Katutura ruk op

Augetto Graig
“Tyd is geld, en geld is wat ons nie het nie.”

Dit was die woorde waarmee die klagskrif afgesluit is, wat gister aan die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, oorhandig is.

Ontevrede inwoners van Katutura het ’n protesoptog gehou, eers na die hoofkantoor van die Windhoekse munisipaliteit, en toe na Uutoni se kantoor, op soek na antwoorde en hulp. Die inwoners het die minister 72 uur gegee om op te tree en terugvoering te verskaf.

Hulle eis spesifiek dat Uutoni moet ingryp in die munisipaliteit se gebruik van die maatskappy Red Force om skuld in te vorder

Verder het hulle nie meer vertroue in die hoofstad se bestuur en stadsraad nie, en vra die minister om die munisipaliteit se leierskap te verwyder.

Die inwoners se ontevredenheid met die dorpsraad volg ses maande nadat hulle ’n klagskrif by die munisipaliteit ingedien het met voorstelle om die kwessies van skuld, water en kragtoevoer in hul woonbuurte te takel. Volgens die inwoners het die munisipaliteit tot nou toe nie daarop gereageer nie.

Windhoek se burgemeester, Joseph Uapingene, het nie die inwoners gisteroggend by die munisipale hoofkantoor ontmoet nie, en toe hy later by die ministerie se kantoor opdaag, wou die skare nie na hom luister nie.

Shaun Gariseb, ’n gemeenskapsaktivis van die Katutura Movement for Change en die woordvoerder van die ontevrede inwoners, het gesê hulle was nie beïndruk dat Uutoni hulle laat wag het terwyl hy met Uapingene vergader het nie. Dit nadat ou mense, wat deel van die optog is, so ver moes stap om hulle stem te laat hoor.

Gariseb sê Uutoni moet hulle voorstelle, wat in die belang van beide die munisipaliteit en die inwoners gemaak is, oorweeg en die munisipaliteit dwing om dit toe te pas. As Uutoni nie op hul eise reageer nie, sal die inwoners óf vir president Hage Geingob óf die howe moet nader, brei hy uit. Ander opsies sal lelike uitkomste hê, voeg hy by.

Die bekende musikant Jericho Gawanab het ook tydens die optog die toegang tot water en kragtoevoer, en ook Red Force se praktyk om beslag te neem van mense se huise oor munisipale skuld, as brandende kwessies geopper.

Op navraag het Red Force se adjunk- uitvoerende hoof en regsadviseur, Margaret Malambo, ontken dat die skuldinvorderaar huise in beslag neem weens wanbetaling.

“Nóg Red Force nóg die Stad Windhoek het sedert die totstandkoming van ons kontrak ooit beslag van eiendom geneem of verkoop om skuld te verhaal,” hou sy vol.

“Ons invorderingsmetodes is holisties en eties en is afgelei van die kredietbeheerbeleide wat ons kliënte beheer. Ons hou vol dat al ons verbintenisse met die debiteure wat oorgegee is, altyd bo verdenking is,” voeg sy by.

“Die betogings is natuurlik ’n jammerte,” sê Malambo, en voeg by dat die leiers van die betogers mense opstook omdat hulle nie hulle eie skuld kan terugbetaal nie.

“Dit is ons oorwoë mening dat hierdie leiers doelbewus inwoners aanhits om hul eie belange te dien en afbreuk te doen aan hul verantwoordelikhede teenoor ons kliënte. Kortom, ons bedrywighede bly onaangeraak – ons sal voortgaan om ons werk, soos vereis word, te verrig,” hou sy vol.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!