Maltahöhe kry tweede asem

RuralRevive wil mense, dorp bevorder
Die projek vorm deel van die Wolwedans Visie 2030 - The AridEden-projek.
Tanja Bause
Maltahöhe in die suide van die land is besig om deur RuralRevive die gemeenskap en dorp te bevorder en te laat herleef.

RuralRevive is die opbou van ’n woestyngebaseerde ekonomie en het ten doel om ’n model te ontwikkel vir ’n gediversifiseerde plaaslike ekonomie in die Namibwoestyn deur voorsieningskettinggapings en die behoeftes van die plaaslike gemeenskap te bepaal om entrepreneurskap en werksgeleenthede vir die minderbevoorregte mans en vroue van die dorp en omgewing te skep.

Die projek word gekonsepsualiseer onder die Wolwedans Visie 2030 – Die AridEden-projek, ’n volhoubaarheidsraamwerk wat Wolwedans se reis vorentoe insluit.

Die projek se fokus is om meer volhoubare en billike toerisme en bewaringsekonomieë te vestig, gebaseer op vyf kernpilare: handel, gemeenskap, bewaring, kultuur en bewustheid.

Die medium- tot langtermynontwikkelings- en gemeenskapsherlewingsprojek is besig om vorm aan te neem in Maltahöhe, ’n dorp wat gekenmerk word deur hoë werkloosheid, armoede, besoedeling en maatskaplike verbrokkeling – soos in soveel ander klein dorpe in landelike Namibië.

Ongeveer 20% van Wolwedans se personeel en -leerlinge kom van Maltahöhe en die omgewing. Die dorp is sowat 180 km oos van NamibRand Natuurreservaat geleë en is ook die naaste dorp. Dit is ook op Wolwedans se weeklikse verskaffingsroete, wat nog ’n rede is waarom die ondersteuning van Wolwedans se sosioëkonomiese ontwikkeling ’n wen-wen-geleentheid vir almal bied.

’n Wassery, tuinbou, The Barn, DesertRunner en skoonmaak- en afvalbestuurprojekte vorm deel van die projek.

WASSERY

Die wassery sal vroeg volgende jaar sy deure oopmaak en werk aan vroue in die dorp bied.

Alhoewel die potensiaal vir ekonomiese geleenthede vir Maltahöhe die ooglopende motivering vir hierdie aktiwiteit is, hou die vestiging van ’n wassery ook bewaringsvoordele in vir die meer sensitiewe woestyn-ekosisteem van die Groter Sossusvlei-NamibRand Landskap (GSBL). Vir elke toerisme-operateur in die streek om hul eie wasgoed te was, is die onttrekkingsvereistes van die ondergrondse waterbronne in die woestyn beduidend, om nie eens te praat van die krag en skoonmaakmiddels wat gebruik word en arbeid en ruimte wat benodig word nie. Die water, krag en afval word so volhoubaar soos moontlik van die begin af by die wassery hanteer.

TUINBOU

Die projek sal voortbou op die sukses wat die Wolwedans-span in hul eie organiese kruie- en groentetuine opgelewer het.

Kweekhuise en besproeiingstelsels sal opgerig word, aanvanklik op die wassery en projekperseel, en sal dan in en om Maltahöhe uitbrei vir die produksie van organiese groente. Dit kan beide aan die plaaslike mark en die wyer toerismebedryf wat in die streek werksaam is, voorsien.

Kapasiteitsbouvaardighede vir plaaslike boere en die jeug van Maltahöhe sal ’n kultuur van selfvoorsiening koester, plaaslike voedselsekerheid verbeter en werksgeleenthede skep.

THE BARN

The Barn sal hoofsaaklik as ’n verspreidingsentrum in Maltahöhe dien en sal ’n sentrale markplek bied waar plaaslike boere en klein produsente ’n verskeidenheid vars produkte, soos onder meer groente en vrugte, verwerkte vleisprodukte, eiers, kaas en konfyte kan verkoop.

Dit sal marktoegang skep en terselfdertyd entrepreneurskap bevorder.

’n Koffiewinkel kan ook ’n ontmoetingspunt vir produsente en toeriste word.

DESERTRUNNER

Om ’n vervoerdiens aan toerisme-ondernemings in die Sossusvlei en NamibRand te bied, vorm ’n noodsaaklike komponent om RuralRevive te laat werk.

Dit sal ’n geskeduleerde vervoerdiens twee keer per week vir die aflewering en oplaai van wasgoed, vars produkte, afval en nog belangriker, mense insluit.

Deurlopende vervoeroplossings sal gevestig word om die Daweb-kiesafdeling met die nasionale vervoernetwerk te verbind.

SKOONMAAK, AFVALBESTUUR

Terwyl die Wolwedans-stigting meer aktief raak in die ekonomiese ontwikkeling van die Maltahöhe-gemeenskap, poog die stigting om die plaaslike jeug van die Sekondêre Skool Daweb en die breër gemeenskap te betrek.

Dit deur die maatskaplike en omgewingstruktuur van die dorp te verbeter deur middel van ’n deurlopende skoonmaakveldtog.

Om dit moontlik te maak, sal ’n geïntegreerde en kollektiewe benadering tot die bestuur van afval as ’n hulpbron (“Trash-to-Treasure”) ontwikkel word, wat stortingsterreine en landskapbesoedeling in die dorp en die Daweb-kiesafdeling aansienlik sal verminder.

Die doel is om ’n skoner, gesonder omgewing te verseker, wat beide mense en planeet bevoordeel en terselfdertyd bestaansgeleenthede skep.

Die Trash2Treasure-inisiatiewe sal ook die waarde van afval-items uitlig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!