Have-a-Heart tien jaar sterk

Meer as 17 000 troeteldiere gesteriliseer en gekastreer
Mense van minder gegoede gemeenskappe in 62 nedersettings is gehelp.
Tanja Bause
Die dierewelsynorganisasie Have-a-Heart Namibia vier vanjaar sy tiende bestaansjaar.

Tien jaar gelede het wyle Lindie Prinsloo die eerste troeteldiere in Outjo verniet laat kastreer en steriliseer met die droom om dié veldtog landswyd uit te brei.

’n Groep vrywilligers het in 2018 ná haar afsterwe met Have-a-Heart Namibia voortgegaan om Prinsloo se droom verder te neem. In tien jaar het die organisasie reeds 17 000 troeteldiere oraloor die land gekastreer en gesteriliseer.

“Ons hoofdoel is om gratis kastrasies en sterilisasies vir honde en katte aan troeteldiereienaars met ’n lae of geen inkomste te verskaf.

“Ons uiteindelike doelwit is om die aantal rondloperdiere volhoubaar te verminder en sodoende die behoefte aan massa-genadedood uit te skakel. Terselfdertyd verbeter dit die gesondheid en welstand van honde en katte in veral die informele nedersettings,” het Geesche Neuburg, woordvoerder, gesê.

Elke hond en kat wat deur Have-a-Heart gesteriliseer word, word ook ten volle ingeënt en ontvang interne en eksterne parasietbeheerbehandeling wat direkte gesondheidsvoordele vir honde en katte, asook mense en plaaslike wilde diere inhou.

“Have-a-Heart is afhanklik van skenkings en word deur vrywilligers bestuur. Alle skenkings wat ontvang word, word gebruik om verskeie veeartse vir sterilisasies, kastrasies en die nodige medikasie te help.

“Ons vrywilligers gaan uit hul pad om die lewens van diere in informele nedersettings te verbeter deur raad en fisiese hulp aan troeteldiereienaars te verskaf wat andersins geen toegang tot sulke inligting of dienste sou hê nie.”

SEUN SE KOMMER

Wat volgens die stigting verlede jaar baie duidelik geword het, is hoe belangrik die werk is wat hulle doen, nie net vir die honde en katte wat gehelp word nie, maar ook vir die eienaars of versorgers van die diere.

Veral vir kinders wat reeds in baie moeilike omstandighede grootword, is dit besonders moeilik as hulle hul vierpotige vriend sien swaarkry. Hulle het nie die middele om hul diere te kan help nie en dis waar Have-a-Heart inkom. Met die hulp van veeartse help hulle die troeteldiere kosteloos.

Soos in die geval van die seun Nelly Uwiteb, wat vir Have-a-Heart benader het om hom met die regmaak van sy sewe katte te help.

“Wanneer ons só ’n navraag kry, is ons antwoord altyd dieselfde. Ons kan gratis help indien die eienaar van ’n lae of geen inkomste gemeenskap afkomstig is. Indien dit so is, laat weet ons waar jy bly sodat ons verder stappe kan doen.”

Nelly het geantwoord hy woon in Windhoek en hy sal probeer om taxi geld bymekaar te maak sodat hy die katte na die veearts kan neem.

“Een van sy katte het egter pas geboorte aan ses babakatjies gegee en ons was bang die ander katte sou dalk ook binnekort geboorte gee. Nelly sou dan met 30 katte sit in plaas van net met sewe, so tyd was nie aan ons kant nie.

“Ons het vir Joan Rohrbach van die Independent Cat Society Namibia gekontak en gevra of sy vir Nelly en sy katte met vervoer kan help. Sy het uitgevind Nelly is ’n 14-jarige seun wat bekommerd oor die toekoms van sy katte se babatjies is. Hy wou nie hê hulle moet op straat beland of swaarkry nie en het dus gedink om hulle te laat regmaak.”

Ses van sy katte is gekastreer en gesteriliseer. Hulle het hulle inentings gekry en die mammakat en haar kroos is vir eers in pleegsorg geplaas. Sodra die katjies oud genoeg is, sal ’n permanente huis vir hulle gesoek word en die mamma sal terug na Nelly gaan.

OORSIG

Have-a-Heart het reeds in 62 nedersettings, dorpe en stede mense met lae of geen inkomste se troeteldiere geopereer, ingeënt en teen parasiete behandel.

Veeartse van oor die land heen help hiermee en bied ope dae in die gemeenskappe aan.

Beukes Veterinary Consulting van Gobabis het nie in die dorp honde en katte geopereer nie, maar het ook na Leonardville, Aminuis, Plessisplaas en Onderombapa uitgereik.

Al vier die plekke is verlede jaar die eerste keer deur Have-a-Heart en veeartse besoek. In totaal het die veeartse van Beukes Veterinary Consulting 154 honde en katte reggemaak.

Die span van Windhoek Animal Hospital het 271 hoofsaaklik wilde katte van die hoofstad en Okahandja reggemaak. Dit beteken duisende ongewenste katjies minder wat in die volgende paar jaar gebore word.

Joan van Independent Cat Society Namibia en Tanja en Ronja Lyhs van Triglav Trust het die katte gevang, vervoer, in pleegsorg gehou en alles georganiseer.

“Sonder vrywilligers kan Have-a-Heart nie doen wat ons doen nie.”

In totaal het die span van AANWO veeartskliniek in Rehoboth 97 honde en 233 katte van die dorp reg gemaak. Te danke aan dr. Arnold Olivier was Rehoboth ook een van die eerste dorpe in die land wat in 2013 hul eerste ope dag vir kastrasie en sterilisasie gehou het. Oor die jare heen het hulle reeds 745 troeteldiere geopereer.

Dr. Hartmut Winterbach en Sheelagh Bagot-Smit van die Swakop Vet Clinic het 57 honde en 27 katte in Hentiesbaai reggemaak. Sedert die begin van die “spay days” in Hentiesbaai in 2017 is 570 diere in die dorp geopereer.

“In Omaruru het ons met Corischna Grobler en Ali Ryan van @the_ark_rescue hande gevat. Gedurende die jaar hou dr. Estelle Oosthuysen en dr. Mbitapi Kazarako op Donderdae ’n tyd oop vir Have-a-Heart se honde en katte.

“Corischna reël die vervoer en vang die diere. Boonop het Corischna saam met Ali ook in 2022 twee groot Spay-dae saam met dr. Estelle en dr. Kazarako gereël. Verlede jaar is 107 honde en 36 katte van Omaruru by die Have-a-Heart-gesin verwelkom en sedert die heel eerste ‘spay day’ in 2019 in Omaruru, is altesaam 476 honde en katte geopereer.”

In Lüderitz is 85 honde en 103 katte met die hulp van die dierebeskerming vereniging en dr. Erna Meyer reg gemaak. Sedert die eerste spayday in 2013 is 958 diere in die dorp geopereer.

In Mariental het dr. Meyer van VetsWeb Mariental net in die afgelope jaar 31 honde en 397 katte reggemaak.

“Ons moet dr. Erna hier uitsonder. Sy het alleen meer as 600 diere in Lüderitz en Mariental laas jaar geopereer. Sy het die diere terloops geopereer en nie as deel van haar daaglikse werk by VetsWeb Mariental.

“Dr. Ian Baines van Mobile Animal Clinic – Namibia het oor die 800 diere reggemaak, wat ook ongelooflik baie is.”

Die Mobile Animal Clinic het in 2017 begin en verlede jaar het hulle 878 diere in tien dorpe vir Have-a-Heart geopereer, ingeënt en teen parasiete behandel.

Dr. Iris Veltmann is ’n reisende veearts in Namibië wat vir Have-a-Heart honde en katte help in dorpe wat sy besoek en wanneer daar tyd is. Sy het in Oranjemund, Kamanjab en Aranos 20 diere geopereer.

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 25° Rundu: 20° | 28° Eenhana: 22° | 30° Oshakati: 22° | 27° Ruacana: 18° | 30° Tsumeb: 20° | 24° Otjiwarongo: 17° | 27° Omaruru: 19° | 30° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 19° | 29° Henties Bay: 17° | 18° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 30° Mariental: 19° | 33° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 18° Mbabane: 19° | 21° Maseru: 17° | 26° Antananarivo: 15° | 31° Lilongwe: 18° | 20° Maputo: 24° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 22° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 19° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!