Kwesbare kinders kry nasionale dokumente

Geboortesertifikate, identiteitsdokumente
Die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit het 'n uitreikprogram begin om wees- en kwesbare kinders (OVC) te dokumenteer.
Tanja Bause
Reino Kampende van die Kavangostreek se hart loop oor van die vroeë Kersgeskenk wat hy gekry het. Sy kinders is uiteindelik die trotse eienaars van nasionale dokumente. Die 19-jarige Hendrik en die 16-jarige Elina het albei identifikasiekaarte gekry terwyl Isaka en Andreas, onderskeidelik agt en vyf jaar oud, hul geboortesertifikate ontvang het.

“Ek is die gelukkigste pa in die wêreld,” het Kampende gesê.

Die gesin kon voorheen geen maatskaplike toelaes kry nie omdat die kinders geen nasionale dokumente gehad het nie.

Dit het verander toe die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit ‘n uitreikprogram begin het om wees- en kwesbare kinders (OVC) met die ondersteuning van die Reach Namibia-program te dokumenteer. Die program word gefinansier deur die Amerikaanse president se noodplan vir vigshulp (Pepfar) en die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAID) en word deur Intrahealth Namibia en Project Hope Namibia implementeer.

Reach Namibia het dit vir 781 OVC's in die Kavango-Oos- en Wesstreke moontlik gemaak om nasionale dokumente te kry. Volgens Intrahealth Namibia se dr. Samson Ndhlovu wat verantwoordelik is vir die program in die betrokke streke, is die behoefte bepaal deur evaluerings van huishoudings wat gewys het baie weeskinders en kwesbare kinders het nie die nodige dokumente nie.

“Ons het gevind die meeste ouers of voogde van die kinders besef nie die belangrikheid hiervan nie of hoe om vir hierdie belangrike dokumente aansoek te doen nie. Hulle het ook nie die finansiële middele om na die kantoor van die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit te gaan nie,” het Ndhlovu gesê en die uitdagings beskryf wat inwoners van landelike gebiede in die land ervaar.

Die doel van die uitreik was om bewustheid te skep en om dienste na inwoners te bring sodat alle nasionale dokumente, insluitend geboortesertifikate, aan hulle uitgereik kon word. Die dokumente is veral belangrik vir inwoners wat reeds deur brood-en-botter-kwessies in hul alledaagse lewe geraak word.

“Nasionale dokumente is ‘n vereiste vir baie openbare en private dienste, soos om toegang tot maatskaplike toelaes te kry, te kan studeer of bloot ‘n werk te kan kry. Om nie ‘n geboortesertifikaat te hê nie, maak dit moeiliker om toegang tot hierdie dienste te verkry en skep verdere onsekerhede vir weeskinders en kwesbare kinders,” beklemtoon USAID se verteenwoordiger in Namibië dr. McDonald Homer.

Meer as 3 000 mense het nasionale dokumente ontvang toe die uitreikprogram na ander gemeenskapslede uitgebrei is. Onder hulle is die kinders van die 34-jarige Elina Sintungu, ‘n inwoner van die Nzinze-nedersetting wat 12 kilometer van Nkurenkuru, die streekhoofstad in Kavango-Wesstreek, geleë is.

“Hoewel ek my eie nasionale dokumente gehad het, het ek nie die geld gehad om my kinders na die kantoor te neem nie. Eers nou, toe die mense van die ministerie na die streek gekom het, kon ek hul geboortesertifikate en inligting kry en die eerste stappe begin om aansoek vir ‘n maatskaplike toelae vir hulle te doen.”

Die Reach Namibia-program werk saam met plaaslike vennote en organisasies om geïntegreerde gesondheids- en maatskaplike dienste aan kinders, tieners en jeugdiges te verskaf. Een van die sleutelingrypings is om versorgers en ouers in te lig oor die belangrikheid van geboorteregistrasie en hoe om aansoek te doen vir nasionale dokumente. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 23° | 36° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 36° Windhoek: 21° | 32° Gobabis: 22° | 34° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 22° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 23° | 36° Keetmanshoop: 21° | 36° Aranos: 25° | 35° Lüderitz: 16° | 30° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 27° Lubumbashi: 16° | 26° Mbabane: 19° | 26° Maseru: 18° | 31° Antananarivo: 13° | 28° Lilongwe: 18° | 29° Maputo: 24° | 36° Windhoek: 21° | 32° Cape Town: 18° | 24° Durban: 23° | 26° Johannesburg: 17° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 27° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!