M’s nie net ’n gewone sous

Tanja Bause
“Sowat 25 jaar gelede het ek die sous vir die eerste keer by vriende geproe en het dit soms vir eie gebruik by die huis gemaak. Nou is M’S Sauces in 16 winkels oraloor Namibië en by twee in Suid-Afrika beskikbaar,” het Marilize Brown (52), die vrou agter die souse, gesê.

Marilize is einde 2021 afgelê en sy het gesukkel om werk in Swakopmund te kry.

“Om te trek was nie ’n opsie nie omdat ek my ma versorg; so ek het begin om die souse te maak.

“Ek het die sous eers vir huishoudelike gebruik en vriende gemaak aangesien ek dit so lank gelede vir die eerste keer geproe het. Almal het altyd baie daarvan gehou en ek het besluit om dit te maak en te bemark; net om te sien of ek geld daaruit kan verdien.”

M’s Sauces word met fetakaas, vars knoffel, olyfolie en kruie gemaak.

“Ek het die resep aangepas met minder olie en ander kruie bygevoeg om die sous meer bekostigbaar vir die plaaslike mark te maak. Fetakaas en olyfolie is baie duur produkte.”

Die sous is in drie verskillende geure beskikbaar: knoffel, brandrissie en suurlemoen en kruie. Marilize werk tans aan ’n nuwe biltongsous sonder knoffel.

“Daar is mense wat allergies is vir knoffel of net nie daarvan hou nie; so met die vierde sous het ek twee met en twee sonder knoffel.”

Die souse is lekker saam met ’n vars gebraaide steak aangesien dit van fetakaas gemaak is – veral die knoffel- en brandrissiesous.

“My souse is ook baie lekker saam met boerewors, skaapvleis, gekookte aartappels, pasta, brood, geroosterde groente, hoender, vis en vark.

“Die biltongsous sal ek vir ’n kaasbord met soutkoekies of vars gebakte brood en geroosterde groente voorstel, terwyl die suurlemoen en kruie lekker is saam met vis of hoender.

“Maar elke persoon het sy eie smaak en moet besluit wat vir hom lekker is. Toets en probeer wat vir jou die beste werk. Die sous is uniek en is iets nuut om saam te vat as jy gaan kamp, piekniek hou of net saam met jou vriende ’n kaas-en-wyn-aand hou.”

Marelize werk halfdag en dan begin sy die souse in haar kombuis maak. Voordat sy begin werk het, het sy nog ander souse gemaak, asook twee verskillende konfyte en gebottelde slaaie.

“Noudat ek halfdag werk, het ek nie die tyd om by alles uit te kom nie. My droom is om eendag ’n klein fabriek te hê waar ek ook ’n paar vroue op ’n permanente basis in diens kan neem.”

Marelize maak en bottel die souse self en haar ma, Marie Prinsloo, plak die etikette op.

M’s Sauces is tans in Swakopmund, Walvisbaai, Otjiwarongo, Tsumeb, Outjo, Windhoek, Oranjemund en Maltahöhe beskikbaar.

Die souse is ook in Pretoria en in die Kaap in Suid-Afrika te koop.

“Die vervoerkoste maak dit onmoontlik om die souse hier te maak en Suid-Afrika toe te stuur. Ek het dus familie en goeie vriende genader om M’s Sauces volgens my resep daar te maak en onder my handelsmerk te versprei.

“Ek het tans een agent in Pretoria en een in die Kaap. Suid-Afrika het nog hope potensiaal omdat daar baie meer voete as in Namibië is, maar jy moet ook betroubare mense kry om die souse volgens my standaarde te maak.

“Daar is belangstelling van iemand in Johannesburg wat ’n groot mark vir die souse sal wees; so ek is opgewonde om daardie bal aan die rol te kry.”

M’s Sauces is almal keto- en banting-vriendelik.

“Moenie wag nie, doen dit en kyk wat gebeur. Dít is my raad aan mense wat ’n unieke produk het en twyfel. ’n Mens twyfel soms te veel in jouself en is bang om iets te waag, maar jy gaan tog nie weet as jy nie probeer nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!