Okahandja-inwoners soek klagskrif terug
Protesaksie word vandag verwag
Niks het gekom van petisies gerig aan die munisipaliteit, minister en eerste minister nie, nou wil ontevrede inwoners die klagskrif direk na die president neem.
Die inwoners van Okahandja ruk weer vandag op na die munisipaliteit op dié dorp, dié keer om hul oorspronklike klagskrif terug te vra.
Die ontevrede inwoners word sedert verlede jaar van bakboord na stuurboord gestuur in ’n poging om die bestuur van die dorp reg te ruk.
Seth Gariseb, ’n gemeenskapsaktivis, sê: “Ons gaan ons petisie terugvat en ons sal dit direk na die president neem.”
Die klagskrif is sowat ’n jaar gelede aan die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, in Windhoek oorhandig asook later aan die kantoor van die eerste minister, Saara Kuugongelwa-Amadhila. Die klagskrif is na Uutoni teruggestuur, wat dit na die dorpsraad verwys het.
Gariseb sê die ontevrede inwoners soek nou die oorspronklike dokument terug.
’n Gebrek aan dienste, veral water en riool, krag en grond, is boaan die lys van eise.
Inwoners van die RCC Kamp, waar sowat 20 huisgesinne woon, wag op die balju om hulle te kom verwyder. Die grond waarop hulle bly is goedkoop onder hulle uitverkoop, sê die inwoners.
“In Promised Land en by RCC Kamp sal hulle weer ná die (2024) verkiesing mense kom verwyder. Ons wil nie hê wat in Katima gebeur het, moet in Okahandja gebeur nie,” voeg Gariseb by.
In September verlede jaar is inwoners van nedersettings in Katima Mulilo van die grond verwyder, en hul huise is met stootskrapers platgestoot.
Else Kehinana bly al die afgelope 21 jaar in die RCC Kamp. Sy onthou die huise is vir werknemers gegee sodat hul gesinne iewers kon bly terwyl die werkers landswyd na padwerke ontplooi is.
Volgens haar het al die gesinne toe reeds by die munisipaliteit aansoek vir die grond gedoen, maar niemand het ooit terugvoering ontvang nie. “Ons wat jare hier sit, hoe moet ons nou opstaan en na ’n ander plek gestuur word?” vra sy.
“Hoe kry hulle dit reg om ons ashope toe te stuur?” wil sy weet.
“Ons betaal ons water en het destyds al erfnommers gekry. Ons het selfs die minister ingeroep, en hy het in 2019 gekom en ons huise besoek. Hy het gesê dit is waardige huise,” vertel sy.
Evelina Ndueliwa onthou hoe sy in 1995 by die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) begin werk het en haar huis in 2003 by die staatsonderneming gekry het.
“My huis is hier en my familie is hier, insluitend vyf kinders wat nog skoolgaan. Ons het reeds dienste hier, hoewel nie krag nie. Ons weet nie waarheen ons gaan nie. Die ashoop is kilometers ver,” brei sy uit.
Die munisipaliteit se plan is om die inwoners van die RCC Kamp by die dorp se vullisterrein te hervestig.
Gariseb sê verskeie burgerlike organisasies wat verskillende dele van Okahandja se inwoners verteenwoordig, sal vandag ook aan die protesaksie deelneem.
Verder sal die bekende plaaslike musikante Jericho en Dixon ook hulle ondersteuning kom toon, sê hy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie