Leë eenhede by ouetehuise vervalle

Opknappings onderhewig aan begroting
Die vertragings wat ondervind word met die plasing van nuwe huurders word toegeskryf aan vorige huurders se uitstaande skuld.
Phillipus Josef
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het ontken onbewoonde eenhede in twee staatsbeheerde tehuise vir bejaardes in Windhoek staan reeds jare lank leeg.

Die ministerie het gereageer op die lewensomstandighede waaronder bejaardes in Senior Park en Eastern Court gebuk gaan, met min tot geen instandhouding wat deur die staat gedoen word nie.

Tans is 14 eenhede tussen die twee ouetehuise onbewoon – 11 in Senior Park en drie by Eastern Court.

Die ministerie het egter by navraag deur Network Media Hub (NMH) ontken dat dié eenhede reeds jare lank leeg staan en sê dit het eers verlede jaar beskikbaar vir nuwe huurders geword.

Senior Park, die tuiste van 154 inwoners, werk volgens ’n stelsel waar senior burgers 4% van hul maandelikse inkomste aan huur betaal.

Vir pensioenarisse wat uitsluitlik op die regering se pensioentoelaag van N$1 600 staatmaak, beteken dit N$64 met ’n bykomende N$12,45 vir water. Elektrisiteitsrekeninge wat wissel van N$400 tot N$500 per maand, is die huurder se eie verantwoordelikheid.

Die ministerie dra die oorblywende bedryfskoste, wat maandeliks tussen N$400 000 en N$600 000 wissel.

Die vertraging in die plasing van nuwe huurders word toegeskryf aan uitstaande skuld wat deur vorige huurders agtergelaat is wat óf verhuis óf gesterf het.

In sommige gevalle het die huurders agterstallig met hul huur en munisipale rekeninge geraak, wat volgens die ministerie tot finansiële komplikasies lei.

Volgens die ministerie is skuld in 2023 afgeskryf en is die plasing van nuwe huurders aan die gang. Geen tydlyn hiervoor is egter aan NMH verskaf nie.

Ten spyte van die verduidelikings, groei frustrasie daagliks onder bejaardes wat op behuising wag. Verskeie het beweer hulle het reeds jare gelede aansoek gedoen en nooit enige terugvoering ontvang nie.

’n Bejaarde bron wat verkies het om anoniem te bly, het bevestig inwoners by die ouetehuis word gereeld deur pensioenarisse genader wat desperaat is vir verblyf.

“Hulle kom vra hier of daar plek is, maar al wat ek kan sê is dat hulle met die ministerie moet opvolg,” het die bron gesê.



SWAKOPMUND

Dit is egter nie net in die hoofstad waar staatsbeheerde behuising vir bejaardes ’n probleem is nie.

In Swakopmund het ’n inwoner van Welwitschia Park gesê inwoners is verantwoordelik vir die instandhouding van die huise.

“Tog bly dit toe en word vir ons gesê mense kan nie daarin woon nie,” het Rita Bronkhorst gesê.

“My broer is al vir ses jaar op ’n waglys. Ten spyte van die feit dat hy aangebied om een van die huise self op te knap, is hy nog elke keer afgewys.

“Intussen word huise toegeken aan diegene wat eerste ’n bod insit,” het sy gesê.



‘WANBESTUUR’

Brigitte Thaumüller, wat vir meer as 20 jaar tot 2011 huur by Senior Park en Eastern Court in Windhoek ingevorder het, meen dat wanbestuur ’n kernprobleem is.

“Beide plekke was tot dan in ’n goeie toestand. Ek dink die beamptes wat verantwoordelik is vir die toekenning van die huise is onbevoeg.

“Daar is aan ’n persoon wat ek ken gesê as sy N$3 000 betaal, sou sy ’n kans staan om plek te kry. Ek het dit self aangemeld, maar dit is moontlik net onder die mat ingevee,” het sy beweer.

Namibia het 17 private ouetehuise wat onder die ministerie geregistreer is en onder meer in Windhoek, Swakopmund, Keetmanshoop, Okahandja en Lüderitz geleë is.

Sewe staatsbeheerde geriewe fokus op bejaarde inwoners met ’n lae inkomste, insluitend Senior Park, Eastern Court en ook geriewe in Outjo, Gobabis, Keetmanshoop en Swakopmund.

Dié tehuise vir bejaardes word in samewerking met die ministerie van werke en vervoer bestuur, wat oorhoofs verantwoordelik is vir instandhouding en herstelwerk.

Die gesondheidsministerie het die behoefte aan dringende opknappings- en instandhoudingswerk by Senior Park erken, maar gesê dit val onder kapitale projekte wat onderhewig is aan begrotingstoekennings.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer