Los ons burgemeester uit, sê Grootfontein-inwoners

Grootfonteiners sê sy vervul slegs plig
Inwoners van Grootfontein sê hul burgemeester kry die wind van voor omdat sy probeer om die dorp "op te ruim".
Elvira Hattingh
“Los ons burgemeester uit, sy probeer haar bes om Grootfontein vir eens en vir altyd op te ruim!”

Dit was die kernboodskap van lede van die Grootfontein-gemeenskap, wat Vrydag ʼn vreedsame betoging ter ondersteuning van dié Noordedorp se burgemeester, me. Talitha Garises, gehou het.

Die gemeenskap meen sy word aangeval omdat sy besig is “om haar pligte in terme van die wet” uit te voer.

Die dorp was die afgelope tyd voortdurend in die nuus weens beweringe van bedrog deur onder meer die munisipaliteit se uitvoerende hoof, mnr. Kisco Sinvula, terwyl politieke twis die dorp verder lamlê.

“Ons staan vandag hier om aan die burgemeester die versekering te gee dat die Grootfontein-gemeenskap haar ten volle ondersteun. Ons vertrou dat sy korrupsie, wanbestuur, nepotisme, voortrekkery en stamgebondenheid sal uitroei – iets wat deur sommige in die instelling beoefen word,” lui die klagskrif wat die gemeenskap opgestel het en deur mnr. Julius Gomseb voorgelees is.

Die munisipaliteit se waarnemende uitvoerende hoof, me. Sarie Hangara, het die klagskrif ontvang en die gemeenskap belowe dat hulle binnekort ʼn reaksie op hul vrae sal hê.

In die klagskrif word beweer verskeie munisipale werknemers se poste is afgegradeer, om geld beskikbaar te maak vir tenders.

“In gister se koerante het ons almal gelees hoe miljoene op tenders verkwis is. Hieronder tel ʼn tender van N$5 miljoen, wat toegeken is om slaggate reg te maak.

“As jy egter deur die dorp ry is al die paaie steeds in ʼn slegte toestand en daar is geen verbeteringe te bespeur nie; dit oor substandaard werk,” het Gomseb gesê.

Volgens die klagskrif is sommige raadslede kop in een mus en is hulle verantwoordelik vir valse aantygings en die betogings teen die burgemeester sodat sy uit die Swapo-party moet bedank. Dit glo omdat sy met opposisie-raadslede saamsweer en ʼn stokkie voor die betaling van kontrakteurs gesteek het.

“Daar moet kennis van geneem word dat ʼn burgemeester nie die betaling van kontrakteurs hanteer nie . . .” het Gomseb gesê.

Die gemeenskap is ook bekommerd oor die feit dat die dorpsraad tans nie oor ‘n adjunkburgemeester beskik nie, wat volgens hulle ‘n “bewys” is dat sommige raadslede net daar is om hul eie belange te dien”.

Hulle meen indien enige een herroep word, moet dit die raadslede wees wat nie die outoriteit van die burgemeester en die waarnemende uitvoerende hoof respekteer nie.

“Ons glo en vertrou dat die ondersoek teen die geskorste uitvoerende hoof in ʼn gevorderde stadium is en die volgende stappe van die proses gevolg kan word sodat die kwessie afgehandel kan word.”

Sy is reeds twee maal verlede jaar geskors en word daarvan beskuldig dat sy saam met opposisiepartye saamsnoer, het die betogers gekla. Die gemeenskap sê die burgemeester het alle samewerking nodig om haar opdragte te kan uitvoer – wat in die beste belang van die dorp is.

“Soos die president altyd sê: ‘Speel die bal, nie die man nie.’ Dit behoort ons manier van sake doen te wees,” het Gomseb afgesluit. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!