’n Klein skool met groot rugbyharte

‘Sport speel ’n groot rol in ons onderrig’
'n Skool op Stampriet wat sowat twee jaar gelede sy deure geopen het, het onlangs sy eerste oorwinning in 'n skolerugby-ligafinaal behaal.
Kristien Kruger
Roots Gymnasium het vanjaar tydens sy heel eerste deelname aan die Standard Bank NSSR skolerugby-liga as wenners uit die stryd getree.

Dié skool het in die o.14 B-ligafinaal teen die rugbyreuse Windhoek Hoërskool (WHS) te staan gekom en die Windhoekers met vyf punte (26 - 21) geklop.

“Dit is ’n gevoel wat mens vir niemand kan beskryf nie. Ek is bitter trots op hierdie groep seuns wat ongelooflike deursettingsvermoë gewys het en ingekoop het in ons span se visie. Toe die eindfluitjie blaas het ek geweet al die uitdagings (siekte, beserings, tekort aan spelers) wat ons gedurende die jaar moes deurstaan, die moeite werd was om teen die einde die voorreg te kon hê om die beker op te lig,” het die span se afrigter, Jandre van Wyk, gesê.

Roots spog ook met die betrokkenheid van die welbekende rugbyspeler Jacques Burger, wat hand bysit met die rugby.

Die skoolhoof van Roots se primêre skool, Annelie Liebenberg, het ook haar trots uitgespreek.

“Sport speel ’n groot rol in ons onderrig by die skool. Aan die begin van die seisoen het ons sekere doelwitte gestel en wou graag sien dat die o.14-span in die semifinaal speel. Om die liga te wen is vir ons ’n groot eer.”

Meyer het ook Van Wyk se lof besing vir sy harde werk en toewyding.

“Hy en sy span het skitterend op en van die veld presteer. Seuns met karakter word hier gekweek. Ons is nederig trots op hierdie prestasie. Sport by Roots Gymnasium is baie gesond,” meen sy.

’N SKOOL WAT GROEI

Roots Gymnasium is slegs twee jaar en agt maande gelede gestig en het met graad 00 tot graad 7 begin. Hulle het sedertdien gegroei en sluit nou ook graad 10 in. Die skool se bestuur beoog om volgende jaar ook graad 11 te akkommodeer.

“Roots toon tans ’n gemiddelde groei van 124% per jaar,” spog Van Wyk wat ook aangestel is as die skool se departementsbestuurder van sport.

Die skool het tans 17 klaskamers, ’n administratiewe vleuel, ’n koshuis vir seuns en meisies en sportgeriewe wat een rugbyveld insluit.

Vanaf o.7 tot o.14 is daar 43 leerlinge wat rugby speel, waarvan slegs 13 seuns in die hoërskool is.

“Daar is heelwat uitdagings met ’n klein skool wat besig is om te groei, maar soveel positiewe aspekte soos byvoorbeeld om die kultuur te vestig en ’n liefde te kweek tussen onderwysers en leerlinge wat lus is vir skool en sport.”

Van Wyk het ook aan Republikein gesê die skool het die vooruitsig om gerekende sportsterre op te lewer wat op beide nasionale en internasionale vlak kan meeding.

“Ons het groot drome vir ons rugby, maar ook vir al die ander sportsoorte wat ons aanbied. Ons streef daarna om vir ons leerlinge soveel geleentheide as moontlik te skep om hulle optimaal te ontwikkel en te kondisioneer.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer