Lüderitz in penarie voor Kreeffees
OK Foods, dorpsraad vandag in hof
Met die immergewilde Kreeffees wat vandag op Lüderitz afskop, plaas die derduisende besoekers glo verdere druk op beperkte kruideniersware.
’n Lid van Lüderitz se dorpsraad, Phil Balhao, meen die verlies aan OK Foods se dienste op die dorp kan die komende naweek hordes besoekers raak wanneer die Kreeffees na verwagting menigte na die dorp sal lok.
“Ons hoop hulle kan voor die naweek oopmaak. Daar is duisende mense op pad vir die Kreeffees. Met net een winkel sal dit nie werk nie,” het hy gesê.
Dié bekende kettingwinkel op Lüderitz se deure is die begin van die maand glo weens gesondheidsredes gesluit.
Hannelie de Lange het namens OK Foods ’n dringende hofaansoek teen Lüderitz se dorpsraad gebring nadat die winkel gesluit is. Sy het in haar funderende verklaring gesê tussen einde Maart en 5 April is drie gesondheidsinspeksies op verskillende dae by die winkel uitgevoer.
Sy het glo ná die eerste inspeksie versoek dat die uitslae van die inspeksie op skrif gesit en aan haar gegee word, wat glo nie gebeur het nie.
Sy sê in haar verklaring dat die notas van die inspeksie mondelings met haar gedeel is en sy is ingelig ’n opvolginspeksie sou gedoen word.
’n Beampte van die gesondheidsministerie het glo op 3 April opgedaag met ’n brief waarin De Lange ingelig is dat sy van die volgende dag nie haar besigheid mag bedryf nie. Hierdie brief het glo ander redes uitgestippel as dié wat voorheen aan haar gekommunikeer is.
De Lange het in haar verklaring gesê dat sy nooit redelike kennisgewing ontvang het van hierdie inspeksies nie. Haar verklaring maak ook melding van “katastrofiese verliese” en verduidelik dat haar besigheid vir jare toegelaat is om ongesteurd handel te dryf, sonder dat inspeksies uitgevoer is.
Partye verskyn vandag in die hoërhof in Windhoek voor regter George Coleman. Die dorpsraad het reeds aangedui dat hulle die saak gaan teenstaan.
ANDER WINKELS
Die woordvoerder van die dorpsraad, Elwin !Gaoseb, het Maandag bevestig dat OK Foods se deure op die dorp gesluit is. Dit nadat die winkel se bedryfslisensie glo weens higiëniese redes nie hernu is nie.
“Die dorpsraad van Lüderitz moedig ondernemings binne die dorpsgebied aan om die wetgewende raamwerke na te kom. In hierdie verband is ons in konsultasie met ons regsadviseur om die hofgeding wat ingestel is, te bestudeer voordat ’n openbare standpunt ingeneem word,” het !Gaoseb by navraag gesê.
Volgens hom het Lüderitz verskeie ander kruidenierswinkels en kleinhandelaars waar inwoners hul daaglikse inkopies kan doen.
“. . . ons gemeenskap is nie heeltemal gekniehalter deur die sluiting van OK Foods nie,” het hy gesê.
Balhao het gesê: “Dalk kan julle ook besoekers waarsku om voorbereid te kom, want dit gaan maar rof gaan, dink ek. Ons hoop vir goeie nuus oor OK môre [vandag], maar net om veilig te wees.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie