Climate Change
Climate Change

‘Leefwyse van San besig om uit te sterf’

Verwoestende impak van klimaatsverandering
Die drastiese verandering in reënvalpatrone het gelei tot al hoe meer armoede onder die San-mense wat grootliks van "veldkos" leef.
Yandi Du Plessis
Jemima Beukes - Klimaatsverandering dryf die San-gemeenskap al meer na armoede.

Dit volgens Leon Tsamkxao, ’n lid van die bestuurskomitee van die Nyae Nyae-bewaringsgebied, wat vandeesweek insig gegee het in die verwoestende impak van klimaatsverandering op die gemeenskap.

Hy het gesê die drastiese verandering in reënvalpatrone het gelei tot al hoe meer armoede onder die San-mense – wat grootliks van “veldkos” leef, soos eetbare wortels, bessies, vrugte en neute.

“Gevolglik het die jag- en versamelkultuur ook geweldig verander omdat ons in die verlede maklik kon vasstel waar sekere wilde diere gevind kon word. Daar was byvoorbeeld ’n spesifieke plant wat deur gemsbokke geëet is wat hulle gehelp het om vir ’n lang tyd sonder water klaar te kom. Hierdie plante groei nie meer nie, so ons moet verder gaan.

“Net so met die kameelperde. Ons het geweet waar die kameeldoringboom groei, ons sal die kameelperd kry,” het Tsamkxao gesê.

“In die verlede was daar ’n boom wat hol aan die binnekant was en jagters kon hul dors les deur water met ’n strooitjieagtige grassoort uit die boom te suig. Daardie boom groei ook nie meer baie nie,” het hy gesê.

Wisselvallige reënval maak dit ook moeilik vir gemeenskapslede om te oes en op veldkos staat te maak, het hy gesê en bygevoeg dat te veel reën tot verrotting kan lei terwyl droogte weer beteken dat niks groei nie.

Intussen vrek wilde diere ook weens droogte, wat beteken dat jagters met leë hande huiswaarts keer met niks om hul gesinne mee te voed nie, het hy gesê.

STERF UIT

Volgens Tsamkxoa vernietig die toenemende aantal veldbrande tesame met die versengende hitte en die afwesigheid van reën gras waarmee die gemeenskap altyd hutte gebou het.

Gevolglik kan hulle nie meer nuwe huise bou vir nuwe gesinne of jong meisies wat mondig geword het nie.

“Dit beteken die leefwyse van die San-gemeenskap is besig om uit te sterf omdat ons noodgedwonge by die nuwe veranderinge in die weer moet aanpas. Omdat die San deur die regering en mense met toegang tot meer middele geminag word, beteken dit dat die San uiteindelik verniet werk en hulle word van hul waardigheid gestroop omdat hulle in baie erge armoede leef,” het hy gesê.

“Baie van ons mense kan nie die sinkplate bekostig wat gebruik word om huise te bou nie. Ons het jare lank gras en dierevelle gebruik, maar ons het nie meer toegang daartoe nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer