Ontevrede inwoners van Katutura se John Pandeni-kiesafdeling tydens 'n protesoptog oor Stad Windhoek se berekening van rente op hul uitstaande rekeninge. FOTO ARGIEF
Ontevrede inwoners van Katutura se John Pandeni-kiesafdeling tydens 'n protesoptog oor Stad Windhoek se berekening van rente op hul uitstaande rekeninge. FOTO ARGIEF

Hou op om inwoners te mislei, sê RedForce

Nikanor Nangolo
RedForce Debt Management se uitvoerende hoof, Julius Nyamazana, sê die land se stygende munisipale skuld is as gevolg van politieke inmenging en ’n versuim om beleide af te dwing. Hy het ook plaaslike leiers daarvan beskuldig dat hulle hul politieke belange bo dié van hul gemeenskappe stel.

Nyamazana se opmerkings volg op groeiende protes van inwoners van verskeie dorpe oor dié skuldinvorderaar se modus operandi, met sommige plaaslike owerhede wat veg om hul kontrakte met die maatskappy te kanselleer.

Nyamazana het tydens die 21ste algemene jaarvergadering en konferensie van die Namibiese Vereniging vir Plaaslike Owerheidsbeamptes (Nalao) in Windhoek verwys na die uitdagings wat munisipaliteite en streekrade in die gesig staar, veral hul versuim om beleidstoepassing in lyn te bring met praktiese skuldinvorderingstrategieë.

“Talle plaaslike owerhede en rade lees nie eens hul beleide nie. Wanneer ek raadslede hoor sê: ‘RedForce moet gaan,’ mislei hulle mense.

“Beleidsrigtings stel dit duidelik wat moet gebeur, tog volg hierdie selfde leiers nie hul mandaat om geld in te vorder nie,” het Nyamazana gesê.

Volgens hom ondermyn politieke inmenging pogings om skuld in te vorder en gebruik sommige inwoners hul verbintenisse met politici om die betaling van hul munisipale rekeninge te systap.

“Dit is nie die senior burgers diep in Katutura wat kla oor hul water wat afgesny is nie. Dis invloedryke individue met toegang tot burgemeesters en uitvoerende hoofde.

“Wanneer RedForce invorderings afdwing, kom die teenstand nie van die armes nie, maar van diegene wat politiek as ’n skild gebruik,” sê Nyamazana.

“Dis besig om ons instellings dood te maak,” het hy bygevoeg.

Hy het ook verwys na kritiek oor die behoefte aan RedForce se dienste, ten spyte daarvan dat plaaslike owerhede departemente het om skuld te bestuur.

“Iemand het gevra hoekom ons departemente vir skuldbestuur het en tog van RedForce se dienste gebruik maak. Die eerste verduideliking sal tyd, fokus en werklading wees.

“Dorpe groei, maar plaaslike owerhede pas nie hul arbeidsmag daarvolgens aan nie. Die werklading neem toe, maar die aantal personeel bly dieselfde,” het hy gesê.

Volgens Nyamazana is die objektiwiteit van ’n derde party nog ’n kritieke voordeel wat RedForce bied.

“Daar is ’n botsing van belange tussen diegene wat skuld invorder en diegene wat skuld het. ’n Derde party verwyder die konflik en verseker onpartydigheid.

“Nog ’n kwessie is ondoeltreffende fakturering en invorderings. In sommige gevalle het plaaslike owerhede nie eens akkurate rekords van eiendomme of hul eienaars nie, wat tot verwarring en onbetaalde skuld lei.

“Ten spyte van die uitdagings moet ons op oplossings fokus. Oudits van skuld is noodsaaklik om finansiële verpligtinge te identifiseer en te prioritiseer.

“Die betrokkenheid van belanghebbendes is net so belangrik om inwoners in te lig oor hul verantwoordelikhede en om hul rekening te verstaan en te betaal.

“Deursigtigheid en aanspreeklikheid moet sentraal staan in vennootskappe tussen plaaslike owerhede en maatskappye soos RedForce.”

Nyamazana het RedForce beskryf as ’n tydelike maar noodsaaklike vennoot vir sukkelende munisipaliteite wat hulle help om kontantvloei te stabiliseer en hul finansiële doelwitte te bereik.

“RedForce is hier om die gemors skoon te maak en te loop. Ons beplan nie om vir altyd te bly nie, maar ons doen ’n beroep op munisipaliteite om nie ons dienste voortydig te beëindig nie.

“Ons het gevalle gesien wat owerhede ons in die pad steek en dan sukkel om salarisse te betaal en hul basiese verpligtinge na te kom.”

“Talle skuldenaars skuld nie net een munisipaliteit nie, maar verskeie instellings soos Telecom of die Rundu-dorpsraad.

“Ons databasis help om hierdie oorvleuelende rekeninge op te spoor en bied waardevolle insig om skuldinvordering te verbeter.

“Hierdie uitgebreide data is van onskatbare waarde vir plaaslike owerhede wat skuldinvordering wil verbeter,” het Nyamazana gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 42° Rundu: 21° | 37° Eenhana: 20° | 37° Oshakati: 23° | 36° Ruacana: 18° | 37° Tsumeb: 22° | 37° Otjiwarongo: 18° | 34° Omaruru: 17° | 35° Windhoek: 17° | 32° Gobabis: 19° | 34° Henties Bay: 15° | 20° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 16° | 34° Mariental: 18° | 34° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 18° | 34° Lüderitz: 15° | 25° Ariamsvlei: 17° | 31° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 25° | 39° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 18° | 37° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 41° Windhoek: 17° | 32° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 21° | 32° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 37° Harare: 19° | 34° #REF! #REF!