‘Lê strafregtelike klag teen Sinvula’

Nader ACC, meen ondersoekers
ʼn Verslag beskuldig die uitvoerende hoof van Grootfontein dat hy die dryfveer was agter die toekennings van tenders met ʼn gesamentlike waarde van N$21 miljoen wat glo onregmatig toegeken is.
desk editor
Die Grootfontein-munisipaliteit se uitvoerende hoof, mnr. Kisco Sinvula, behoort nie nét dissiplinêre verhoor te word nie, maar die munisipaliteit moet hom ook by die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) verkla vir moontlike strafregtelike vervolging, het ʼn regsfirma aangeraai.

Die firma, Henry Shimutwikeni & Co Inc, is aangestel om ondersoek by die munisipaliteit in te stel, midde onderlangse struwelinge en bykans vuisgevegte tussen amptenare, wat daartoe gelei het dat Sinvula in Maart tydelik uit sy pos geskors is.

Die besturende komitee het die regsfirma opdrag gegee om beweringe van wanpraktyke teen Sinvula te ondersoek, sodat daar vasgestel kan word of dissiplinêre stappe teen hom geneem moet word.

Die regsfirma moes onder meer beweringe ondersoek van weiering om bevele te gehoorsaam, die misbruik van gesag, oortreding van die verkrygingswet, vervalsing, die misbruik van openbare fondse en nalatige besteding.

AANTYGINGS

In die verslag beskuldig die regsfirma Sinvula daarvan dat hy die betaling vir vullisverwydering aan Frontier Multi Industries van N$330 000 tot N$550 000 verhoog het – sonder die raad se goedkeuring.

Dié maatskappy het ʼn driejaarkontrak met die munisipaliteit geteken, het die ondersoekers bevind.

Sinvula word ook daarvan beskuldig dat hy ʼn kontrak aan Otjomuise Construction CC toegeken het om sekere paaie in Grootfontein te herverseël – vir ʼn bedrag van N$5 miljoen – ʼn beweerde oortreding van die Verkrygingswet 15 van 2015. Die verslag dui aan dat die raad en die lynministerie net N$3,2 miljoen vir dié projek goedgekeur het.

Die uitvoerende hoof moet ook verduidelik waarom hy toestemming gegee het dat Otjomuise Construction die munisipaliteit se materiaal vir die herverseël van die paaie gebruik “sonder om die regte prosedure te volg of die nodige goedkeuring te ontvang”.

ANDER BESKULDIGINGS

In Oktober verlede jaar het Sinvula ook ‘n kontrak ter waarde van N$12,6 miljoen aan NBT Quality Services CC toegeken vir die installering van elektriese dienste in die dorp se Omulunga-gebied, uitbreiding 8.

Dit is gedoen sonder om by die bepalings van die verkrygingswet te hou en om ten volle deursigtig te wees oor hoe hierdie kontrak hanteer is, dui die verslag aan.

In nog ʼn kontrak, wat op dieselfde manier hanteer is, is ʼn N$4,3 miljoen-kontrak aan die gesamentlike onderneming NGC Investment CC JV Geckoh 58 Pty Ltd toegestaan vir die voortsetting van konstruksiewerk in Omulunga uitbreiding 6.

Die verslag verkla Sinvula daarvan dat geld van die plaaslike ontwikkelaar Tulaing Properties Pty Ltd versoek is, in ruil daarvoor dat hy die raad sal beïnvloed om ʼn geteerde pad voor die ontwikkelaar se vulstasie op die dorp te bou.

“Ná die sluiting van die bod, het jy met die pryse van die laagste tenderaar, Plastic Packaging, gepeuter om ‘n sekere K Hapu Investment CC te bevoordeel. Daarna het jy N$40 000 versoek of ontvang, as ‘n dankbetuiging,” lui nog ʼn beskuldiging in die verslag.

“Gedurende of rondom 25 tot 29 Mei 2021 het jy verblyf- en reistoelae (S&T’s) geëis om ʼn burgemeestersgeleentheid in Katima Mulilo by te woon en tegelykertyd ook S&T’s geëis om raadsvergaderings by die Omgewingsfonds op 26 Mei by te woon – en jy het betaling vir beide geleenthede ontvang,” word ʼn klagte van bedrog in die verslag teen hom gemaak.

“. . . jy het die finansiële afdeling opdrag gegee om jou selfoontoelaag van N$1 200 tot N$1 500 te verhoog, sonder om vooraf goedkeuring daarvoor te ontvang,” is verdere beskuldigings wat in die verslag gemaak word.

Die verslag beskuldig Sinvula verder van nalatigheid, nadat hy glo Covid-19-toerusting aangeskaf het sonder om die prosedures te volg soos uiteengesit in die verkrygingswet en dat die materiaal nooit afgelewer is nie – ten spyte daarvan dat die dorpsraad daarvoor betaal het.

“Jy het ook die raad bemagtig om ‘n betaling aan ‘n Suid-Afrikaans-gebaseerde advertensiemaatskappy te maak – in teenstelling met die bepalings van die verkrygingswet en tot op hede het die maatskappy nie enige dienste aan die raad verskaf nie.”

Sinvula het die klagte aan die Namibian Sun, Republikein se susterkoerant, as “verspot” beskryf en bevraagteken hoe die media die verslag in die hande gekry het voor dit aan hom gegee is.

“Dit is verspot en ongegronde aanklagte. Hulle moes beter as dit gedoen het,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!