die hoef ... alles verskil en ons het vir elke hoef ’n vellie gemaak. Hulle is elkeen verskillend, soos sy hoewe.

“Toe ek die vellies vir hom aantrek, was dit asof of hy nog altyd op hulle gewag het. Hy het nooit sy voete hoog opgetel of onnatuurlik geloop nie. Die vellies was aan sy hoewe en Gummybear het gelyk asof hy in sy noppies is. Hy loop op teëls met die grootste gemak en ons kan nie wag om hospitaal toe te gaan nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!