’n Viering van vrouwees

Iréne-Mari van der Walt
“Ons het nog altyd gehoop dit is nie net ’n swembroek wat mense koop nie, maar eerder ’n ervaring en susterskap waarvan jy deel word,” sê Lî Rossouw, een van die eienaars van Cheeky, ’n plaaslike besigheid wat swemklere verkoop en môre sy eerste verjaardag sal vier.

Nadat Air Namibia gelikwideer is moes Lî en haar sakevennoot, Belinda Hoebes, wat as vlieëniers vir die nasionale lugredery gewerk het, dringend ’n plan beraam om die pot aan die kook te hou. Hulle het toe hul gedeelde liefde vir die son en ’n dag langs die swembad in ’n besigheid omskep en só het Cheeky gestalte gekry.

“Die droom is eintlik in die grendeltydperk gebore. Ek het toe nog ’n woonstel in ’n kompleks gehuur wat ’n swembad gehad het. Ek en Lî het soortgelyke sienings gehad oor hoe ons daardie tyd wou bestee. Ons het elke dag langs die swembad deurgebring en Lî het elke dag ’n ander swembroek aangehad. Ek is ’n vrou met kurwes en ek het haar vertel van my uitdagings met swemklere en Lî het raad gegee. Ek dink die saadjie is reeds daar geplant,” sê Belinda.

“Ons ontwerp die kostuums self en kies self die materiaal en kleure, maar die swemklere word in die buiteland vervaardig. Ons volgende doelwit is om soveel as moontlik van ons produksieketting plaaslik te vestig,” sê Lî. Sy sê hulle fokus was nog altyd om ’n gehalteproduk – wat luuks lyk en voel – te bied.

“In die begin kon dit dalk gelyk het of ons vol selfvertroue was en so goed gedoen het, maar die waarheid is dat ons niks geweet het nie. “Ons het geleer soos ons gevorder het en nou is ons op daardie punt waar ek vir myself kan sê ek is ’n besigheidseienaar en nie ’n amateur nie,” sê Lî.

Lî en Belinda het aan verskeie entrepreneurskap-kompetisies deelgeneem wat volgens Lî vir hulle ’n padkaart geskep het om hul eie besigheid te begin.

“Ek sou vir elke jong entrepreneur sê hulle moet net die eerste tree neem. Ons was wel onder geweldige druk omdat ons geen ander keuse gehad het nie. Maar daar is so baie hulp beskikbaar en so baie mense wat bereid is om te help,” sê Lî.

Die lewe van ’n sakevrou is volgens Lî nie so opwindend soos dit mag voorkom nie.

“Mense dink as jy jou eie besigheid het, ken jou geld geen perke nie en jy het baie tyd op hande. Die werklikheid is egter dat jy konstant moet dink aan hoe om die beste dinge vir jou besigheid met jou geld te doen,” sê Lî.

VIR ALMAL

Lî sê dat Cheeky geskep is met alle vroue in gedagte.

“Dit was nog altyd vir ons belangrik om inklusief te wees en te sorg dat elke vrou gemaklik en mooi kan voel. Ná ons die eerste keer ons produkte bekend gestel het, het iemand vir ons ’n boodskap gestuur wat ontevrede was omdat die grootste nommer ’n XL was.

“As ’n jong besigheid was dit belangrik dat ons soveel groottes as moontlik het, maar ons moes klein begin. Dit het vir ons gewys dat mense belang stel. Hulle was in die algemeen baie tegemoetkomend en waarderend en het ons nog altyd welkom laat voel,” sê Lî.

“Ek is baie trots op die feit dat ons ’n handelsnaam geskep het wat op vroue fokus. Ek wil hê hulle moet aan Cheeky dink en geïnspireerd voel. Ek wil hê vroue moet hulself liefhê en die liggaam aanvaar waarin hulle is. Ek glo elke lyf is ’n bikinilyf – jy hoef nie ’n sekere manier te lyk nie,” sê Belinda.

Lî en Belinda se toekomsplanne is om nog ’n verskeidenheid reekse bekend te stel en Lî sê daar wag nog ’n paar verrassings.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!