Steve Hofmeyr verwys na Namibië as sy "surrogaatland". FOTO ARGIEF
Steve Hofmeyr verwys na Namibië as sy "surrogaatland". FOTO ARGIEF

‘My gelyke totdat jy trap op regte van ander’

Henriette Lamprecht
Hy sal enige persoon se reg om te bestaan verdedig en hy gee nie ’n “duiwel om oor hoe jy jouself identifiseer nie”.

“Jy is my gelyke totdat jy trap op die regte van ander en totdat jy ons kleuters seksualiseer vir julle grille en plesier,” sê die Suid-Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr wat tans in Namibië op toer is en vol sale lok.

Hofmeyr sê in ’n opvolgvideo oor ’n plasing in die sosiale media waarin hy uitlatings gemaak het dat die LGBTQ+-gemeenskap ook bestialiteit insluit, “ek sal nooit ophou om daardie ‘woke fascist puppies’ onder ons te bevraagteken nie.”

Die akroniem LGBTQ+ staan vir lesbies, gay, bisexual, transgender en queer. Die + aan die einde sluit ander seksuele voorkeure, soos non-binêr en panseksueel in.

Die sanger sê hy het in sy eerste plasing bloot soos die res van die wêreld Disney aangeval vir die skaamtelose “grooming van ons kinders.”

Dit verwys na ’n besluit van Disney om voortaan meer inklusief in sy produksies te wees en dat onderverteenwoordigende groepe soos rasse-minderhede en die LGBTQ+-gemeenskap teen die einde van die jaar ten minste 50% van sy gereelde karakters moet uitmaak.

In sy video verlede week het Hofmeyr hieroor gesê waar sy generasie geleer het om met muise, honde en eende te praat, “gaan ons kinders geleer word hoe om met muise, honde en eende seks te hê”.

Hofmeyr verwys in die jongste video ook na Namibië as sy “surrogaatland” en waar “1 000 mense vir my die Suidwes-lied gesing het”.

Hy ontken hy het die video met die gewraakte uitlatings verwyder en dat hy geen probleem het om die LGBTQ+-gemeenskap om verskoning te vra nie.

“Ek het geen geveg met hulle nie, het nog nooit gehad nie.”

Hofmeyr sê in die jongste video “ek het nie besluit om ons kleuters te seksualiseer soos Disney besluit het om sy karakters te seksualiseer nie”, terwyl hy ook sê hy het nie enige persoon se voorname voorgeskryf, die woorde “seuns en meisies” en “dames en here” verban, godsdienstige gemeenskappe gedwing om teen hul geskrifte te draai, kerke gedwing om enige persoon te trou, enige persoon probeer “kanselleer” nie en ook nie biologiese vroue gedwing om teen mans deel te neem nie.

“Ek het nie geglimlag terwyl Hollywood en Disney hierdie absolute malligheid normaliseer nie.”

Out and Proud Namibia se voorsitter, mnr. Chris de Villiers, het by navraag gesê die organisasie gaan eers “terugstaan” en wetgewing vir menseregte asook internasionale liggame raadpleeg, voordat dit verder reageer.

Plasings in reaksie op Hofmeyr se standpunte het gewissel van “jy is ’n man met ruggraat en integriteit”, “omvattend, in die kol en waarheid”, “ek wil vir jou dankie sê dat jy ons trots maak om Afrikaner te wees tot ’n uitnodiging om in “Nam te bly, ons kies jou as ons president”.

Aan die ander kant is hy van haatspraak beskuldig terwyl ’n ander vra waar het dinge vir hom skeefgeloop, “ek is geskok dat iemand van jou statuur soveel onsin kan kwyt raak en soveel Afrikaanses jou ondersteun!”.

Hofmeyr beskryf dit as ’n “absolute voorreg” om in Namibië te kan optree en hy is “steeds verlief op hierdie land”. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!