Mangaanvervoer dalk tot stilstand gedwing

Omgewingskommissaris belowe ondersoek
TransNamib het 'n ultimatum ontvang om binne sewe dae te verseker dat alle lorries en treinwaens wat mangaanerts vervoer, behoorlik bedek word.
Tanja Bause
Die mense wat langs die hoofpad tussen Aus en Lüderitz woon, het vandeesweek hul stemme dik gemaak oor die onbedekte lorries en treinwaens wat mangaanerts vervoer.

Dié groep het Woensdag TransNamib op Keetmanshoop in kennis gestel dat hulle ná sewe dae elke trein of vragmotor wat mangaanerts vervoer en nie behoorlik bedek is nie, gaan voorkeer.

“As ons regering die kwessie ignoreer moet ons as die burgerlike samelewing daadwerklik begin optree en planne beraam.

“Ons sal ná sewe dae enige onbedekte vragmotor of trein by padversperrings in samewerking met die polisie stop. Bestuurders sal in hegtenis geneem word en vragmotors of treine sal nie toegelaat word om verder te ry nie,” het Frikkie Mouton gesê.

Verskeie boereverenigings is aan boord sowel as lodge-eienaars en lede van die gemeenskap.

“Hulle ry by my lodge verby en stel die toeriste, my werkers en familie in gevaar. Ons praat en praat en het nou genoeg gehad. Ons het nou al die boereverenigings van Bethanie tot in Lüderitz wat gereed staan. Ons is nog besig om met diegene van Bethanie tot in Keetmanshoop te gesels, maar daar sal nie ’n probleem wees nie want hulle is net so gatvol. Nou bedek hulle die treinwaens in Aus. Wat van al die mense tussen Aus en Ariamsvlei?”

STOP OP AUS

Die trein wat mangaanerts vanaf Ariamsvlei na Lüderitz se hawe vervoer, stop tans op Aus waar al die waens met seile bedek word.

Volgens Dieter Curschmann, ’n inwoner van Aus, het die trein Maandag in die dorp gestop en werkers het die waens met seile bedek.

“Die seile was op die trein. Hulle is van die trein afgelaai en op elke wa vasgemaak. Dinsdag was dit dieselfde storie, behalwe dat die seile dié keer iewers uitgehaal is,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat die trein voorheen selde op Aus gestop het en as hy dan en wan gestop het, was dit nie vir langer as ’n uur nie.

“Dinsdag het die trein om 09:00 in Aus aangekom en eers om 14:40 weer vertrek omdat hulle besig was om die seile op te sit.

“Woensdag het die trein met onbedekte mangaanerts om 08:55 in Aus gestop. ’n Bakkie het die seile gering en werkers het begin om die waens te bedek. Die trein het omstreeks 11:30 weer vertrek nadat al die waens met seile toegemaak is.

“Donderdag het die trein om 13:40 deur die dorp gery en al die waens was bedek. Dit is seker omdat die gemeenskap van die Suide die vorige dag ontstoke was en optrede van TradePort, die polisie en TransNamib geëis het.”

TradePort het verlede week die waens met plastiekdeksels en seile buite Lüderitz bedek vir die laaste sowat 2,5 kilometer deur die dorp.

Dit nadat die erts op Ariamsvlei ongeveer 625 kilometer weg gelaai is. Aus is 124 kilometer vanaf Lüderitz, wat beteken die mangaanerts is nog steeds sowat 500 kilometer onbedek vervoer.

TransNamib se woordvoerder, Abigail Raubenheimer, het verlede week gesê dat alle waens wat nie bedek is nie gestop sal word.

Toe Curschmann ’n werker vra wat hulle doen, het hy gesê: “Ons maak hulle toe want ons wil nie meer probleme hê nie.”

OMGEWINGSKOMMISSARIS REAGEER

Die omgewingskommissaris, Timoteus Mufeti, sê die vervoer van gevaarlike stowwe is ’n gelyste aktiwiteit wat nie sonder ’n omgewingsklaringsertifikaat (ECC) kan plaasvind nie.

“Een van die voorwaardes van die ECC is om te verseker dat materiaal behoorlik beveilig en bedek is, om enige vorm van besoedeling tydens die vervoer, laai en aflaai te voorkom.

“My kantoor sal inspekteurs uitstuur om die TradePort-geriewe, insluitend die vervoertoerusting, vir die moontlike nienakoming van die ECC te inspekteer.

“Die inspeksie sal ook besprekings met belanghebbendes insluit om inligting in te samel. My kantoor sal toepaslike stappe doen as daar gevind word dat daar nie aan die ECC se voorwaardes voldoen word nie. Dit sluit in die staking van bedrywighede, die kansellering van die ECC, sowel as die instelling van regs- en of strafregtelike klagte teen die skuldiges ingevolge die wet op omgewingsbestuur en met ondersteuning van ander wetstoepassingsagentskappe.

As daar bevind word dat die skuldiges die omgewing besoedel het, kan hulle ook beveel word om die omgewing skoon te maak. TradePort sal verantwoordelik gehou word as hy nie die ECC se voorwaardes nagekom het nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer