Foto Tanja Bause
Foto Tanja Bause

Namport wil Walvis se waterfront skuif

Iréne-Mari van der Walt
“Hulle is die pad byster.”

So het die eienaar van ’n besigheid by die Walvisbaaise waterfront, wat anoniem wou bly, gister gesê.

Dit volg nadat die Namibiese Haweowerheid (Namport) se uitvoerende hoof, Andrew Kanime, gesê het dat die besighede by die Walvisbaaise waterfront hervestig sal word om dié terrein beskikbaar te stel vir ’n nuwe waterfront-ontwikkeling.

Hy het gesê die informele sektor sal die eerste partye wees wat voordeel uit die skuif sal trek.

“Ons sal nuwe besighede by die Marina-ontwikkeling huisves en hierdeur teiken ons spesifiek ons informele ekonomie. Ons staatshoof sê altyd niemand moet agtergelaat word nie en dié ontwikkeling fokus op die klein- en mediumgrootte (SME)-sektor en die informele ekonomie.”

“Die projek om die waterfront te ontwikkel, is ’n groot, formele waterfront wat eienskappe van ’n grootskaalse eiendomsontwikkeling het. Die ontwikkeling is daarop gemik om die huidige informele waterfront by die aangrensende grond te behou. Dit is steeds gesogte seefront-eiendom,” het Namport se Elzevir Gelderbloem gesê.

Volgens die eienaar is hierdie die nuutste verwikkeling in die jare lange onstuimige verhouding tussen die ondernemings by die waterfront en Namport.

“Ons is aan die begin ’n tienjaarkontrak aangebied, maar na dit en vir die afgelope 18 jaar, gee hulle [Namport] ons net wat hulle ’n maand-tot-maand-kontrak noem. Hoe kan ’n maand-tot-maand-kontrak 18 jaar aanhou? Hulle hou ons nou al 18 jaar lank aan ’n lyntjie. Hulle maak net soos dit hulle pas,” het die eienaar gesê.

In Desember verlede jaar het Namport glo ’n vergadering met die betrokke besighede belê. Tydens die vergadering is die betrokke partye ingelig dat hulle teen April vanjaar briewe sou ontvang rakende hul huurkontrakte, maar die partye het tot op hede nog niks ontvang nie.

‘HULLE HET NIE GEDINK’

Die eienaar sê Namport het die ongeveer 30 besighede by die waterfront die kans gegee om aansoek te doen vir 13 plotte wat by die aangrensende grond uiteengesit is.

“Hulle sê dit is ‘voorlopig’, dus is dit ook net tot daar op daardie grond ontwikkel word.”

Volgens die eienaar beteken dit dat die huidige besighede pa sal moet staan om die huidige strukture by die waterfront te verwyder en om nuwe strukture by die Marina-ontwikkeling op te rig. Die eienaars sal ook nie tydens dié tydperk ’n inkomste kan genereer nie.

“Daar is ongeveer 300 mense wat by die waterfront werksaam is. Ons mense gaan vir minstens ’n jaar sonder werk sit in die tyd wat ons ons strukture moet verwyder en heroprig. Ons praat hier van ’n minimum van N$5 miljoen wat ons besigheid alleen sal verloor.”

Die eienaar van Namibia Dolphin and Seal Catamaran Cruises, Carol-Ann Oates, glo dié skuif kan die doodskoot vir talle besighede wees.

“Dié wat nie die geld het om hul kantore en restaurante te verwyder en weer te bou nie, sal dan sonder werk en ’n inkomste wees,” het sy gesê.

Die ontwikkeling van die nuwe waterfront sal volgens die eienaar ook die lank uitstaande riool- en waterkwessies aanvuur.

“Hulle het nie gedink nie. Hulle het hierdie prentjie van Kalifornië in hul koppe met die seiljagte wat in die water vasgemeer is, maar wat hulle vergeet is dat daar vier miljoen mense in Kalifornië is. In Namibië het ons twee miljoen mense in die hele land,” het die eienaar gesê.

Volgens die eienaar is verskeie van die besighede in die huidige waterfront vasbeslote om regstappe te neem.

ONPRAKTIES

Oates verduidelik na ’n besoek aan die Marina-ontwikkeling het die sake-eienaars se gemoedere verder gesak.

“My kliënte sal moet inry tot by die kantoor en ongeveer 100 meter tot by my moet stap en dan van ons kantoor af 600 m tot 700 m moet stap tot by die pier waar hulle op die boot klim. As jy in ag neem dat baie van ons toeriste ouer mense is, gaan dit moeilik vir ons wees. Toeriste moet baie ver stap en dus moet ons selfs vroeër in die oggend begin inboek,” het sy gesê.

Volgens Oates is die “nywerheidsomgewing” ook nie gepas vir besighede wat op toerisme gemik is nie.

“Ons kantore is veronderstel om ’n ontspannende atmosfeer te hê, maar met die trokke wat daar verbyry en die geraas kan ons selfs nie ons fone antwoord nie. Toe ons daar was, moes ons mense vra dat ons hulle later sal terugbel weens al die geraas," het sy gesê.

Die grootte van die Marina-persele is volgens Oates en die eienaar ’n bron van kommer.

“Die perseel is net groot genoeg vir ’n vraghouer. Jy kan nie mense daar ontvang nie,” het Oates gesê.

VOORSTEL

Oates meen dit sal meer sin vir die sakegemeenskap maak om die huidige waterfront op te knap.

“Hoekom kan hulle ons nie net hier los nie? Dit sou meer sin maak as hulle die parkeerterrein opknap en vir die smouse ’n ordentlike struktuur oprig waar hulle hul produkte kan smous. Veral in die wintermaande sal dit baie help as hulle ’n netjiese plek het wat hulle teem die koue beskerm. Daar is ’n sjarme aan die waterfront soos hy nou is en dit is waarvoor mense kom,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 28° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 22° | 37° Oshakati: 24° | 36° Ruacana: 20° | 37° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 21° | 34° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 16° | 30° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 26° Lubumbashi: 17° | 28° Mbabane: 17° | 23° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 18° | 24° Lilongwe: 19° | 31° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!