MS-stigting dankbaar vir groot skenking

Iréne-Mari van der Walt
Die Veelvuldige Sklerose (MS)-stigting in Namibië het die naweek ’n skenking van N$100 000 ontvang.

Die stigter van die organisasie, Bianca Ozcan, sê die skenking sal die lewens van vele MS-pasiënte landswyd verbeter.

“Ons het ook die goeie nuus gekry dat dit dalk selfs meer as N$100 000 kan wees weens die omskakeling van geldeenhede,” het die voorsitter van MS Namibia, Mouchelline Le Hanie-Beukes, gesê.

Die Vrymesselaars se groot losie in die Verenigde Koninkryk het die geld geskenk en is volgens Ozcan ’n wonderwerk.

“Gedurende die pandemie is ons organisasie hard getref en dit het ons gedwing om wyer vir ondersteuning te soek. In terme van welstand – veral in gesondheid – is die geleenthede so min en meeste liefdadigheidsorganisasies is afhanklik van dieselfde borge, wat die geleenthede kleiner en kleiner maak,” het Ozcan die naweek by die oorhandigingsgeleentheid gesê.

“Ons is meer as net dankbaar; dit gaan ons help om baie gate toe te stop,” het Le Hanie-Beukes bygevoeg.

Sy sê daar bestaan verskeie stigmas oor veelvuldige sklerose wat selfs meer ongemak in die lewens van MS-pasiënte kan meebring.

“Hulle sien jou onmiddellik as ’n invalide. Hulle dink jy kan nie dink nie en jy kan nie jou werk doen nie. Baie mense kry glad nie werk nie en talle verloor hul werk omdat mense nie regtig verstaan nie. Hulle besef nie dat MS-pasiënte nog ’n volle lewe kan lei nie,” het Le Hanie-Beukes gesê.

Gernot Piepmeyer van die Vrymesselaars sê dié organisasie se beginsels is verweef met die bemagtiging van gemeenskappe.

“Vriendelikheid en liefdadigheid is diep ingeburger in die beginsels van vrymesselary. Die organisasie verskaf ’n ondersteuningstruktuur wat lede help om positiewe bydraes tot gemeenskappe en verdienstelike inisiatiewe te lewer deur middel van geldinsamelingsgeleenthede of vrywilligerswerk,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!