’n Emmer rommel in ruil vir ’n roomys

Tanja Bause
“Ons staan nou al vir agt jaar op dieselfde plek by die see en het gesien hoe dit rondom ons en op die strand al hoe vuiler raak. Ons het besluit om iets te doen. Ons gee vir mense ’n emmer wat hulle vol rommel kan maak. Hulle bring dan die emmer terug en kry ’n gratis koffie of roomys,” het Maggi Ackermann, die eienaar van Fork ’n Nice of The Yellow Bus-kostrok in Swakopmund gesê.

“Wat kos ’n koffie of roomys ons nou eintlik? Ons doen dit al langer as ’n jaar en rondom ons is die strand mooi skoon. Mense moet nou bietjie verder loop om die rommel op te tel.”

Maggi sê veral die toeriste hou van die idee.

“Hulle kom van oral en dan moet die kinders in ’n ry staan en hulle emmers kry. Die kinders word dan gestuur om rommel op te tel terwyl Ma en Pa vir die kos wag. Die kinders kom terug, die handjies word ontsmet en hulle kry hulle roomys.”

Fork ’n Nice is die enigste besigheid wat só ’n inisiatief in Swakopmund van stapel gestuur het en volgens Maggi sal hulle daarmee voortgaan omdat daar elke dag nuwe rommel op die strand sal wees.

FORK ’N NICE

Maggi was ongelukkig in haar werk en agt jaar gelede toe die kostrok op die mark gekom het, het hulle besluit om dit te koop.

“Ons was die eerste kostrok in Swakopmund en in die begin was dit moeilik omdat mense nie die konsep verstaan het nie. Hulle het dit nie geken nie, maar ‘word of mouth’ en om voortdurend kos van goeie gehalte te verkoop, het dit alles die moeite werd gemaak.”

Maggi sê hulle het met vis en tjips begin en die kos in koerantpapier toegedraai om die nostalgie van vergange dae te behou.

“Jy onthou die dae toe Pa die kos gaan koop het en julle op die strand gaan sit en uit die koerant gesmul het.

“Ons verpak die vis en tjips nog steeds so alhoewel dit al hoe moeiliker raak om koerante in die hande te kry. Die ou inwoners van Swakopmund bring hulle koerante vir ons, maar dit bly ’n probleem. Deesdae bêre almal hulle koerante om te herwin. Wat is lekkerder as om die koerant te lees terwyl jy eet?”

The Yellow Bus spog ook met die oudste spyskaart in Swakopmund want dit het oor die afgelope agt jaar nog nooit verander nie.

“Mens peuter nie met iets wat werk nie. Ons spyskaart het iets vir almal en nie net seekos nie.”

Vier vroue is gedurende die week werksaam by Fork ’n Nice en vyf oor naweke.

Maggi se geheim is dat sy nog steeds elke jaar self in haar kostrok agter die potte staan om te verseker die kwaliteit bly dieselfde as agt jaar gelede.

“Ons gebruik nog steeds dieselfde bestanddele soos botter. Ons gaan nie nou die botter met iets goedkoper vervang nie en ons kwaliteit in gedrang bring nie. Ons kry besoekers van oraloor die wêreld wat sê hulle het van ons in die sosiale media gehoor of gelees. Ons is onder die toptien-restaurante in Swakopmund op Tripadvisor en ons is trots daarop, ons kos en ons geel bus.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!